Nuusleser Daniëlla nou ma van twee

Daniëlla en Cornel van Heerden het pas hul tweede dogtertjie verwelkom. (Foto: verskaf)

“Ek sien baie daarna uit om twee dogtertjies te hê. Ek het nie self enige sussies nie, dit gaan lekker wees om die dinamika tussen die twee te sien.”

Só gesels Daniëlla van Heerden oor haar gesin nadat sy en haar man, Cornel, op Woensdag 8 Maart ’n tweede dogtertjie ryker geword het. Dié twee is reeds die ouers van die amper driejarige Simoné, wat opgewonde is om haar babasussie, Leilana Karolien, oftewel Lana, by die huis te verwelkom.

“Sy het die laaste ruk net gepraat oor sussie en wanneer sy gaan kom,” vertel Daniëlla aan Maroela Media.

Simoné het reeds tydens ’n hospitaalkuier by haar ma en babasussie haarself as ’n bekwame ousus probeer bewys.

“Sy wil alles self doen, ons moenie help nie.

“Ek dink die groot uitdaging gaan wees om haar te oortuig dat sy nie alles moet doen nie. Sy dink sy kan self die baba vashou – hulle het mos maar ʼn sterk mening op hierdie ouderdom. Ons sal haar maar moet leer dat sy nie self die baba kan ronddra nie,” vertel Daniëlla.

Sy is opgewonde om hierdie nuwe pad in hul gesinslewe te stap.Daniëlla sê sy kan reeds sien dat Simoné ’n verskeidenheid van belangstellings het. Wanneer Daniëlla grimeer of gaan draf, is Simoné haar getroue stertjie, en wanneer Cornel besig is met bou-en-breek-projekte, is Simoné daar om alles waar te neem.

Daniëlla sien uit om te sien hoe elkeen van haar dogtertjies se persoonlikhede en belangstellings verder ontwikkel en groei.

“Die tweetjies is lekker naby aan mekaar, drie jaar is ’n goeie ouderdomsverskil,” glo Daniëlla, wat ’n ouer broer het.

“Dit is ’n unieke uitdaging, want jy het twee baie verskillende mensies om na om te sien.”

(Foto: verskaf)

Simoné is tydens die Covid-19-pandemie gebore, en vriende en familie kon weens die inperkings nie by die Van Heerden-gesin inloer nie. Daniëlla is dankbaar dat dit hierdie keer nie die geval is nie, en dat sy toegang tot ’n sterk ondersteuningsraamwerk het.

Die geboorte, vertel Daniëlla, was ’n wonderlike ervaring met die meeste van die teaterpersoneel dieselfde mense as met Simoné se geboorte.

“Ek het, soos met Simoné, gekies om ’n keiser te kry. Dis maar net persoonlike keuse. Ek glo dat daar nie’n reg en verkeerd met geboorte is nie – daar is mos maar altyd debatte – maar dat jy moet kies waarmee jy gemaklik is.”

“Ek hou van die teaterervaring. Ek weet dat die teater vir baie mense ’n vreesaanjaende plek is, maar vir my was dit wonderlik. Ek het veilig gevoel, ek het gehou van hoe hulle vir my alles verduidelik het, en was geïnteresseerd in hoe alles daarbinne werk.”

Sy vertel dat die teater met vroue gevul was, aangesien die dokters, vroedvrou en verpleegsters almal vroue was. Rustigheid en omgee het in die vertrek geheers, wat Daniëlla opnuut gerusgestel het oor haar geboortekeuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skappie ·

Baie geluk aan mamma en pappa en sussie. Mag die nuweling julle baie vreugde verskaf. Geniet julle 2 dogtertjie. ‘n Groot geskenk van onse Heer af.

Prikkie ·

Baie geluk en ja, die keisersnit keuse is JOU keuse, dit is na alles jou liggaam.

Sterkte met die pajama dril!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.