Nóg vyf beamptes vas oor korrupsie in Mpumalanga

Argieffoto

Nog vyf polisie- en verkeersbeamptes is in hegtenis geneem in verband met beweerde korrupsie in Mpumalanga.

Dié inhegtenisnemings volg ná ʼn operasie van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se operasie verlede week Vrydag toe twee verkeersbeamptes, Khethiwe Mkhabela (42) en Lucky Mabena (37) en polisiekonstabel David Mahlare Ntuli (34) in hegtenis geneem is. Die drie mans het in die Komatipoort-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R1 000 elk. Hulle sal weer op 12 Julie 2019 in die hof verskyn hangende verdere ondersoek.

“Nog twee verkeersbeamptes en ʼn polisiekonstabel is die Vrydagaand in hegtenis geneem,” het kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, gesê. “Die verkeersbeamptes, Simphiwe Nkosi (42) en Zanele Vilakazi (32) en konstabel Elias Sibanyoni (31) het Maandag onderskeidelik in die Middelburg- en Belfast-landdroshowe verskyn. Hulle is vrygelaat op borgtog van tussen R500 en R1 000,” het Sekgotodi verduidelik.

Verkeersbeampte Michael Mathenjwa (34) en polisiekonstabel Sello Lefi Mila (34) het ook in die Belfast-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R500 elk.

Die vyf persone se saak is tot 19 Julie 2019 uitgestel.

Brig. Obed Ngwenya, waarnemende provinsiale hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings van die vyf verkeersbeamptes en drie polisiebeamptes geloof. “Korrupsie raak ons almal. Dit bedreig volhoubare ekonomiese ontwikkeling, etiese waardes en geregtigheid. Dit laat ons samelewing wankel en is ʼn bedreiging vir wetstoepassing. Dit ondermyn instansies en die waardes van ons demokrasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willehond ·

Sluit almal van hulle toe en laat net die twintig eerlikes vry. Dit is baie makliker!

En nou? ·

Hulle kan maar al die polisiestasies verander na howe toe!

Cherokee ·

Eintlik is die verkeersbeamptes entrepreneurs wat ‘n kits toonbank vir boetes daar stel en ekstra myle, tyd en papierwerk spaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.