Nóg planne om vinniger krag te koop

(Foto: Maroela Media)

Die vinnigste manier om meer megawatt tot die land se kragnetwerk te voeg is om te fokus op ʼn mengsel van sonkrag, windkrag en batteryberging en die regering werk voluit aan ingrypings – en die vermindering van burokratiese rompslomp – om dit so gou moontlik ʼn werklikheid te maak.

Rudi Dicks, hoof van projekbestuur in die presidensie, sê pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede opnuut benadruk dat die tekort aan krag dringend gepak moet word en dat daar nie ʼn nuwe plan bedink is nie, maar gewerk word om die bestaande een in werking te stel.

Benewens ekstra kapasiteit moet die prestasie van Eskom se kragsentrales ook verbeter word, sê Dicks.

“Hier is dit uiters belangrik vir ons as die regering om te sê dat ons nie van plan is om die operasionele, bestuur- of bedryfsverantwoordelikheid van Eskom te vervang of daarby in te meng nie.

“Eskom is ʼn instelling in eie reg en die departement van openbare ondernemings is sy aandeelhouer. Dit is belangrik.

“Wat ons doen is om vir Eskom te vra wat die regering kan doen om hom te ondersteun om sy opwekkingsherstelplan in werking te stel.”

Van die probleme by Eskom sluit in ʼn gesukkel om onderdele tydig te bekom, ʼn gebrek aan vaardighede en regulatoriese omslagtigheid wat die kragvoorsiener mank laat. Dicks sê die regering kan help om sulke prosesse te versnel, terwyl Eskom konsentreer op die prestasie van sy aanlegte en die herstel en instandhouding daarvan.

“Die idee is om Eskom te ondersteun sodat hy sy aanlegte as ʼn saak van dringendheid kan regruk en om enige burokratiese rompslomp uit die weg te ruim oor enigiets wat Eskom benodig.”

Dicks sê selfs al verbeter die prestasie van Eskom se aanlegte, gaan die kragvoorsiener steeds tyd en ruimte nodig hê om instandhouding te doen – en dat bykomende kapasiteit nóú nodig is.

“Die vinnigste manier is deur ʼn balans van son- en windkrag,” sê Dicks en die regering het reeds begin met ingrypings om dit gedoen te kry.

ʼn Netto-faktuurraamwerk oor sonkragstelsels op huise se dakke is volgens Dicks reeds afgehandel.

“Wat belangrik is, is om huishoudings aan te spoor om onafhanklik van die netwerk, of gedeeltelik onafhanklik van die netwerk, te wees. Dit is presies wat ons beoog: om soveel as moontlik huishoudings ten volle of gedeeltelik van die netwerk af te kry deur ʼn duidelike raamwerk hiervoor te verskaf.”

Dicks sê hulle werk ook saam met plaaslike owerhede om raamwerke hieroor te ontwikkel en hoe Eskom se verspreidingsnetwerk hierby moet inskakel.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting volgende week in sy begrotingsrede spesifieke intervensies bekend maak oor watter finansiële aansporing daar sal wees hiervoor.

Daar word veral gehoop op steun, deur byvoorbeeld ʼn belastingkorting, vir klein ondernemings wat in hierdie stadium die swaarste deur die voortslepende beurtkragkrisis getref word.

Wat kan dadelik gedoen word?  

Vincent Magwenya, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder. (Foto: GCIS)

“Baie mense stem nie met ons saam nie, maar die vinnigste manier om die uitwerking van beurtkrag te verminder, is om diesel te verbrand. Daar is geen ander opsie nie …,” sê Dicks.

Die nasionale tesourie en Eskom was reeds in gesprek hieroor en Eskom het toestemming ontvang om diesel vir die oorblywende maande van die huidige boekjaar te koop sodat beurtkragfases minstens laer gehou kan word, sê Dicks.

Eskom gebruik sy oopsiklus-gasturbines (wat diesel gebruik) om beurtkrag te beperk.

Eskom is ook aangesê om in die nuwe boekjaar behoorlik te begroot vir diesel sodat daar nie weer ʼn situasie ontstaan waar die geld hiervoor opdroog lank voor die boekjaar verby is nie.

Dicks sê Eskom sal groot nywerhede nog vandeesweek nader om enige surpluskrag by hulle te koop. Die ooreenkoms sal behels dat ʼn voorafooreengekome prys betaal word vir enige krag wat dadelik gelewer kan word. Dit geld vir krag wat dadelik beskikbaar is, en nie maande gaan duur om by die netwerk te voeg nie.

Eskom sal intussen ook kan voortgaan met noodaankope.

Só lyk beurtkragvooruitsig

Wisselende fase 3- en fase 4-beurtkrag sal intussen vandeesweek voortduur, sê Eskom.

Fase 4 sal daagliks om 16:00 inskop en tot 05:00 soggens duur en fase 3 sal daagliks tussen 05:00 en 16:00 geld.

