Nuwe gesigte binnekort in kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting binnekort ‘n kabinetskommeling aankondig. (Foto: ANC/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting binne twee weke nuwe kabinetslede aanwys, maar of dit ʼn ganse skommeling van die kabinet gaan wees of net die vul van poste wat vakant geraak het, is nog ʼn ope vraag.

ʼn Aankondiging sal waarskynlik eers ná die ANC se gebruiklike 8 Januarie-verklaring gedoen word.

“Skommeling of nie, vervanging … Ja, die president oorweeg die kwessie,” het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, vroeër gesê.

Mbalula het gesê Ramaphosa sal die kwessie met die ANC bespreek, maar dat die uiteindelike besluit by die president berus. “Ons kom binne die volgende twee weke na julle toe daarmee.”

Die president het die volle steun van die ANC en die mandaat van die party en sal self oor die kabinet besluit, sê Mbalula.

Een van diegene wie politieke toekoms in die weegskaal hang, is adjunkpres. David Mabuza. Paul Mashatile het hom verlede maand by die ANC se nasionale konferensie as adjunkpresident vervang en Mabuza is ook nie tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verkies nie.

Die pos van minister van vervoer is ook vakant nadat Mbalula tot sekretaris-generaal van die ANC – ʼn permanente posisie binne die party – verkies is. Thulas Nxesi neem boonop sedert April verlede jaar waar as minister van staatsdiens en administrasie en dié pos sal na verwagting ook in ʼn verwagte kabinetskommeling gevul word.

Die ANC het Vrydag in die vroeë oggendure die tweede gedeelte van sy 55ste nasionale konferensie afgehandel. Die party se opsystaan-reël is daar opnuut bevestig as deel van pogings om openbare vertroue in die regerende party te herwin.

Fasiha Hassan, voorsitter van die ANC se subkomitee oor die organisasie se hernuwing, het volgens News24 gesê die party kan nie vra dat mense hom vertrou, terwyl die ANC lede ontplooi wat van ernstige misdade aangekla word nie.

Daar is ook ʼn beroep op die NUK gedoen om te verseker dat die bepalings oor die opsystaan-reël billik, onpartydig en konsekwent toegepas word. Dit is volgens die komitee belangrik dat die reël nie vir binnegevegte ingespan word nie en dat interne tugstappe diegene wat dit vir persoonlike gewin misbruik, in die gesig sal staar.

“Ons moet ons in die openbaar distansieer van diegene wat korrup is, ernstige misdade begaan, vroue en kinders mishandel en betrokke is by seksuele teistering,” het Hassan gesê. Sy sê ook ANC-lede moenie wag vir die ANC se opdrag om opsy te staan nie en moet bereid wees om die beeld van die ANC te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Frederik C ·

Nuwe gesigte, of gaan die oues maar net weer roteer word ?? Raak ontslae van Mantashe, Cele, Gordhan, Tina……..om mee te begin.

hpven ·

Watter beeld? Die beeld van die ANC? Die grootste misdaad organisasie in Afrika, begin by Ramaphosa met julle opsy staan beleid.

Kirst ·

Dit maak nie saak wie in watter posisie “ontplooi” word nie. Soos iemand kommentaar gelewer het tydens hulle konferensie; dis soos om ‘n ander hemp aan te trek nadat jy jou in jou broek gedinges het.

Waarnemer ·

Fasina Hasan noem die volgende….en ek haal aan…”Die party kan nie vra dat mense hom vertrou terwyl die ANC lede ontplooi wat van ernstige misdade aangekla word nie”
Nou vra ek of dit die rede is dat cyril nie aangekla word vir die pala pala saak nie?Is geldwassery en belasting ontduiking nie n ernstige misdaad nie?Is cyril nie veronderstel om al sy inkomste volgens wet aan die parlement te verklaar nie?of….word cyril kwytgeskel omdat hy die president is?

kaplyn ·

Die antwoord is, dat Ramaposa nog nie van geldwassery en belasting ontduiking aangekla is nie. Sou hy daarvan aangekla word sal hy moet opsy staan want dit is anc beleid.

Delia ·

Fiasiha Hassan, ek sien jy sê ANC moet in die openbaar hulle distansieer van korrupsie, misdaad en GBV. Dis wel reg so, maar dit help nie AGTER DIE SKERMS IN GESLOTE VERGADERINGS KANTORE EN HUISE gaan die regerende party steeds aan met al die goed wat julle in die openbaar wil veroordeel nie.

Shakespeare ·

Ek wou eers my toys uit die kot gooi maar toe besluit ek om te së. “VERGEWE HULLE VADER. HULLE WEET NIE WAT HULLE DOEN NIE”. AMEN

SwartBees ·

Die berig se opskrif is verkeerd. Dit moet lees “Nuwe skelms binnekort in kabinet”

Althes ·

Dis tyd dat hy van die RET faksie ontslae raak in die kabinet. Hulle ondermyn hom en die welstand van SA.
En die ministers wat onderpresteer.

Papsak ·

Almal bly skelm raak ontslae van hele regering ANC en KADERS

JohanR ·

Was daar al ooit ‘n nie nutteloos ANC minister, of sommer enige ANC? Hulle kompeteer teen makeer om te sien wie kan die mees nutteloos wees. Self Patricia de Lille van GOOD het kompeteer!

Lida ·

Hoop CR se pos ook beskikbaar. Hy lei ons in die afgrond in. Gedink hy is slimmer as die ander Korrupte spul….toe nie !!!

Wit Leeu ·

Maak nie saak wie daar is nie, almal ‘n klomp diewe en skelms ! So gaan praat bollie op ‘n ander plek !

Manie ·

Ja neewat, soos oorlede Tolla gesê het: “Dieselfde K..huis met nuwe vensters”.

Anel ·

Dan moet die hele regeting op sy staan. Wie van hulle se hande is skoon? Spul skelms!!!!

Danie ·

Maar net nog n politieke taktiek om stemme te behou.Niks sal verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.