NV keur wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake goed

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Die Nasionale Vergadering (NV) het Dinsdag die wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake met 240 stemme teenoor 90 goedgekeur.

Opposisiepartye is alles behalwe gelukkig aangesien dié wysigingswet, wat maar in Desember ter tafel gelê is, die sogenaamde finansieringsformule sal verander waarvolgens openbare politieke befondsing versprei word.

Die ANC stel met die wysigingswet voor dat die befondsingsformule van 66% proporsioneel en 33% billik na ʼn 90% – 10 % verander.

Brett Herron, sekretaris-generaal en parlementslid van GOOD, het Dinsdag in die parlement aangevoer dat sou pres. Cyril Ramaphosa die wysigingswet afteken, die regerende party se befondsing met 25% sal toeneem terwyl ʼn party soos GOOD met 50% minder befondsing sal moet klaarkom.

Herron het ook daarop gewys dat die formule waarvolgens openbare geld aan politieke partye uitgedeel word net drie jaar gelede gewysig is.

Die veranderinge het destyds ten doel gehad het om politieke diversiteit te ondersteun en te verhoed dat die stelsel skeefgetrek word. “Wat nou voorgestel word poog om presies die teenoorgestelde te bereik,” sê Herron.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, beaam dit.

“Die doel van artikel 236 van die Grondwet is om veelparty-demokrasie te bevorder. Die voorstelle van die ANC met die wetswysiging sal net die teenoorgestelde doen en slegs een party bevoordeel, naamlik die ANC.”

Mulder meen die wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake is ʼn onverbloemde poging van die ANC om nog miljoene rande van belastingbetalers se geld vir die regerende party se uitgedunde beursie te bekom.

“Dit sal nie slaag nie omdat dit lynreg indruis teen die voorskrifte van die Grondwet en omdat Suid-Afrikaners dit op elke vlak ten sterkste sal teenstaan, tot in die Grondwethof.”

Mulder sê die Grondwet maak dit duidelik dat befondsing op ʼn “billike en proporsionele” wyse toegeken moet word.

“Die ANC het ná 1996 hierdie formule omgedraai met proporsioneel eerste en billikheid tweede.

“Daardie proposionele toewysing was boonop 90% van die somtotaal wat beteken het die ANC het tot enkele jare gelede die grootste meerderheid van die befondsing gekry. Daar was geen ware billikheid hoegenaamd in hierdie formule nie.

“Dit het in 2018 ingevolgde die Wet op die Finansiering van Politieke Partye verander met ʼn formule van twee derdes proporsioneel en een derde billik wat heelwat gedoen het om die speelveld vir alle partye gelyker te maak en ware billikheid bevorder het.

“Nou wil die ANC terugkeer na die vorige model onder die dekmantel van befondsing vir onafhanklike kandidate.

“Die ANC speel met vuur en bring die komende verkiesing in die gedrang. Hy moet nie vir een sekonde dink ander politieke partye en burgerlike organisasies sal net hande gevou sit terwyl die ANC blatant probeer om weer die totale verkiesingsgeldkoek vir homself op te eis nie.”

Mulder sê die ANC moet pasop dat die howe moontlik wel uitvoering kan gee aan die voorskrifte van die Grondwet en besluit om ʼn waarde van 50% elk aan die billike en proporsioneel toe te ken.

“En omdat die ANC se eie geldsake net so haglik is as dié van die land wat hy 30 jaar regeer het, sal hy dan nie in staat wees om ʼn verkiesingsveldtog te voer nie.”

“Hierdie is desperate spronge van ʼn desperate party in ʼn poging om vir oulaas sy hand in die land se geldkoffer te druk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daisy ·

Ek hoop nie daar is EEN persoon wat dink hierdie verkiesingsveldtog en verkiesing gaan “free and Fair” wees nie

Papsak ·

Niks gaan regverdig en goed af loop waar die anc ens betrokke gaan wees nie onbevoeg en geen maniere nie opvoeding praat nie eers van so iets nie want hulle het dit nie !!!!!

Cassie Carstens ·

Daisy, die wetsontwerp goedgekeur is nie eens vry en regverdig nie, hoe sal die verkiesing dan anders wees? Dis waarom hulle slegs “Afrika” lande as waarnemers wil he en nie oorsese waarnemers nie, want die hele Afrika is bankrot en korrup en steun mekaar net, net soos wat ons terroristiese regering die verneukery in die Zim verkiesing vry en regverdig verklaar het.

Di ·

Kyk hierdie korrupte kaders sal tot op die einde alles in die stryd werp om die trog leeg te vreet voordat hulle dalk die skip verlaat. Nog nooit in my lewe sulke GIERIGHEID gesien nie, dis SKOKKEND

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.