Nege Ster-Kinekor-bioskope se ligte permanent verdof

Fliek

(Foto: Geoffrey Moffett/Unsplash)

Ster-Kinekor, een van Suid-Afrika se oudste rolprentteaters, het vandeesweek bevestig dat hy genoop is om afleggingskennisgewings aan 236 werknemers uit te reik en gevolglik nege teaters permanent te sluit.

Die rolprentgroep het aan verskeie plaaslike publikasies, insluitende IOL se Business Report, gesê kennisgewings is aan alle betrokke personeellede uitgereik waarin hulle ingelig is oor die maatskappy se voorneme om voort te gaan met ‘n herstruktureringsoefening kragtens Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Poste in die uitvoerende hoof se kantoor, bemarking, verkope, menslike hulpbronne, inligtingstegnologie, sakebedrywighede, inhoud, finansies, streekbedrywighede én rolprentteaters word volgens Sterk-Kinekor hierdeur geraak.

Dié besluit kom te midde van die impak van dalende bywoningsgetalle, beurtkrag en die opkoms van stroomdienste in Suid-Afrika.

Ook die Hollywood-stakings het volgens Ster-Kinekor veroorsaak dat verskeie rolprente wat vanjaar die lig moes sien, eers in 2025 in teaters gaan kan draai.

Dié afleggings kom ’n paar maande nadat die maatskappy, wat nou deur die Britse gebaseerde Blantyre Capital en Greenpoint Capital bestuur word, uit sakeredding gekom het.

Die nege liggings van bioskope wat vir sluiting geoormerk is:

  • Bayside (Wes-Kaap)
  • Boardwalk (KZN)
  • Mimosa (Vrystaat)
  • Shelly Beach (KZN)
  • Matlosana (Noordwes)
  • Cedar Square (Gauteng)
  • Maponya (Gauteng)
  • Southgate (Gauteng)
  • Sterland (Gauteng)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pieter ·

sterland is seker een van die bekendste teaters, wat ek kan onthou in my studente dae.
Dis jammer , maar it is ook deesdae onbekostigbaar om n rolprent te gaan kyk

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe het die Sterland omgewing nie verval nie.

Anel ·

Gewonder hoe lank hulle gaan oop bly. Gewone mense kan al lankal nie meer bekostig om te gaan fliek nie. Ook net in Suid Afrika wat so iets gebeur!!!

SjN ·

Pryse het buite verhouding gestyg, wat my verstand te bowe gaan, 1 x 250ml koeldrank kos meer as n 2 liter in die supermark, en hul moet ook wins maak, om as gesin n rolprent te gaan kyk kos baie.

Niel ·

dis jammer dat so iets moet gebeur.. maar ja, deesdae is dit net goedkoper om eerder te Netflix/prime/disney te stream en alles te kyk wat jy wil kyk. Vir ons wat Doof is – meer prefek want dan is daar onderskrifte op die flieks.. by die bioskope is daar nie onderskrifte nie.. dus mis ons uit wat daar gepraat word ens. Maar op die plus kant, die bioskope sit nou met ‘n prefekte “amfi-teater” vir optredes, musiek konserte ens wat mense kan gaan besoek. Daar moet die winkelsentrums kreatief wees om te kyk hoe hulle die spasie kan benut vir iets anders.

Jakkie ·

Ai. Baie Vrydae klas gebank as nuwe films by Sterland begin draai het. Ferris Beuller’s Day off, The Name of the Rose om ‘n paar te noem wat ek onthou. Tragies………

Toergids ·

Die pryse en aanbieding van rolprent teaters het maar bietjie styf geraak, goeie voorbeeld is die spring mielies en kaartjies wat ‘n behoorlike hap uit jou begroting vat, vir dieselfde prys kan jy ‘n persoonlike toer by die Voortrekker Monument kry, drie ure van spanning en komedie

Mariana ·

My kleinseun gaan fliek graag maar nou doen hulle dit ook net een maal in skrikkeljaar want dit is buitensporig duur. Hulle betaal R500 vir 2 kaartjies en dan moet daar nog die springmielies en koeldrank en sjokolade ook by wees en als is buitensporig duur. Hulle het self ook deel aan die sluitings of die redes daarvoor.

Gaitsigubib ·

By sterland se booste parkeerarea kan jy om die kant loop dan is daar traliewerk voor die teater se agterdeure, maar jy kan maklik om dit klim, dan kan jy by die teater insluip nadat dit begin het. Ek hoor dit net by ander oudstudente, so moet nie my woord vat nie…….

Keelvol ·

Ster-Kinekor het onbekostigbaar geraak. Amper R300 as net ek alleen gaan fliek. Ek kyk maar eerder by my huis fliers. Baie goedkoper.

Sandra ·

Ek stem, om te fliek is duurder as om uit te eet. Ek kyk eerder fliek in my eie huis met my eie popcorn en koeldrank

JohanR ·

Sterland is nou gelee in ‘n gemors Mall. Jy sien nie meer die mense met geld in die sak daar nie. Soe nie verbaas hy gaan toemaak.

George ·

@SjN, as ons family van 5 gaan, is dit lag lag oor n R1000 uitstappie. Amper R600 net vir die kaartjies, en as ons elk n combo vat dink ek dis amper R80 vir n med coke en med popcorn. Sit n chocolate by waarvoor hul jou R22 charge. Dis duur. Maar lekker

Olive ·

Gaan nie net oor die koste nie, dit is net nie meer ‘n plesier nie. Dis maar grillerig om in daai stoele gemaklik te sit en dan kom ons ook by ander geriewe wat nie meer veilig is nie. Ons mis dit gewis, maar dis ook nou maar nog net een van die lekker dinge wat verlore gaan.

Ronel ·

Baie lekker om te gaan fliek maar dit het onbekostigbaar geraak! So jammer!!

Janine ·

Ster Kinekor is seker die duurste fliek maatskappy in Suid Afrika. Dit is net te duur om te fliek en aangesien dit vir meeste mense ‘n luukse is, gaan bitter min mense soontoe

Marius ·

As skoolleerling en student het ons altyd Sterland toe gegaan. Ongelukkig het dit, soos al die ander plekke in Sunnyside in n kriminele hool verval. Mense is geroof en aangerand in die parkeer areas ens.

Dit is hartseer dat dit gebeir het, maar onafwendbaar dat die plek moes sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.