Niks snaaks aan eerste matriekvraestel

Argieffoto.

Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen het Maandag amptelik vir vanjaar se matriekgroep afgeskop en altesaam 755 981 matrieks het by eksamensentrums landwyd aangemeld om Engels eerste addisionele taal te skryf. Leerders en onderwysers het die vraestel as “goed gebalanseerd” beskryf, met vrae wat gewissel het tussen “baie moeilik” en “baie maklik”.

Die Engelse vraestel het uit vier afdelings bestaan waarin begrip, opsommingsvaardighede, visuele geletterdheid en taal getoets is.

ʼn Vakkenner verbonde aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê daar was niks buitengewoon vreemd aan die vraestel nie. “Die begripstoets en taalgedeelte was billik. Die opsommingsgedeelte was baie lekker en relevant vir die ouderdomsgroep en die spotprent was kreatief, met versteekte humor.”

ʼn Onderwyser van ʼn skool in Pretoria stem saam. “Die begripstoets was baie relevant en op die leerders se belangstellingsveld gegrond. Die taalgedeelte was baie billik en vrae goed gebalanseerd. Dit was ’n goeie en regverdige vraestel.”

Nog ʼn onderwyser van Pretoria sê egter die begripstoets kon dalk vir sommige leerders moeilik gewees het.

“Die begripsteks was taamlik ingewikkeld. Die taal in Teks A was moeilik en nie verwant aan die kandidate nie. Teks B het sterk gesteun op agtergrondkennis en interpretasie van visuele leidrade,” sê die onderwyser.

“Vraag 1.9 was onredelik moeilik aangesien dit gesteun het op ʼn begrip van moeilike woorde en konsepte voordat die kandidate hul eie mening kon begin formuleer. Die moeilikheidsgraad van die res van die vrae was egter billik en het al die kognitiewe vlakke gedek.”

Volgens die onderwyser was die res van die vraestel billik.

“Leerders het betyds klaargemaak. Die inhoud wat gedek is, was in ooreenstemming met die kurrikulum en het alle kognitiewe vlakke redelik gedek.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Met n slaagsyfer van 30% kan dit seker nie te maklik wees nie?

VaalDonkie ·

Ek het in 2000 matriek geskryf. Ek is tot vandag nog kwaad oor die feit dat ons met BIologie begin het, en toe Wiskunde 1 en 2 en Natuur en Skeikunde in die tweede week gehad het, en toe het ons TIEN DAE af gehad voordat ons Engels 3 (oftewel “written work”) geskryf het. Op watter planeet het mens tien dae nodig om voor te berei vir Engels 3, maar jy moet al die wetenskaplike vakke in een week doen?

Piet 6 ·

Ek het nogal daarvan gehou dat Wiskunde en Natuur en Skeikunde eerste was. Dan was daar genoeg leertyd vir die moeilike vakke.

Leon ·

Dit is nie veronderstel om “snaaks” te wees nie , dit is n eksamen nie nie Comic nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.