Nuwe bestuurshoof by Vinpro

Conrad Schutte (Foto: Verskaf)

Die aanwys van Conrad Schutte as nuwe bestuurshoof vir Vinpro lui ʼn nuwe era vir dié bedryfsliggaam in.

Vinpro verteenwoordig byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en belanghebbendes in die bedryf.

Rico Basson, huidige bestuurshoof by Vinpro, is onlangs as bestuurshoof van die nuwe sambreelliggaam SA Wine aangestel en Schutte sal die leisels op 1 Junie by Vinpro oorneem.

Schutte sê hy is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging.

“Ek sien uit daarna om my begeerte vir die ontwikkeling van mense, die kristallisering van strategiese rigting, my tegniese begrip van die bedryf en toereikende internasionale ervaring in my nuwe rol en tot voordeel van Vinpro, toe te pas.”

Schutte is al die afgelope 13 jaar by Vinpro werksaam en beklee sedert 2019 die posisie as bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Anton Smuts, voorsitter van Vinpro se direksie, sê hulle sien uit na die fase wat Vinpro nou ingaan.

“Conrad, wat reeds geruime tyd deel van die Vinpro-familie is en ’n sterk tegniese agtergrond het, is die perfekte persoon vir die nuwe rigting wat Vinpro nou inslaan, om saam te werk met SA Wine, maar te herfokus op plantverbetering, tegniese produksie en gespesialiseerde dienste, asook om die inligtingsbehoeftes van ons wynprodusente te bestuur.

“Ons wens hom alle voorspoed in sy nuwe rol toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.