Nóg eis Paarlse bevelvoerder se kop ná ‘rassistiese’ uitlatings

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die vakbond Solidariteit is verbaas dat brig. Nokuthala Pete, stasiebevelvoerder van die Paarl-polisiestasie in die Wes-Kaap, nog nie geskors is ná beweerde rassistiese uitlatings wat sy verlede jaar op sosiale media gemaak het nie.

Solidariteit is een van verskeie organisasies wat eis dat Pete afgedank word nadat sy onder meer gesê het die Paarlse polisie is te wit.

ʼn Storm het om Pete se kop losgebars nadat sy in Desember verlede jaar in kommentare aan ʼn medegebruiker op Facebook gesê het die Paarlse polisiestasie het juis ʼn luitenant-kolonel in die finansiële afdeling nodig en dat sy dié oorplasing sal afteken sodat sy “hierdie wit heerskappy” (white supremacy) kan verander, omdat die “Paarl wit is”.

Sy het dié plasings sedertdien verwyder – maar nie voordat skermskote daarvan geneem is nie.

Kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat ʼn interne ondersoek na die voorval begin is. Hy het egter nie daaroor uitgewei nie.

Ronel Stander, netwerkorganiseerder by Solidariteit in Bellville in die Wes-Kaap, sê die interne ondersoek het wel ʼn prima facie-saak bewys.

“Die ondersoek is al langer as ʼn maand terug na die provinsiale kantoor gestuur met die versoek van skorsing, asook die aanstelling van ʼn verhoorspan om die saak te hanteer.

“Rassisme is een van die ernstigste oortredings binne die SAPD en die werkgewer is gewoonlik baie vinnig om op te tree teen diegene wat hulself skuldig maak aan beweerde rassisme of self vals rassisme.”

Stander sê voorts Pete is in ʼn posisie waar sy te alle tye ʼn voorbeeld vir haar lede en die gemeenskap moet stel.

“Haar uitlatings is uiters onaanvaarbaar en kan nie geduld word nie. Die feit dat haar uitlatings op sosiale media gemaak is, vererger die graad van die beweerde oortreding.

“In gevalle soos hierdie waar die bewerings van ʼn ernstige aard is, maak die SAPD se dissiplinêre regulasies voorsiening vir ʼn versnelde proses waar die beweerde wangedrag onmiddellik aangeraak kan word. Die betrokke lid kan dus ontslaan word indien hy of sy skuldig bevind word.”

Volgens Stander is Pete nog tot 29 Januarie met verlof en dien sy steeds as die stasie se bevelvoerder. Daar is glo ook nog nie ʼn dissiplinêre verhoorspan aangestel nie.

“Ons verneem dat hulle ʼn span van buite die Wes-Kaap gaan aanstel.

“Indien die provinsiale kommissaris nie binne hierdie week die nodige stappe instel nie, sal Solidariteit nie skroom om van alternatiewe platforms gebruik te maak om toe te sien dat geregtigheid geskied nie. Die moontlikheid van ʼn hofinterdik word nie uitgeskakel nie,” het Stander gesê.

Action Society het intussen ook geëis dat die dissiplinêre proses teen Pete bespoedig word.

“Pete moes polisiebeamptes gemotiveer en verenig het in die stryd teen misdaad, maar het in plaas daarvan rassespanning aangevuur en polisiemoreel beskadig in ʼn gebied waar daar reeds ernstige tekorte aan ondersoekende hulpbronne is,” het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, gesê.

Volgens Cameron het Pete kort ná die Facebook-voorval siekteverlof geneem en ook haar jaarlikse verlof verleng. Hy meen dit wek die indruk dat sy nie die gevolge van haar dade wil dra nie.

“Pete moet gaan. Ons het ʼn sterk en ervare stasiebevelvoerder nodig wat polisiebeamptes in die stryd teen misdaad kan verenig.

“As ons die misdaadstryd wil wen, het ons ʼn gemotiveerde, toegewyde polisiediens nodig wat deur mense met integriteit gelei word – nie mense met rasseagendas nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Althes ·

Ek eis ook dat sy geskors word. Ons is moeg vir rassediskriminasie waarmee hul absoluut wegkom. In werksverband is hul eie geregtig en slaan gou oor na hul etniese taal wanneer hul aangepraat word.

Leon ·

Sy word binnekort bevorder tot Genl. na aanleding van haar uitlating.

Papsak ·

Laat haar kop rol hulle is die rassiste nie ons nie wag om te sien wat gaan gebeur ons mag niks aan hulle se of doen nie dan is ons verkeerd maar wat doen hulle met ons tyd hier kom ons staan saam net vir een keer vir ons land asb

Minnie ·

Sy was my SK voor sy Paarl toe verplaas is. By ons was sy openlik rassisties……in vergaderings verwys na “You white members”. Al wat ek kan sê is “Karma seevier altyd ou Pete”
Interresante feit haar kinders is almal in Afrikaanse skole…..????

Prikkie ·

Ek dink dat sy dalk die mening van sommige van haar kollegas mag verwoord het.

Haar optrede neig na rassisme, alhoewel ek sien dat Minnie hierbo getuig dat sy “openlik rassisties” opgetree het.

Haar integriteit is nou erg onder verdenking.

Jacobus ·

Kla haar sommer by die MRK ook aan laat ons sien wat hulle, die MRK, gaan doen.

Brombeer80 ·

Dis n wetstoepasser wat die grondwet verontagsaam. So persoon hoort nie in daai amp nie.

Rudolph ·

Ek wonder maar hoekom die in die media is. Daar gebeur erger dinge in Eskom wat nooit die media of aksie van enige party onvang. Moet seker erens begin.

Danie ·

Beslis bevordering en talle aanprysings.Is dit nie ook n haatmisdaad nie?Dan kry jy nog diegene wat hulle ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.