Nóg ʼn stuk plafon val by Sandton City

Die standbeeld van oudpresident Nelson Mandela by die Sandton Square in Johannesburg.

Die standbeeld van oudpresident Nelson Mandela by die plein. (Argieffoto)

Twee konstruksiewerkers is Dinsdag beseer nadat ʼn gedeelte van ʼn plafon in ʼn leë winkel by Sandton City in Johannesburg ineengestort het.

Dit het gebeur skaars ʼn maand nadat ʼn klein gedeelte van ʼn plafon in die wandelgang tussen Sandton City en die Nelson Mandela-plein ineengestort het.

Nomzamo Radebe, uitvoerende hoof van JHI Properties, het namens Nelson Mandela Square Holdings in ʼn verklaring gesê die jongste voorval het om 12:15 in ʼn winkel op die boonste vlak langs die gemeenskaplike gebied van die plein plaasgevind.

“Die twee konstruksiewerkers het geringe beserings opgedoen en is op die toneel behandel. Geen klante is tydens die voorval beseer nie,” het Radebe gesê. Sy het gesê die gebied is dadelik afgesper om die veiligheid van klante te verseker.

In die vorige voorval, op 3 Junie, is een klant beseer wat mediese behandeling moes ontvang. Die voorval het omstreeks 15:10 plaasgevind en al die betrokke partye is dadelik ontbied en die gebied is beveilig en afgesper.

“Ons wil graag ons klante gerusstel dat die veiligheid van ons klante en winkeliers van uiterste belang is,” het Radebe bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Se Maar Net ·

Wie was die ingeneur?? Daar sal die oplossing kom, en wie was die maatskappy wat die verbouing gedoen het? Dit is onbevoegdheid van mense wat ander se lewens in gevaar stel.
Maar weereens sal daar 600 bladsye wees van verskonings.

scalla ·

Bee (pty) ltd en is intussen insolvent verklaar, die direkteure werk vir die sabc.

Se maar net ·

Niks nuut nie Scalla, almal van hulle het een of ander korrupte agenda!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.