Nuwe dokkie wil wys wie Reeva Steenkamp werklik was

‘My Name is Reeva’ sal einde Augustus, tydens Vrouemaand én Steenkamp se geboortemaand, op M-Net te sien wees. (Foto: Verskaf)

ʼn Nuwe dokumentêre reeks wat beloof om ʼn intieme blik op die lewe van Reeva Steenkamp te gee, gesien deur die lens van die mense wat haar die liefste gehad het, word nou nege jaar ná die voormalige model en televisiepersoonlikheid se dood bekendgestel.

My Name is Reeva sal einde Augustus, tydens Vrouemaand én Steenkamp se geboortemaand, op M-Net te sien wees en poog om talle onbeantwoorde vrae oor haar dood te takel.

Steenkamp is op Valentynsdag 2013 deur haar kêrel, die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, in Pretoria doodgeskiet. Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf vir haar moord uit.

Luidens ʼn verklaring van M-Net sal dié nuwe dokumentêre reeks in drie episodes ʼn diepgaande ontleding van daardie noodlottige aand bied en ook meer vertel oor die effek wat haar dood op die mense naaste aan haar gehad het. Dit sluit onder meer ​​intieme en openhartige onderhoude met haar ouers, sowel as goeie vriende en familie in.

Oscar Pistorius. (Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool)

Warren Batchelor, tweemalige Safta- benoemde regisseur, vervaardiger en skrywer van WB Productions, het die regie behartig terwyl Justin Strydom, Safta-wenner, die draaiboek geskryf het. David Taylor is die vervaardiger.

“Terwyl miljoene die moordverhoor en die nasleep daarvan gevolg het, is die vrou in die middel daarvan amper vergete. My Name is Reeva poog om die vrae oor haar sinnelose moord te beantwoord, maar nog belangriker, om die ware verhaal van Reeva Steenkamp en haar oorwinnings, volheid, skoonheid én menswees te vertel,” lui die verklaring.

“Ons ondersteun Warren en sy span ten volle om die waarheid in hierdie dokumentêr na vore te bring en die wêreld te wys wie Reeva werklik was,” het Steenkamp se ouers, June en Barry, oor die dokumentêr gesê.

Dié dokumentêr word ook kort op die hakke van Barry Steenkamp se eerste ontmoeting met Pistorius sedert hy sewe jaar gelede skuldig bevind aan die moord, bekendgestel.

Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, tydens Pistorius se moordverhoor. (Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers/ Pool)

Pistorius is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Maroela Media het onlangs berig dat die Steenkamps in November 2021 ingelig is dat daar begin is met die proses om die 35-jarige voormalige Paralimpiese atleet op parool vry te laat. Tania Koen, die Steenkamps se regsverteenwoordiger, het ook bevestig dat Pistorius en Barry op 22 Junie vanjaar as deel van die slagoffer-oortreder-dialoog ontmoet het.

Só ʼn ontmoeting vind plaas voordat ʼn oortreder vir parool oorweeg word, maar geen besonderhede oor Steenkamp en Pretorius se interaksie is egter bekend gemaak nie.

Die eerste episode van My Name is Reeva word op Donderdag 25 Augustus om 20:30 op M-net (kanaal 101 op DStv) uitgesaai, met deel twee en drie wat onderskeidelik op Donderdag 1 September en Donderdag 8 September te sien sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Elize ·

Enige dokumenter wat eensydig vertel word kan nooit die volle waarheid weergee nie.

Niklaas ·

Ek twyfel of Oscar ooit die volle waarheid sal uitlap van die gebeure daardie aand.

piet ·

Die verhoorhof en appelhof het sy weergawe van die gebeure aanvaar. Ons moet in gedagte hou dat hy basies op ‘n regspunt (uitleg/interpretasie van dolus eventualis) skuldig bevind is aan moord. Hy het die absolute minimum straf vir moord gekry. Groot verskil tussen dink dis ‘n inbreker en skiet omdat jy dink jy of iemand is in gevaar en, ‘n moord met voorbedagte rade te beplan om ‘n spesifieke persoon uit die weg te ruim.

Sandra ·

Jy praat so. Ek sit presies dieselfde ding en dink. Ek sal nooit vergeet wat haar ma gese het toe sy op die nuus verskyn het nie “we lost our breadwinner”. Nie geliefde dogter nie, maar net daardie woorde.

Mariaan ·

Enige mens met verstand kon hierdie arme ouers se smart sien…jul weet duidelik nie hoe tragedie hul getref het nie…laat hul gerus n dokumenter doen oor hul pragtige dogter EN n geldjie maak..dis tog wat sy wou he..dis al wat oor is…oscar se woede het hul vd res ontneem…he respek vir die mense se pyn

Maan&Sterrekind ·

Voel ook so… Dit raak nou al ou nuus met alle respek gese.

Miena ·

En gaan Oscar dalk enige “royalties” of kommissie gelde betaal word dalk? sy naam gaan seker genoem word erens en dit raak hom ook mos. Ja- nee wat mens nie als vir geld en bietjie aandag sal doen nie.
Hier gaan ons alweer… maak vas die sitplekgordels, lyk my dit gaan n bumpy ride wees hierdie ene.

