NGV gaan gesondheidsorg ‘maak of breek’

(Foto: GCIS)

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het die potensiaal om Suid-Afrikaanse gesondheidsorg te maak of te breek, afhangende van die sterkte van sy grondslag, sê die Health Funders Association (HFA).

Dié drukgroep verwerp die wetsontwerp op NGV in sy huidige vorm en meen universele gesondheidsorg kan slegs werk mits die staat gebruik maak van die wêreldklasvaardighede en ondervinding in mediese befondsing wat binne Suid-Afrika se private sektor aangebied word.

“In wese wil ons almal dieselfde ding hê – ʼn funksionele gesondheidsorgstelsel van gehalte wat binne bereik is vir almal,” sê Phumelele Makatini, uitvoerende hoof van die HFA, ʼn liggaam wat ongeveer 73% van oop mediese skemas en 50% van die totale mediese skema- lidmaatskap in Suid-Afrika verteenwoordig.

Makatini wys daarop dat slegs hoë-inkomstelande oor gesondheidstelsels beskik wat hoofsaaklik deur openbare fondse gefinansier word. “Elders in die wêreld dra private befondsing by tot die bereiking van universele gesondheidsdekking.”

Makatini sê daarom die staat het die private sektor broodnodig.

Makatini wys daarop dat mediese skemas in 2021 R225 miljard se lidmaatskapbydraes ingesamel en meer as 91% hiervan vir lede se mediese behandeling uitbetaal het. “Hierdie doeltreffendheid in private gesondheidsorgbefondsing vervul ʼn niewinsgewende maatskaplike solidariteitsmandaat om op groot skaal na lede se gesondheid om te sien.

“ʼn Lid van ʼn mediese skema wat op ʼn diabetesprogram is of wat byvoorbeeld asma het, se voordele vir hierdie toestande kan nie opraak nie en enige lid wat ʼn noodgeval beleef, is ten volle gedek, ongeag hoeveel hulle geëis het. Die beskikbaarheid van hierdie voordele dra daartoe by dat Suid-Afrikaners slegs 5% van alle gesondheidsuitgawes uit hul eie sakke betaal.

Dit terwyl hoër-middel-inkomste lande 31% betaal, volgens die Wêreldbank data.

“Daar is aangedui dat die NGV geleidelik in ʼn gefaseerde benadering geïmplementeer sal word. Soos ons almal weet, is toegang tot gesondheidsorg nie iets wat ʼn persoon noodwendig kan bekostig om jare voor te wag nie. Selfs wanneer die NGV funksioneel is, kan dit dekades duur voordat dit toegerus is om die omvattende kwaliteitsorg te bied wat ons almal vir ons gesinne sou wou hê.”

Dit is waarom die staat mediese skemas benodig.

“Ons ondersteun die behoefte aan universele gesondheidsdekking ten volle en glo dat daar geen tyd is om te verspil om die uitgebreide ervaring en kundigheid van openbare en private belanghebbendes te benut sodat ons saam kan bydra tot die ontwerp van die beste moontlike weergawe van NGV nie.

“Intussen verlig lede van mediese skemas druk op openbare gesondheidsfasiliteite deur onbeperkte dekking vir chroniese toestande en sowat 300 algemene gesondheidstoestande in die private sektor te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nommer 7 ·

Mediese fondse plunder alreeds. Ek betaal sowat RR85,000 pj vir my mf. Na dokters en medisyne eise van sowat R7,000, is ek alreeds uitgeput en moet inbetaal.

Zonnebloem ·

Nee wat Nommer 7, mediese fondse plunder nie. Mediese kostes is wereldwyd baie, baie hoog. Dit is omrede dit ‘n skaars kommoditeit is en te min dokters, verpleegsters wereldwyd. Dit is ongelukkig so dat, hoe groter die aanvraag en hoe skaarser die produk, hoe duurder is dit. R 85000 pj vir familie lyk normaal, nie baie hoog nie en dis waarskynlik net hospitaal plan? Vir gesin van se maar 4 lede is dit nie sleg nie.

Piet ·

Die R85k is vir vir 2 pensioenarisse. Myne is uitgeput. En, dit is op die laagste skaal net voordat jy oorgaan op net ‘n hospitaalplan.

Karoo ·

Ek is al sedert 1983 (30 jaar) deel van privaat medies. Ons moes ons rieme mooi sny en ek hoop en bid ek kan dit nog oor 10 jaar bekostig. Dan, wanneer ons dit op hoe ouderdom die nodigste gaan he weet ons egter nie of daar nog spesialiste en dokters gaan wees wat ons sal kan help nie.

Jacobus ·

Hierdie korrupte ANC bende kon nog nooit iets maak nie, alles waarmee hulle betrokke raak verander in n riooldam. Die ANC bende reis dan na Rusland vir medies so waarom sal hulle omgee weer net n verkiesings belofte.

Andries ·

Hierdie is nog ‘n ramp wat wag om te gebeur. Daar is soveel bewyse dat die regering alles opbogger, nog sal hul volhard in hul wan-opgevatte idees.

Shakespeare ·

Opneuk is die regte woord. Wat verwag ons van korrupte onbevoegde kader leierskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.