Nog vier liggame gevind ná boot op Vaal omslaan

Die dodetal staan nou op vyf nadat die boot Saterdag omgeslaa het (Foto: SA Polisie)

Die liggame van vier mans wat vermis was sedert hul boot Saterdagmiddag op die Vaalrivier omgeslaan het, is nou ook gevind.

Maroela Media het die naweek berig die boot het in die omgewing van Spider Valley Road omgeslaan.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê lede van die polisie se duikeenheid het vier liggame Sondag in die Sasolburg-omgewing in die Vrystaat gevind.

“Die boot is ook gevind en uit die rivier gehaal,” het sy gesê.

Dit bring die dodetal ná die voorval op vyf te staan. Die liggaam van ʼn vyfde man is Saterdag reeds gevind. Die slagoffers is volgens die polisie almal tussen 30 en 45 jaar oud.

“Die identiteit van die oorledenes kan nie bekend gemaak word tot hul naasbestaandes in kennis gestel is nie.”

ʼn Man en ʼn vrou wat ook op die boot was, het die voorval oorleef. Volgens die man het water in die boot begin inlek voor dit omgeslaan het.

Volgens Peters doen die polisie ʼn ondersoek na die oorsaak van die voorval. Dit sal in samewerking met die Suid-Afrikaanse Mariene Veiligheidsowerheid gedoen word.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die reddingsduikers geloof vir hul deursettingsvermoë om te verseker die vermistes word opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Benn ·

Dit is vreeslik hartseer. Baie sterkte vir almal betrokke en almal wat hierdeur geraak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.