Die departement van omgewingsake het Vrydag bekend gemaak hoeveel renosters reeds sedert die begin van die jaar vir hul horings gestroop is.
“Altesaam 172 renosters is al sedert die begin van die jaar gestroop,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die Kruger-wildtuin is die ergste getref en hulle het reeds 113 renosters sedert 1 Januarie verloor.”
Agtien renosters is in Limpopo gestroop, 17 in Noordwes en 11 in KwaZulu-Natal.
“Altesaam 54 mense is reeds vanjaar in verband met renosterstropery in hegtenis geneem,” het Modise gesê. “In die Kruger-wildtuin is 24 mense aangekeer en 15 in KwaZulu-Natal.”
Modise doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om enige voorvalle van renosterstropery aan te meld.