‘Noem dit eerder Werkloosheidsdag’

(Foto: Hennie Stander/Unsplash)

Is dit dalk die toppunt van ironie: eers Vryheidsdag op 27 April, toe Werkersdag op 1 Mei?

Kom ek sê vir jou: vryheid beteken bitter min sonder werk,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

Steenhuisen het Woensdagoggend in Lentegeur in die Wes-Kaap ter herdenking van Werkersdag Kapenaars daaraan herinner dat die werkloosheidsyfer in 1994 op 20% gestaan het.

Vandag staan dié syfer op 32,1%.

“En dít styg tot meer as 40% as jy mense insluit wat moed opgegee het om ooit werk te kry,” sê Steenhuisen.

“Uit elke tien jongmense wat werk soek, sal sewe nooit werk kry as dinge bly soos dit is nie. Volgens die uitgebreide werkloosheidsyfer kan meer as 11,7 miljoen mense nou nie werk in Suid-Afrika kry nie.”

Steenhuisen sê Werkersdag in Suid-Afrika het dus eerder ’n ander naam nodig.

“Vanweë die ANC se nalatenskap om werksgeleenthede te vernietig, moet vandag nie Werkersdag genoem word nie. In Suid-Afrika is dit vandag Werkloosheidsdag.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ’n soortgelyke boodskap in sy Werkersdagtoespraak gehad.

“Onder die ANC-regering het ekonomiese agteruitgang in Suid-Afrika só skerp toegeneem dat die dag eerder Werkloosheidsdag genoem moet word.”

Groenewald sê werkskepping kan nie gebeur indien regeringsbeleid nie verander om ’n gunstige omgewing vir beleggers te skep om die ekonomie te laat groei nie.

(Foto: Steward Masweneng/pixabay)

Groenewald sê “onbuigsame arbeidswetgewing” is een van die grootste hindernisse in die pad van ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika.

“Nie net is dit moeilik om onbekwame werkmense uit diens te stel nie, dit is ook ’n voortdurende stryd om aan transformasieteikens te voldoen.”

Die VF Plus is oortuig Suid-Afrika kan slegs weer opgebou word deur werkskepping wat deur ’n gesonde ekonomie gestimuleer sal word.

“Die staat kan nie werk skep nie,” sê Groenewald.

“Arbeidswetgewing moet aangepas word om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou moet word.

“Stakings en in besonder onwettige stakings wat tot die verlies van honderdduisende werksgeleenthede lei, moet daadwerklik beperk en verbied word.

“Vakbonde se mag moet ingeperk word en hul onverantwoordelike optrede wat tot werkverliese lei, moet met kragtige wetgewing verhinder word.

“Transformasieteikens en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) moet uit regeringsbeleid verwyder word. Dit sal die private sektor aanmoedig om die bes moontlike personeel aan te stel om ekonomiese groei te bevorder,” sê Groenewald.

Herman Mashaba, leier van ActionSA, het vanoggend op sy beurt tydens ’n geleentheid in Johannesburg gesê die regerende party het Suid-Afrikaanse werkers gefaal deur toe te laat dat veiligheidswagte en skoonmakers deur onnodige middelmanne benadeel word, terwyl vakbonde politieke verbintenisse bo die behoeftes van werkers kies.

“Vir te lank is Suid-Afrikaanse werkers onderwerp aan mishandeling weens die korrupte, gulsige en mislukte beleid van die regerende party.

“Ons sal egter slegs die regte van werkers kan beskerm en die onafhanklikheid van vakbonde kan herstel as ons stappe doen om die regerende party te verwyder en op 29 Mei vir ’n geloofwaardige alternatief stem,” meen Mashaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

O wee my die ANC het geen begrip….behalwe verwoes en roof en verniel….etc nie

Papsak ·

Ek stem dit nie werkersdag nie maar werkloosheidsdag dit maak sin kyk hoeveel van ons en hulle mense sit in armmoede en glad nie werk nie dan wil hy kom se dit is vooruitgang agteruitgang my ou ten sterkste skrik wakker voelverskrikker ??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.