Nóg vrae oor ANC se ‘Uber’-vlug na Zim

Die ANC-afvaardiging het glo ‘n saamrygeleentheid saam met die minister gekry. (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

Die DA eis steeds antwoorde oor ʼn vlug na Zimbabwe wat ʼn afvaardiging van ANC-lede die afgelope week onderneem het. ʼn Straler van die lugmag is gebruik.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê die straler is soos ʼn wafferse Uber bestel vir die ontmoeting met Zanu-PF-amptenare in die buurland.

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal wat geen amptelike posisie in die Suid-Afrikaanse regering beklee nie, het die afvaardiging na Zimbabwe gelei. Saam aan boord van die straler was Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, asook ANC-lede Tony Yengeni, Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Enoch Godongwana.

Die gebruik van die weermagstraler vir partypolitieke sake het kritiek uit talle oorde ontlok. Klagte is ook reeds by die Openbare Beskermer (OB) aanhangig gemaak.

Die departement van verdediging het egter gesê die ANC se vergadering het op dieselfde tyd plaasgevind as wat die minister van verdediging na Zimbabwe moes reis om met haar eweknie te vergader. Die vergadering was ter voorbereiding vir ʼn Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) troika-vergadering en die Verenigde Nasies se magsingryping waarby soldate van die SAOG-streek betrek word.

Die ANC-afvaardiging het dus saamgereis. Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement van verdediging, het gesê die ANC-afvaardiging sou kwessies hanteer wat ʼn direkte impak het op Suid-Afrika. Dit is volgens hom egter nie ʼn algemene gebeurtenis nie en ʼn ANC-afvaardiging het nog nooit op dié manier saamgereis nie.

Volgens die DA ontstaan daar egter al hoe meer vrae, veral oor die wettigheid van die reis terwyl ʼn ramptoestand en afsonderingsregulasies steeds in Suid-Afrika heers.

Marais sê die druk op pres. Cyril Ramaphosa neem toe om dringend te begin verduidelik.

Hy sê Mapisa-Nqakula word soos enige kabinetsminister toegelaat om ten alle tye internasionale reise vir regeringsake te onderneem. Haar reis na Zimbabwe was volgens die regulasies dus wettig.

“Die kwessie gaan oor haar gevolg, die ANC-afvaardiging.”

Op vlak 2 van die afsonderingsregulasies word alle passasiersvlugte verbied, behalwe wanneer die minister van vervoer – in hierdie geval Fikile Mbalula – toestemming daarvoor verleen.

“Die DA wil weet: Het die ANC-afvaardiging hierdie toestemming van Mbalula gevra? Is dit goedgekeur? Waar is die dokumente om dit te staaf?”

Magashule het volgens Marais ook gesê dat die minister na Zimbabwe is ter voorbereiding van die troika-vergadering en die VN se magsingryping. Marais sê Zimbabwe dra egter nie troepe by tot dié mag nie – anders as Suid-Afrika, Malawi en Tanzanië – en dat Zimbabwe ook nie meer die voorsitter van die SAOG is nie. Dié posisie word nou deur Mosambiek beklee.

Marais wil dus weet wat die vergadering genoodsaak het.

Hy sê daar was boonop ʼn aanlyn-SAOG-Troika-vergadering waaraan Ramaphosa self deelgeneem het. “Waarom kon dié vergadering nie ook virtueel gehou word nie?

“Laastens vra die DA vir ʼn volle verduideliking van met wie presies die ANC-lede vergader het en wat die doel van die vergaderings was. Ons wil ook weet waar hulle tuisgegaan het tydens hul besoek aan Zimbabwe en wie die rekening vir hul verblyf en ander uitgawes betaal het?”

Marais sê Ramaphosa, as hoof van die ANC en die regering, asook as opperbevelvoerder van die weermag, moet ʼn openbare verklaring uitreik en dié vrae beantwoord.

Die DA het ook weer sy eis herhaal dat die geld wat die weermag aan die vlug bestee het, deur die ANC terugbetaal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

In die ou SA het PW Botha gereeld weermagvervoer gebruik om te gaan jag. Dis mos maar dieselfde as wat nou gebeur. Niemand het gekla toe PW dit gedoen het nie. Sy seun het lekker voorregte gekry terwyl hy militêre diensplig gedoen het. ‘n Motorongeluk waarin hy die skuldige party was, is ook netjies toegesmeer.
So dié dinge kom van ver af. Dis nie die ANC wat dit uitgevind het nie.

Tomas ·

Die mens bly die mens en elke mens het ‘n vleeslike gesindheid en sondig. My ras, geslag, taal is irrelevant in hierdie verband. Wat help is as ek ‘n aktiewe gewete het. En dit het ek verseker as ek ‘n kind van God is.

ElizeK ·

Hier is beslis n paar mense wat op dié forum kommentaar lewer, wat seker ook hul reg is, net om reaksie van ander lesers uit te lok.
Net soos die ou wat gister gesê het Covid19 het weer opgevlam in die Wes Kaap. Gaan lees mnr Winde se berig (vanoggend) op IOL. Klomp twak wat jy gepraat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.