NSFAS: Meeste aansoeke om befondsing nóg

Voornemende studente in Limpopo wag om hul aansoeke vir finansiering vir die 2020-studiejaar in te dien. (Foto: NSFAS/ Facebook)

Die getal nuwe aansoeke om befondsing by die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) vir 2020 het alle vorige rekords oortref. Teen 29 November, enkele ure voordat aansoeke vir 2020 gesluit het, het 461 291 hulpbehoewende studente reeds aansoek gedoen, duisende meer as die 417 000 wat in 2018 vir die eerste keer aansoek gedoen het om befondsing vir 2019. In 2018 het die instansie net meer as 300 000 aansoeke van voornemende eerstejaarstudente ontvang.

NSFAS sal eers volgende maand die finale syfer vir die aansoeke om befondsing bekendmaak, maar volgens dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het aansoeke in die laaste paar uur voor 30 November aansienlik toegeneem. Nzimande sê die skema het sedert 25 November 14 000 aansoeke per dag ontvang.

Die skema het Maandag in ʼn verklaring gesê hy sal die besluite oor befondsing van applikante teen 6 Januarie begin bekendmaak. Die departement van basiese onderwys maak op 7 Januarie die matriekuitslae bekend.

Volgens Kagisho Mamabolo, NSFAS-woordvoerder, sal die uitslae van aansoeke bekendgemaak word op die skema se aanlynportaal en applikante is aangemoedig om die status van hul aansoek hiér dop te hou. “Applikante sal ook op die portaal ingelig word indien hulle stawende dokumente op die portaal moet laai,” sê Mamabolo. Hy waarsku applikante om versigtig te wees vir slenters wat betref befondsing in dié tyd.

Studente wie se huishoudelike inkomste minder as R350 000 is, kom vanjaar weer in aanmerking vir die presidensiële beurs, wat beteken dat hul klasgeld en geld vir studiemateriaal ten volle gedek word. Dié studente se verblyf, vervoer -en kosgeld word gedeeltelik gesubsidieer. Dié vergunning geld sedert Januarie 2018, maar jaarliks is daar studente wat kla dat NSFAS nie betyds hierdie beursgeld uitbetaal nie, wat beteken behoeftige studente het dikwels nie geld vir boeke, kos of verblyf nie.

Volgens ʼn verklaring in Oktober het slegs 10% van behoeftiges aansoek gedoen vir befondsing om aan ʼn TVET-kollege te studeer. Die meerderheid van applikante is jong mense wat skool verlaat het en verder wil studeer aan ʼn universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Verstaan nie. ·

Goed as waarlik behoeftige en verdienstelike voornemende studente gehelp word.
Hoeveel van die studente slaag hulle akademiese jaar?
Indien hulle druip wat is hulle verpligting teenoor NSFAS om terug te betaal?
Het hulle ‘n voorgeskrewe tydperk om hulle studies te voltooi?
Met enige beurs by ‘n instansie het die ontvanger bepaalde standaarde waaraan hulle moet voldoen om vir die volgende jaar weer vir ‘n beurs te kwalifiseer.

stem ·

hoeveel is daar wat net die geld wil vat en mors en geensins belang stel om nooit hul vakkeuse te be-oefen nie

Vranet? ·

Slegs kandidate met ‘n slaagsyfer van 70% of meer moet op universiteit toegelaat word. Tussen 50 en 69 moet na ‘n kollege gaan en die onder 49, moet handvaardigheid geleer word. Ons kort tegnikus te, nie BA’ s wat nie eers op voor 1994 se matriekstandaard is nie. Ook moet alle kandidate ‘n IK toets aflê. Niemand met ‘n IK van onder 85, moet op universiteit toegelaat word nie.

lisa ·

Dit is definitief waar wat jy daar se. maar ongelukkig weet ons dit werk mos nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.