Nuwe DA-leier se naam Sondag bekend

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Die eerste dag van die DA se virtuele federale kongres het sonder enige tegniese probleme afgeloop en het die tafel gedek vir die aankondiging van die nuwe partyleierskap Sondagmiddag omstreeks twee-uur.

Teen vyfuur Saterdagmiddag het elkeen van die meer as 2 000 afgevaardigdes wat by talle punte in die land byeen was, hul stemme uitgebring – behalwe sewentien afgevaardigdes wat om verskillende redes (koronavirus-simptome, verlore selfone) nie kon stem nie. Stemtyd is dus met ’n uur verleng om daardie sewentien stemme ook in te kry.

Tegnies gesproke was die kongres, wat ’n tegnologiese uitdaging soos min gebied het, teen die einde van dag een ’n rasende sukses.

Die twee leierskandidate, Mbali Ntuli en John Steenhuisen, het verlaas die afgevaardigdes virtueel toegespreek. Ntuli se boodskap was dat hoflikheid, groei en regverdigheid na die DA teruggebring moet word sodat die DA op sy rekord van goeie regering die ANC uit die kussings kan lig.

Sy het die verteenwoordigers in Engels en Zoeloe toegespreek.

Steenhuisen het gesê hy gee om vir die party wat hy sy lewe lank dien, en dat hy die DA die afgelope jaar herbou het sodat dit nou staan soos ’n vliegtuig wat gereed is om op te styg.

Afgevaardigdes plaas Saterdag hul stemme. (Foto: DA/Twitter)

Hy het gesê dissipline moet terugkom in die DA, en dat die klem op DA-aktiviste moet val eerder as op mense wat van nêrens af in magsposisies ingebring word sodat die ANC ontsetel kan word.

Die verwagting is dat Steenhuisen gemaklik sal wen. In politieke kringe word bereken dat enigiets meer as 25% van die stemme vir Ntuli ’n goeie uitslag sal wees.

Die ander wedloop om dop te hou is die stryd tussen Mike Moriarty en Helen Zille om die voorsitter van die DA se federale dagbestuur te word. Zille het die binnebaan in daardie wedloop, maar die verwagting is dat haar meerderheid kleiner as Steenhuisen s’n sal wees. Daardie uitslag sal eers later Sondag bekend wees, want slegs lede van die federale raad kies die voorsitter van die dagbestuur.

As daar twee dinge is wat uitstaan na dag een, is dit eerstens dat daar nie streng volgens faksies gestem word nie (die meerderhede waarmee grondwetwysigings ingestem en uitgestem is, het te veel gevarieer) en tweedens dat daar nie veel aptyt vir verandering is nie.

So byvoorbeeld is die voorstel dat geen senior leier meer as twee opeenvolgende termyne kan dien nie, wat sterk deur die party-establishment voorgestaan is tot die punt dat Zille dit op ’n onlangse mediakonferensie as ’n gegewe gestel het, onverwags deur ’n meerderheid van kongresgangers verwerp.

Verskeie beleidsbesluite word voor die verdaging van die kongres deur die afgevaardigdes geneem, met die aankondiging van die federale leier en die vergadering van die federale raad om die voorsitter van die federale dagbestuur aan te kondig as hoogtepunt en afsluiting van Sondag se program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wel, dis goeie nuus verseker vir ‘n sterk leierskap van hierdie party. Ek glo Steenhuisen en Zille sal seëvier.

Hennie J ·

Insiggewend hoe hierdie party alles volgens die (anc? ) boek doen. Die topbesture(bv. leiers en onderleiers) in bykans al die provinsie bestaan uit een witte en een nie witte, alle sogenaamde regte word sterk gehandhaaf en Afrikaans praat is taboe. Die patetiese uitslae in die laaste plaaslike verkiesing is sprekend daarvan dat die beste kandidate vir poste nie nominasie maak nie, maar eerder mense wat aan “regstellende vereistes “voldoen. Hoe kan julle dink om te regeer as julle beste regeerders nie interne nominasie maak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.