Nuuskommentaar: Stand van grondwetlike demokrasie 24 jaar na Mandela se vrylating

Mandela as jong prokureur Foto: SEO

Mandela as jong prokureur Foto: SEO

Dit is vandag presies 24 jaar sedert oud-pres. Nelson Mandela as vry man by Victor Verster se gevangenis uitgestap het.

Wêreldwyd het verwagtinge euforiese hoogtes bereik. Nou, enkele maande na sy afsterwe, is die groot nuus die onmin oor sy testament.

Die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika word, verdienstelik of nie, ook as deel van Mandela se nalatenskap beskou. Oor hoe gesond die grondwetlike demokrasie is, word byna net so hard gestry as oor die boedel van sy aardse besittings.

Die lys van krake in die grondwetlike bedeling is meestal al ou nuus, soos die landwye dienstebetogings deur mense van wie die meeste na verwagting maar weer hul kruisies agter die ANC gaan trek. Slaggate word die tema van vele spotprente, en ganse dorpe en groot dele van stede sit gereeld dae lank sonder water, wat deur die Menseregtekommissie as ‘n skending van die mense se grondwetlike regte beskryf is. En as daar water in die krane is, haal dit dikwels nou nie juis bloudruppel-status nie. Die groot reën wat die wasmasjiene vir almal sou bring, het van Madiba nie ‘n wafferse weerprofeet gemaak nie.

Maar hoe lyk die stand van grondwetlike demokrasie in die land werklik?

– Volgens die indeks van mislukte state was Suid-Afrika in 2012 ‘n
grensgeval tussen ‘n stabiele demokrasie, en een wat in gevaar verkeer. Op die 2013-indeks is Suid-Afrika se demokrasie in die kategorie “in gevaar”
wat die tweede slegste kategorie is.

– Die jongste persvryheidsindeks, wat allerweë as goeie barometer vir die stand van demokrasie beskou word, word op 12 Februarie bekend gestel, die dag voor pres. Jacob Zuma sy staatsrede lewer. Gaan die bekendmaking van hierdie indeks die wind as’t ware uit Zuma se seile neem?
Geoordeel op die trajek waarteen Suid-Afrika oor die algemeen agteruit boer op hierdie indeks lyk sake nie goed nie. Van die 21ste plek in 2003, het die land tot die 52ste plek verlede jaar teruggesak. Die pas-vrygestelde verdoemende ouditeursverslag oor die SAUK, en veral die SAUK se reaksie daarop sou te laat gekom het om die indeks te beïnvloed, maar optredes soos die wegredigering van Zuma se uitjouery by Mandela se gedenkdiens sal stellig saam met die volharding met die snoerwet ‘n impak hê. Dit sal interessant wees om te sien of Suid-Afrika weer geknyp word oor ‘n gebrekkige weerspieëling van die land se politieke diversiteit in die koerante. Minstens een van die leiers van Front Nasionaal, wat klaarblyklik deur ‘n bestuursbesluit van sekere koerante dood verswyg word, het ‘n oop kanaal na Verslaggewers Sonder Grense wat die indeks opstel, en so iets sal geweldige skade aan die land se posisie op die indeks hê. Die ironie is dat van hierdie koerante onder die vaandel van liberalisme vaar, maar juis daardie beginsels ondermyn.

– Die ANC kom uit verskeie oorde onder skoot oor hoe dit met die grondwet omgaan, en heel dikwels die grondwet verwyt dat dit die “belange van die meerderheid” (wat as sinoniem met demokrasie beskou word) in die wiele ry. In ‘n gesonde demokrasie word ‘n regering wat in meerderheidsbelang regeer, soos onder meer met die kaderontplooiingsbeleid, as die diktatuur van die meerderheid beskryf. Daarby is daar druk op die regbank om “getransformeerde” uitsprake te lewer, wat ‘n kwalik-verskuilde aanslag op die onafhanklikheid van die regbank behels. Verloor die regbank sy onafhanklikheid, is die demokrasie grootliks daarmee heen.

