Nog twee vas ná moord op metropolisiebeampte

(Argieffoto: Tshwane-metropolisie)

Nog twee mense is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn Tshwane-metropolisiebeampte verlede maand.

Konst. Mike Mtsweni is op 2 Oktober gekaap, vermoor en beroof. Hy was nie ten tyde van die voorval aan diens nie. Twee verdagtes wat in besit van sy gesteelde vuurwapen was, is kort ná sy moord in hegtenis geneem.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het die jongste inhegtenisnemings bevestig en verwelkom.

“Volgens beskikbare inligting is die twee verdagtes deur die Johannesburgse metropolisie se geheime reaksie-eenheid en die SAPD se misdaadintelligensie-eenheid in Olievenhoutbosch [ʼn informele nedersetting langs Centurion] in hegtenis geneem.

“Een van die verdagtes word ook daarvan verdink dat hy ʼn OTM-bomaanvalmeesterbrein is, terwyl die ander verdagte inligting aan amptenare verskaf het oor waar hulle die vuurwapen kan vind wat glo gebruik is om kost. Mtsweni mee te vermoor. Dit is veilig om te sê dat hierdie twee verdagtes waarskynlik gevaarlike misdadigers is, en dat hul inhegtenisnemings deur almal verwelkom moet word,” het Theunissen gesê.

Hy het die Johannesburgse metropolisie en die SAPD vir hul werk bedank om die verdagtes vas te trek.

“Om voor die hand liggende redes is my eie sentimente en dié binne die Tshwane-metropolisie sterk in hierdie geval, aangesien die bewerings teen hierdie individue met die moord op een van ons eie [mense] betrekking het.

“Ek wil ’n beroep op die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag doen om ’n sterk saak teen die verdagtes te bou. Indien hulle skuldig bevind word, wil ons hê die howe moet streng optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.