Opwekkingseenhede by Arnot en Kendal moes die afgelope naweek vir herstelwerk van lyn gehaal word en die koppeling van ʼn eenheid elk by die Lethabo- en Hendrina-kragsentrale is vertraag. Eenhede by die Grootvlei- en Kriel-kragsentrale is intussen aanlyn gebring.

Eskom sal enige noemenswaardige veranderings in die beskikbaarheid van krag so gou moontlik bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Witbaard ·

Ons word aangemoedig om van die grid af te gaan, dit kos baie duisende rande maar dan word jy deur jou munisipaliteit belas omdat jy nie meer hulle krag gebruik nie.

Sandra ·

en jy betaal nie min vir die ‘beskikbaarheid’ nie. my broer is heeltemal van die grid af en betaal ‘n huis se prys daarvoor elke maand

Piet ·

Ja. Jy betaal nogsteeds vir daai koppeling by jou hek.
En as daar iemand hier is wat off grid is en dit nie betaal nie, by watter munisipaliteit is jy?

Hendrik ·

Heeltemal van Eskom netwerk af vir 7 jaar. Geen fisiese koppeling. Ons betaal niemand nie en is van Kleinfontein.

Jacobus ·

Al maak jy nie meer gebruik van jou gekoppelde krag nie en gebruik net sonkrag sal jy steeds moet betaal vir die koppeling. Dit is eenvoudig, die netwerk vir jou koppeling moet nog steeds instand gehou word sodat jy enige tyd weer gekoppelde krag kan gebruik. Vra die instansie om die kabel en alle toerusting van jou koppeling te verwyder dan sal jy geen elektriese rekening kry.

Aikie ·

Daar kan ‘n gedeelte van die oorhoofse befondsing bestee word aan huishoudings om minder krag te gebruik. Indien al die elektriese water verwarming stelsels deur sonkrag sisteme vervang word kan dit’ n beduidende persentasie vermindering in krag vir Eskom beteken.
Die elektriese water verwarming sisteem in jou huis verbruik in party gevalle tot 47% van die verbruik in die huis en as Eskom ten minste 25% van die huishoudelike krag kan spaar landwyd is dit al klaar ‘n reuse verandering.

Piet ·

My geyser is gekoppel aan ‘n rekenaar by die munisipaliteit waarvandaa HULLE die krag vir die geyser reguleer.

Jacobus ·

Dit is presies soos jy dit daar stel. Elektriese warmwatertoestelle is die grootste SPITSTYD VERBRUIKERS in enige huishouding met n geyser.

Elma ·

WIE gaan my help om van die grid af te kom?
ek wil baie graag, glo my.
Die “aanmoediging” se rande is nie in my sak nie, anders was ek laaaaankal af. Dom mense die.

Elma ·

en die “steun” aldus belastingkorting, sal weer onderhewig wees aan die ou bekende “RAS TICKBOX”.

Nettie ·

Ek wens iemand kan vir my verduidelik hoekom ons vir JARE beurtkrag slegs vir ‘n week of so op ‘n slag ervaar het, en skielik van September af, permanent?

Ek wens iemand kan vir my verduidelik hoekom ons “permanent op fase 2 is”, maar ons kry daagliks fase 3 en 4?

Ek wens iemand kan vir my verduidelik hoekom oop lug turbines suksesvol was om ons op fase 2 te hou, maar skielik, ‘n maand later, nie meer nie?

Ek wens iemand kan vir my verduidelik hoekom 2 fases afgewissel word ELKE dag, in plaas van ‘n stabiele fase gehandhaaf word vir minder chaos en impak?

Ek wens iemand kan begin om die VOLLE waarheid aan ons te vertel.

Jacobus ·

Ek wens ek kon my Selfoon No vir jou gee dan verduidelik ek vir jou alles. Dit is nie so ingewikkeld nie maar baie tegnies.

Andrew ·

Nou gaan sekere mense gil. Die diesel gaan moontlik nog teen n goei prys van Rusland kom, was mos n paar skepe hier onlangs.

Manie ·

Ek wed jou dat diesel pryse in Maart gaan styg en die rede wat die regering gaan aanvoer, is die wisselkoers.

Koos 100 ·

Dicks. Die beste ding wat die regering nou kan doen is om die ekonomie se stimuleer om groei aan te wakker. ‘n Beter rand dollar koers maak sonkrag komponente goedkoper om aan te koop. ‘n Laer rentekoers maak terugbetalings goedkoper op lenings om die sonkrag terug te betaal. Hoe lyk dit dan met belasting verligting vir mense wat hulle eie geld moet spandeer om die ANC se alie uit die moeilikheid te haal?

annie ·

Dicks? Van waar gehasie? Is hy nou die nuwe minister of die minister in die kantoor van die nuwe kragminister? Ons hou nie meer by nie… soos Eskom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.