Nog afleggings by Sibanye

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Sibanye-Stillwater het vanoggend die derde afleggingsproses binne ʼn jaar by sy myne aangekondig.

Hierdie keer word 1 794 werknemers en 915 kontrakteurs deur die afleggings geraak.

Volgens die afleggingskennisgewing word Sibanye se Beatrix 1-skag, Kloof 2-aanleg, die Burnstone-projek en sentrale dienste geraak.

Sibanye skryf die afleggings toe aan die lae platinumgroepmetaleprys (PGM) en gepaardgaande finansiële verliese.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is die afleggings sowel as die tydsberekening daarvan onaanvaarbaar.

“Solidariteit is uiters teleurgesteld en vind dit veragtelik dat Sibanye weer eens ʼn groot aantal van sy werknemers, kontrakteurs en hul afhanklikes in onsekerheid en armoede gaan dompel,” sê Du Plessis.

Die vakbond bevraagteken ook die tydsberekening van die afleggings, wat net voor die aanvang van salarisonderhandelinge sal plaasvind.

“Buiten dat die goudprys tans baie hoog is, ontken Solidariteit nie die ander ongunstige marktoestande, lae PGM-pryse en addisionele uitdagings wat Eskom en die stand van dienslewering in die land bied nie,” sê Du Plessis.

Hy meen dit is veel eerder die Sibanye-hoës se koppe wat moet rol.

“In 2021 het Neal Froneman in reaksie op sy R300 miljoen vergoedingspakket gespog hoe Sibanye onder sy leiding die vonke laat spat het, terwyl dit bloot gunstige marktoestande en werknemers se harde werk was wat tot hul goeie prestasie gelei het.

“Noudat dit, buiten die gunstige goudprys, moeilik gaan, kry alles behalwe die Sibanye-leierskap die skuld vir die swak prestasie.”

Du Plessis sê voorts dit is ironies dat Harmony Gold, wat in dieselfde omgewing as Sibanye goudmyne bedryf, baie goeie finansiële resultate oplewer.

“Harmony se aandeleprys bly styg en daar is pas ʼn vyfjaar-loonooreenkoms met vakbonde gesluit waarvolgens Harmony se werknemers deurgaans inflasieverwante verhogings oor die volgende vyf jaar sal ontvang.

“So het Harmony 13 jaar laas ʼn afleggingsproses van stapel gestuur. Terwyl Harmony se leierskap die krediet moet kry vir die maatskappy se sukses, is dit nou tyd dat Sibanye se leierskap verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle eie swak bestuur.”

Die Sibanye-afleggingskonsultasie sal deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer word, maar Solidariteit sal eerstens versoek dat die konsultasie eers ná die salarisonderhandelinge plaasvind.

“Daarna sal die afleggings teengestaan word, en Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om sy lede se werk te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nicky ·

Sibanya is n korrupte spul hire en fire is hul leuse na n jaar kon ek dit nie meer hou nie, wat hulle doen is om jou te die graadeer dan kry jy n kwart van die bonus en voordele en jou salaris word gesny in tussen kry die groot koppe groot salaris en honderde duisend bonus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.