Hennie Biebouw ·

Veroordeelde moordenaars mag nie profyt maak uit hul dade nie. So nee….

AH ·

As jy ‘n ouer is sal jy dit verstaan. Dit is die betekenis van onvoorwaardelike liefde. Mens hoef nie blind vir jou kinders se foute te wees of alles wat hul doen goedpraat nie, maar jy moet hulle liefhê al stel hulle jou teleur.

Mariana ·

Sal die ware storie ooit gehoor word, sal daar regtig vertel word wie sy werklik was? Nee net die mooi kant sal gewys word. En daar was beslis ‘n ander kant van haar…..nes elke ander mens.

Swerwer ·

Wonder maar net hoekom ‘n dokumentêr altyd uitgereik word waar ‘n beroemde persoon by betrokke is. Hoekom maak hul nie van die arm/gewone mense wat sukkel om te oorleef ‘n dokumentêr nie. Daar is soveel harseer verhale van kinders en bejaardes wat meer publisiteit sal geniet as waar ‘n beroemde naam by betrokke is.

Cherokee ·

Jy weet natuurlik dat daar ‘n hengse verskil is tussen beroemd en berug.

Groen-oog ·

Met respek…. ekt nie van haar geweet tot sie dag van die voorval nie. En NIEMAND sou weet as sy nie met Oscar betrokke was nie.

KatjieDeKat ·

Julle wat so wonder oor Reeva se “ander kant”…ek twyfel of daar enigiets aan enige kant van haar was, wat sou maak dat sy verdien het om vermoor te word. Ek wonder hoeveel van hierdie tipe opmerkings spruit uit jaloesie omdat sy so ongelooflik beeldskoon was. Sies man.

Mariaan ·

Die bitsige opmerkings skok my…dis net jaloesie…n pragtige jong vrou is onnodig vermoor deur n humeurige oscar! Haar ouers se enigste…gun hul die mooi huldeblyk aan hul lieflingskind…ek gun niemamd sulke hartseer nie…sy is vermoor….wat n aaklige gedagte om mee saam te lewe vir n ouer…wees tog sag teenoor hierdie arme mense

Lollapop ·

As sy my dogter was sou ek nie nog ‘n dokumenter toegelaat het nie, ons almal weet sy was ‘n pragtige jong dame wat tragies weggeneem is maar moet haar nie so uitbuit vir geld.

Chantel ·

Ek het gewonder wanneer hierdie sal gebeur. Dis niks nuuts nie, in ander dele van die wêreld word hierdie daagliks gedoen. Gaan kyk net kanaal 171 op DsTv.

Roebs ·

Regtig nee wat kan die dooies nie rus kry nie. Laat mens wat oorlede is gaan en in vrede wees, hoekom nou weer ou koeie uit die sloop loop stoot…. Niks meer respek nie.

Mieke ·

Gaan dit of goeie tydsberekening vir wanneer Oscar op parool vrygelaat word?….. Net ‘n gedagte

AH ·

Dit is niks minder as reg dat Reeva se kant deur mense na aan haar gestel word nie. Sy het immers nie ‘n kans gekry om self haar kant van die saak te stel nie. Oscar se kant van die saak daarenteen is oor en oor deur die verloop van die hofverrigtinge gestel …….Albei sake het immers twee kante. Diegene wat nie daarvan hou of dit ondersteun nie hoef mos nie daarna te kyk nie! Die tye van die uitsendings word juis voor die tyd gegee om seker te maak jy kyk nie “per ongeluk” na iets wat jou dwars in die kop steek nie!

Casper ·

Ek twyfel of Oscar sal parool kry na sy ontmoeting met ou Baddy Steenkamp.Ja Oscar het vir Reevatjie geskiet maar die ware feite sal nooit die lig sien nie.Ja haar ouers is seker kwaad en met reg gebroke maar Oscar moet ook vir die res van sy lewe daarmee saamleef.Die Bybel sê in Matteus”die dooies sorg vir die dooies en die lewendes sorg vir die lewendes(Lasarus en die ryk man)Dit gaan ‘n eenrigting gedoente wees of gaan hulle Oscar nader vir sy weergawe.

AH ·

Oscar se weergawe(s) is veskeie kere aangehoor tydens die hofsaak…..

Groen-oog ·

Ekt al baie van Oscar gehoor voor die akiet viorval en nog nooit van Reeva nie.
Na die ontmoeting van haar pa en Oscar weet ek nie mooi nie maar ek glo
1. Oscar se saak was onregverdig juis oor hy n naam het.
2. As n straat man haar vermoor het was dit nie si opgeblaas ens nie.
3. Haar pa lyk na n billike man wat kan redeneer. Maar haar ma herhinner my aan Hani se weduwee…. alhoewel sy gese het “Sy vergewe hom maaaaar sy hoop nie die tronkdeure gaan oop vir Oscar nie. Mooi vergewe daar….. nog n onregverdige septer swaaier.

1 ding is verseker Oscar het haar geskiet dis moord màar hy moet elke dag daarmee saamleef. En se hy ontmoet ooit weer iemand dan gaan 14 Februarie bitter swaar wees want hy onthou en nuwe maat ontgeld die liefdevolle dinge van daai dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.