– Die enorme deposito’s wat partye moet betaal om aan die verkiesing deel te neem, inhibeer die vestiging van politieke diversiteit. Eerstens is ‘n party van ‘n groot bedrag geld wat hy kon gebruik het om sy verkiesingsveldtog te voer, ontneem, en hy is dit dan kwyt as hy nie ‘n setel verower nie. Die bedoeling sou wees om te verhinder dat kitspartytjies onnodig ‘n belading op die stemproses plaas, maar in ‘n land waar peilings toon dat relatief min kiesers werklik vir hul beginsels en oortuigings stem, is dit dikwels juis die beginsel-partye wat tot nispartye gereduseer word en deur die stelsel van amptelike fondstoewysing en die enorme deposito in wese uit sirkulasie gehaal word. Die ironie is dat die grondwetlike onderhandelaars op hierdie kiesstelsel (maar sonder die moontlikheid van so ‘n enorme deposito) besluit het juis om minderhede die beste opsie moontlik te gee van verteenwoordiging in die parlement. Die gevolg is ‘n opmerking wat al meer gehoor word: “Ek weet regtig nie vir watter party ek kan stem nie.” Al meer oproepe kom dat kiesers moet stem vir partye wie se beginsels die naaste aan hul eie ooreenstem. Maar beteken dit dan nie juis dat demokrasie vir daardie kiesers nie volkome is nie?

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het al meer as ‘n jaar voor Mandela se afsterwe gesê, Madiba sou baie hartseer wees om te sien in die land aangaan, sou hy nog volle begrip gehad het. Of Madiba self, deur onder meer die aanstel van ‘n aantal hopelose ministers, en versuim om toe te sien dat diegene wat na leiersposisies beweeg en hom sou opvolg sy waardes deel, bygedra het tot die huidige stand van sake is ‘n debat op sy eie. Die geskiedenis is juis nou besig om, soos Leopold Scholtz geskryf het, die
dowwe kolle in Mandela se geskiedenis in te kleur.

Die aanslag teen die demokrasie is nie beperk tot die gewelddadige ontwrigting van kieserregistrasie nie. Die kieser word met ‘n enorme verantwoordelikheid toegerus wanneer hy sy kruisie gaan trek, en in der waarheid ‘n sosiale kontrak sluit met diegene wat in die parlement gaan sitting neem. Die verteenwoordigers neem setels op – nie bloot sitplekke soos nou dikwels verkeerdelik vertaal word nie. Die kieser se vertroue is as’t ware in diegene wat hy parlement toe gestuur het gesetel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Willem ·

Volgens die webwerf van die Onafhanklike Verkiesingskommitee is die Front Nasionaal nie geregistreer nie. Die aanmelding is ook nie ‘pending’ nie. Dus? Wat is die status van Front Nasionaal as party. Weet iemand dit?

Danie ·

Die DA is die party wat die meeste doen om die grondwet te beskerm.Soos sy geveg in die howe om die spy tapes te bekom.Soos sy suksesvolle konstitusionele hof geveg om Menzi Simelane uitgeskop te kry.Die DA is verbind om die snoerwet tot die hoogste hof te beveg.
Ek glo elke party moet sy beleid op die tafel sit,dan die kieser besluit.Soos dit nou is het die VF+ geen ware beleid nie,Front Nasionaal ook nie.Die VF+ val die DA aan om stemme te kry,en ek vermoed die Front Nasionaal gaan die VF+ aanval om stemme te kry.n Mens kan nie stem vir n party wat die grootste geraas maak nie,geen party gaan kiesers behou as die beleid van die party hom of haar nie daar hou nie.

Ant ·

Dis altyd jammer om te sien hoe sekere van ons mense hul gunsteling party in ander se kele wil afdruk. Die waarheid is as jy koekies bak en net so ‘n klein bietjie honde-bolle inwerk, dan is daar steeds honde-bollie in die koekies. So om vir die groter party te stem slegs omdat hulle ‘n beter kans staan, maar hulle is nie regtig bekommerd oor jou volk se probleme nie, dan fool jy mos jouself of hoe?

Danie ·

Ant,geen party is perfek nie,ook nie die DA nie.Maar ten minste het hulle n beleid,en dit is een van geen diskriminasie.Wat is die VF+ beleid?Wat gaan die Front Nasionaal se beleid wees?Die Front Nasionaal gaan die VF+ aanval omdat hulle in 20 jaar niks reggekry het nie.Die vraag is nou,wat hoop die Front Nasionaal om in 20 jaar te bereik?n Mens kan niks bereik as jy nie beleid het nie,maw n plan.

Ockie ·

Jy sluit nie net n sosiale kontrak nie, dit is veronderstel om n persoon te wees vir wie jy vertrou.
Kyk na hoeveel partye daar is dan word dit opebbaar hoeveel vetroue daar is.
Die persoon vir wie “JY” daar ingestem het kry ten minste 4 tot 10 keer jou sallaris en dit is aanvaarbaar stop om te kla.
Kla vir die regte redes

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.