Nuwe kopieregwet: Dít is waarom jy moet omgee

Foto ter illustrasie: Morné van Rooyen

Iets soos kopiereg verteenwoordig die dryfveer van ʼn samelewing se vermoë om te innoveer. Die ANC het ongelukkig al gewys dat die party bereid is om in te meng met eiendomsreg en hierdie is net nog ʼn soort eiendomsreg waaraan gekarring word.

Só sê Daniel du Plessis, ʼn regsontleder verbonde aan die Sakeliga, ʼn organisasie wat homself beywer vir ʼn selfstandige sakegemeenskap.

“Ons moet met bekommernis en omsigtigheid kyk na hoe die wysigingswetsontwerp op kopiereg hanteer word want dit lyk of dit nog ʼn soort minagting is vir eiendomsreg wat ʼn belangrike rol in enige samelewing speel,” sê Du Plessis.

Die Nasionale Vergadering het dié wysigingsontwerp op 5 Desember aanvaar nadat daar ʼn tweede keer daaroor gestem is omdat daar aanvanklik nie ʼn kworum tydens die stemproses was nie.

Maroela Media het berig die wetsontwerp maak ondermeer daarvoor voorsiening dat inhoud uit byvoorbeeld rolprente en boeke “binne redelike perke” gereproduseer kan word sonder toestemming van die outeur of betaling van tantieme.

Opposisiepartye, talle skrywers, uitgewers en Amerikaanse rolprentverspreiders het hulle skerp teen die voorgestelde wysigings uitgespreek. Hulle het aangevoer dié nuwe kopieregwet sal ernstige gevolge vir skrywers en artistieke produksie in Suid-Afrika inhou.

Meer as 3 000 individue en 125 plaaslike en internasionale organisasies en instellings het ook reeds ʼn petisie teen die wetswysiging onderteken. Van die kunstenaars wat hulle stemme teen die wetswysiging laat klink het, is die Nobelpryswenner vir letterkunde JM Coetzee, die dramaturge John Kani en Athol Fugard, die skrywers Breyten Breytenbach, Deon Meyer, Wilbur Smith, Achmat Dangor en Fred Khumalo asook die spotprenttekenaar Zapiro.

Skepping, eienaarskap en inkomste

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het egter aangevoer die wetswysiging sal ʼn positiewe regulerende raamwerk in Suid-Afrika instel.

Hy het gesê die Wet op Outeursreg van 1978 is argaïes en het dringende hersiening benodig. Volgens hom is die doel van die wetsontwerp om die ekonomiese belange van outeurs en skeppers van kopieregwerke teen oortredings te beskerm en om innovasie en kreatiewe aktiwiteite te bevorder.

Organisasies soos ReCreate South Africa het ook die goedkeuring van die wetswysiging verwelkom. ReCreate South Africa is ʼn koalisie van skrywers, rolprentmakers, fotograwe, opvoedkundige inhoudprodusente en ander Suid-Afrikaanse inhoudskeppers.

Die organisasie voer aan die wetswysiging sal help om die volgende generasie van Suid-Afrikaanse inhoud te voorsien omdat dit duidelikheid oor die regte rondom skepping, eienaarskap en inkomste verskaf.

Tusi Fokane, ʼn woordvoerder vir ReCreate South Africa, sê die wetswysiging het die “apartheid-era standaard” verwyder wat die opdraggewer van inhoud die gebruiklike eienaar van die werk maak.

“Die wetsontwerp verbeter die regulering van kontrakte en kollektiewe bestuurorganisasie om te verseker dat kunstenaars betaal word vir ons werk en boonop beskerm word teen misbruik en uitbuiting.”

“Verder is die uitsluitings van kopiereg gemoderniseer en ʼn gebalanseerde ‘binne redelike perke’ beginsel is ingestel wat digitale en ander gebruike van oorspronklike werke toelaat.”

Die implikasies van ‘redelike perke’

Du Plessis sê ook die term “binne redelike perke” is die belangrikste aspek wat deur die wetswysiging ingestel is.

“Dit is in die geval ʼn term wat in die Amerikaanse regstelsel gevestig is en nou in die plaaslike stelsel ingevoer is.

“Dis egter belangrik om te noem dat uitsluitings reeds deel was van die Suid-Afrikaanse kopiereg, maar dit was aansienlik meer beperk in die omvang en die aantal van die soort uitsluitings wat beskikbaar was.”

“Binne redelike perke” behels dat daar sekere uitsluitings van oomblikke is waar kopiereg nie sal geld nie. Waar die beginsel geld beteken dit ʼn persoon mag ʼn werk met kopiereg gebruik sonder die toestemming van die outeur of om tantieme daarvoor te betaal.

“ʼn Praktiese voorbeeld van waar dit kan plaasvind is by skole of universiteite waar die opvoedkundige instellings nou ʼn redelike hoeveelheid van ʼn handboek vir opvoedkundige doeleindes kan kopieer.

“Dit beteken ook dat ʼn groot hoeveelheid studente en vakrigtings nie meer handboeke sal benodig nie want ʼn universiteit kan byvoorbeeld nou ʼn leesbundel met gedeeltes van handboeke en artikels uit joernale aan studente voorskryf.”

Du Plessis meen die implikasie hiervan vir outeurs en uitgewers van hierdie soort tekste is drasties en ingrypend.

“PWC het ʼn verslag vir die betrokke parlementêre portefeuljekomitee voorberei. In die verslag het die firma gesê hulle verwag ʼn 30% daling in verkope van handboeke en ʼn 30% verlies aan werksgeleenthede in die bedryf.

“Mense dink dit is ʼn klein bedryf maar handboeke en akademiese boeke verteenwoordig sowat 60% van die Suid-Afrikaanse uitgewersmark.”

