Nuwe Struisbaai-skool die ‘toekoms van opleiding in SA’

Die nuwe vaardigheidskool op Struisbaai. (Foto: Skermskoot)

Die nuwe vaardigheidskool op Struisbaai wat skaars meer as ʼn maand gelede sy deure oopgemaak het, hoop dat sy benadering tot onderrig onafhanklikheid in sy eie gemeenskap en eindelik Suid-Afrika sal kweek.

Dit was ook die idee van die Wes-Kaapse onderwysdepartement en talle private donateurs toe dié fasiliteit teen ʼn koste van R36 miljoen op dié gewilde vakansiedorp gebou is. Die skool is gedeeltelik deur die provinsiale departement van onderwys en weldoeners opgerig en bied twee vaardigheidsopsies aan wat siviele instandhouding en voedselproduksie behels.

Die siviele instandhoudingskomponent sluit sweiswerk, metaalwerk, houtwerk, loodgieterswerk, elektriese werk, motorwerktuigkunde, glaswerk en bouwerk in, terwyl voedselproduksie op gasvryheid fokus.

“Ons grootste hoop is dat elke kind wat hier instap eendag as grootmens onafhanklik van die regering of enige soort toelaag sal wees. Elke kind wat hier opgelei word moet die vermoë hê om sy eie inkomste te geneer, hetsy op dié dorp of elders in die land,” sê Maryna de Villiers, hoof van die skool.

“As elke dorp ʼn soortgelyke skool het, kan ʼn dorp sy eie gemeenskap bemagtig om selfvoorsienend eerder as afhanklik wees.”

Volgens De Villiers, een van die meesterbreine agter die projek, is daar besluit om die skool te bou nadat ʼn behoefte hiervoor bepaal is. Luidens ʼn verklaring deur Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, val talle kinders op die dorp reeds op laerskoolvlak uit die skool. Altesaam 80% van leerders wat tussen 2002 en 2006 met gr. 1 op die dorp begin het, het skool verlaat voordat hulle matriek kon haal.

Dít is gedeeltelik omdat daar nie ʼn hoërskool op die dorp is nie en kinders na ander dorpe moet pendel, maar ook omdat hulle nie noodwendig die vaardighede het om in ʼn tradisionele skoolomgewing te floreer nie.

“Kinders word dikwels gedwing om akademies te presteer, maar nie almal is daarvoor aangelê nie. Hierdie skool is ʼn manier om kinders van die straat af te kry, vir hulle vaardighede aan te leer en dit te ontwikkel,” sê De Villiers.

“Die meeste lede van die plaaslike gemeenskap is afhanklik van toelae van Sassa [Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid], so om die hele gemeenskap te genees gaan lank vat, maar ons gaan hard probeer om dit reg te kry.”

Die skool se model is daarop gemik om nie net praktiese vaardighede te ontwikkel nie, maar ook ander waardegebaseerde leierskapsvaardighede wat nodig is vir ʼn suksesvolle lewe.

Slegs 30 leerders word tans by die fasiliteit geakkommodeer, maar De Villiers sê dit is doelbewus gedoen sodat daar ʼn persoonlike verhouding met elkeen gekweek kan word.

“Die kinders se selfvertroue is al op laerskool in flarde en moet nou opnuut opgebou word om hulle positief en gemotiveerd te kry. Ons wil ʼn noue verhouding met elkeen hê – soveel so dat ons by hulle deure kan aanklop indien hulle afwesig is, om te hoor wat fout is,” sê sy.

“Baie van hierdie kinders het ook reeds werk gehad, maar nou dat hulle weer in die skool is, het daardie bron van inkomste weggeval. Ons hoop om aan hierdie behoefte te voldoen deur ʼn markdag te hou sodat dit wat hulle geleer het, gebruik kan word om geld te verdien. As hulle die geleentheid kry om hul werk ten toon te stel en sien dat mense dit wil koop, sal hul hopelik ook meer vasberade wees om te presteer.”

Skool se potensiaal ‘eindeloos’

Volgens De Villiers is die miljoene rande wat nodig was om die fasiliteit te bou grotendeels deur lede van die gemeenskap, private donateurs en mense wat voorheen op Struisbaai gewoon het ingesamel.

Die provinsiale onderwysdepartement het altesaam R14,4 miljoen (40%) van die onkoste gedek, terwyl die Struisbaai SOS Trust daarin kon slaag om ʼn verdere R14,3 miljoen in te samel. Die res van die donasies is gegee deur mense wat hul vaardighede gratis aangebied het, soos ingenieurs en bouers.

“Die meeste van ons donateurs het die kerndoel van hierdie skool raakgesien en weet dat hierdie die pad is wat Suid-Afrika gaan moet stap om ʼn volhoubare ekonomie te bou,” sê sy.

Groot gedeeltes van die skool bestaan uit vraghouers wat omhul word met ʼn staalraamwerk en stapelmure wat geïsoleer is.

“Weens die aard van die boumateriale is dit vinnig opgerig. Ons het binne tien maande vandat ons begin bou het, ingetrek en gevolglik ons boukoste amper halveer,” sê De Villiers.

Die gebou is deur argitek Theuns Coetzee ontwerp en bied moontlikhede vir toekomstige uitbreiding.

Die Struisbaai Vaardigheidskool voor, tydens en nadat dit voltooi is. (Foto: Facebook)

Die skool vra nie enige skoolfonds nie, aangesien die departement onderneem het om die koste verbonde aan die dag-tot-dag bedrywighede te dek.

Hoewel daar slegs ʼn handvol leerders nou by die skool ingeskryf is, hoop die skool se beheerliggaam om jaarliks vir die volgende vier jaar met nog 30 leerders te groei tot 120 leerders hier kan skoolgaan.

Kinders van 15 jaar en ouer kan registreer. Hulle word dan vir vier jaar in hul gekose veld opgelei.

“Die vakke wat aangebied word, is só gekies dat dit by die gemeenskap se behoeftes pas. Tans is daar baie boubedrywighede in Struisbaai aan die gang en huise spring links en regs op.”

Die skool is op ʼn 5 ha eiendom gebou en dien as ʼn uitbreiding van die laerskool op die dorp. “Ons wil die laerskool mettertyd op dieselfde terrein as die vaardigheidskool bou sodat die twee skole eindelik mekaar komplementeer. Personeellede sal dan oor en weer aangewend kan word om leerders se onderrig aan te vul.”

Die beheerliggaam het reeds planne begin beraam om gewone gr. 8- en gr. 9-klasse by die skool te voeg, aangesien daar sprake is dat daar in die toekoms weer ʼn sertifikaat vir die voltooiing van hierdie grade uitgereik sal word. ʼn Moontlike sportfasiliteit word ook vir die skool beplan.

“Hierdie is ʼn loodsprojek wat in baie gemeenskappe in die Wes-Kaap ontplooi kan word om leerders toe te rus met diensbare en ekonomies lewensvatbare vaardighede,” het Winde tydens die skool se openingsgeleentheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolandie ·

Wat ‘n awesome inistiatief. Mag die jong mense wat hier skool sommer ‘n baie blink toekoms hê. Welgedaan!!!!!

Swerwer ·

Dit is ‘n wonderlike insiatief en kan ‘n positiewe bydrae lewer tot die gemeeskap as die departement wat onderneem het om die koste verbonde aan die dag-tot-dag bedrywighede te dek, dit wel doen.

Spook ·

Briljant! Die kinders het dan ‘n vaardigheid wat niemand van hulle kan wegneem nie. ‘n Aambag wat vir die res van hul lewens ‘n bron van inkomste kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.