Hy glo die hoofrede vir die instelling van die gewysigde kopieregwet is doodeenvoudig om staatinstellings se koste te besnoei en die praktiese uitvloeisel daarvan is dat skole en universiteit goedkoper oor die weg gaan kom.

“Ja, in die korttermyn sal leerders en studente definitief wen, want hulle hoef nie meer vir tekste te betaal nie, maar op die langertermyn gaan ons ophou om sekere werk op te dateer. Die jongste studies sal nie bygewerk word nie en uiteindelik verarm dit die Suid-Afrikaanse ekonomie,” sê Du Plessis.

“Die inherente probleem met hierdie wysigingswetsontwerp is dat die regte hier meer en meer subjektief raak. Ek dink ʼn mens moet ʼn goeie tegniese begrip vir kopie- en outeursreg hê om te kan begryp net hoe intens en ingrypend van hierdie wysigings is en hoekom soveel skrywers en uitgewers so daarteen gekant is.”

Intellektuele eiendomsreg

Du Plessis sê kopiereg is ʼn interessante verskynsel omdat dit ʼn manier is om eiendomsreg te verkry op dinge wat nie regtig fisiek bestaan nie. Daar is geen natuurlike manier om ʼn idee sonder die reg te beskerm nie.

“Die filosofie agter kopiereg is om in ʼn sekere sin eiendomsreg te skep op die idees wat ʼn persoon het. Nou waarom sal ons dit wou doen? Die primêre funksie daarvan is om mense aan te moedig om meer en beter idees te hê.

“Eerstens maak die regering dit nou moeiliker om idees te koop en verkoop. Tweedens, wanneer ons kyk na akademiese werke, wat sekerlik een van die kern dryfkragte van idees is waar mense opgelei en die kans gegee word om deel te neem aan die kennisekonomie, word dié kernmeganisme geteiken met iets wat dit byna onmoontlik maak om betaal te word vir die ontwikkeling van ʼn idee.

“Ek vermoed op die lang duur sal Suid-Afrikaanse maatskappye moontlik in die toekoms ophou om werke soos handboeke te produseer en die effek hiervan sal verskriklik wees.”

Die wysigingswetsontwerp op kopiereg is nou verwys na die Nasionale Raad van Provinsies vir instemming.

Volgens Du Plessis kan dié raad dit aanvaar of verwerp of hulle kan dit aanvaar met voorgestelde wysigings. Daarna moet die president dit aanvaar, promulgeer en bekragtig.

“In teorie is daar ʼn kans vir die raad om dit verwerp maar die politieke werklikheid in Suid-Afrika is dat die raad eintlik maar net ʼn stempel is. Dit is bitter selde dat hier substantiewe veranderinge aan ʼn wysigingswetsontwerp aangebring word wat reeds deur die nasionale vergadering goedgekeur is. Daar is ook enkele gevalle waar die president die wysigingswetsontwerp terugverwys, maar dit is uiters seldsaam. ”

Maroela Media het berig die verwagting is dat die kwessie in die hof sal draai, maar op die oomblik is die ANC verbete daarop toegespits dat die nuwe bepalings wet moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

temerig ·

Nou koop n student n boek en 10 ander kopieer die boek. Nou gaan ek NOG minder salaris verdien!!! Boekwinkels gaan swaar trek; of hoe?

Charles ·

Nog ‘n probeerslag deur die kommunistiese ANC regime teen westers aanvaarde norme, ongelukkig vir hulle gaan ons dit nie daar los nie en sal die saak seker in die grondwetlike hof draai. Al hoe meer sake eindig aldaar op omrede die ANC nie meer gerespekeerde en geykte norme aanvaar nie maar dit uit die weg wil ruim deur hul alleshoorsende en afstootlike ideologie.

Hierdie geveg is VER van verby en ek ondersteun TEN VOLLE die genoemde skrywers en beswaarmakers!!

Andre ·

Die ANC leer by die Chinese. Wie is Rob Davies? Is dit nie die ou wat die hoender uitvoer Agoa fiasko gereel het nie, wat niks doen en dan ons vertel ons gaan Amerika wys wie is baas met handel as die ANC regering en amptenare net uit die blokke kan kom terwyl die tyd uitloop?

Jeremia ·

“Binne redelike perke” is doelbewus onbewysbaar vaag sodat dit moet lei na lang uitgerekte hofgedinge.
Trouens, net so onbekostigbaar duur om te probeer bewys in guns van die kopiereghouer soos vroeër voorgestel is met eiendomsonteiening sonder vergoeding “in openbare belang.”
Dis onmoontlik om te stry teen bewind met geen respek vir enige eiendomsreg nie.
Uiteindelik sal dit gaan soos in ou USSR – ‘n partykaart is nodig vir alles en politeke elite leef soos koninklikes.

Ai ja jai ·

En met hierdie wet as voorloper, is die volgende stap om die vervalsing en verkoop v CdDs en DVDs en ander produkte met bekende ‘brands’soos skoene, klere, tasse ens ens te wettig. Nou wonder ek of hierdie tipe strategie vd lot diewe wat hulself n regering noem, onder die internasionale aandag gebring word v bv Wipo ens. Kopiereg is n internasionale gebruik – is alles maar aanvaarbaar wat n korrupte afrika ‘gang’ wettig in n derdewerledse land net omdat die internasionale gemeenskap met dosyne eiers op hulle gesigte sit omdat hulle die paloekas aan bewind help kry het?

Sakkie ·

Wonder net of die wat moes stem presies geweet het waaroor dit gaan of net weer ore uit geleen aan verkeerde mense

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.