NVG brouwerk laat slagoffer in die steek

John Schuurman (Foto: Verskaf)

Die staat se “gevoellose minagting van die regte van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld” en geregtigheid was Dinsdag ten volle in die Hatfield-landdroshof ten toon gestel.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê vir ’n derde agtereenvolgende keer het ’n staatsaanklaer versuim om die vereiste hofstukke in ’n saak van gesinsgeweld voor te lê, wat daartoe gelei het dat die saak voorlopig teruggetrek moes word.

AfriForum se eenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens die klaagster, Milene Hill, wat haar eks-kêrel, Johnny “Rockett” Schuurman van aanranding beskuldig het. Oorgenoeg bewyse van die beweerde misdryf, waarvan sommige deur die eenheid ingesamel en by die staat ingedien is, is in die dossier saamgestel. Die eenheid meen daar is ’n sterk saak waarop die beskuldigde moet antwoord.

“Ten spyte hiervan het herhaalde brouwerk by die hof en by die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) nou daartoe gelei dat hierdie saak teruggetrek is. Die aanklaer het vandag aan die hof gesê dat ’n advokaat by die DOV se kantoor in besit is van die dossier en ’n besluit vanaf die DOV, maar daardie persoon kon nie bereik word nie. Die landdros het die staat se aansoek om verdere uitstel van die hand gewys.”

Milena Hill (Foto: Verskaf)

Bateman sê hierdie verwikkeling sal Hill se strewe na geregtigheid vertraag. “President Cyril Ramaphosa se beloftes om geslagsgebaseerde geweld aan te spreek was veral ydel toe die NVG gedwing is om hierdie aanrandingsaak terug te trek. Die ontoereikendheid en onbevoegdheid van aanklaers wat in die howe vertoon word, is ’n skokkende getuienis van die lippediens wat ons gereeld van senior regeringsamptenare, insluitend die president, sien. Dit is ’n verregaande aanklag teen die stand van die strafregstelsel en verdere bewyse van hoe die staat die mees kwesbares in die samelewing faal.”

Die privaatvervolgingseenheid sal dit nou oorweeg om aansoek te doen vir ’n nolle prosequi- sertifikaat om die saak privaat te vervolg.

“Dit is duidelik dat die enigste manier om geregtigheid vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te verkry, is dat sulke sake privaat vervolg moet word,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Die onwilligheid of onbevoegdheid van aanklaers hou aan om slagoffers van hierdie nasionale pandemie in die steek te laat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die polisie doen nie hulle werk nie ,die howe ook nie so wat gaan volg totale anargie waar die kriminele die land regeer.

Koos 100 ·

Die staatsaanklaer kry die dosier by die polisie. Hierdie geval het die polisie niks verkeerd gedoen nie. Plaas die blaam waar dit lê.

Nie Verbaas ·

Weereens n voorbeeld van doeltreffendheid van ons regstelsel. Ek hoop net dat die saak nie ook n stille dood sterf soos baie ander nie.

AndrewL ·

Dit is hartseer om hierdie te lees. Tog is ek dankbaar dit kom uit.

Aanklaers laat slagoffers erg in die steek vir jare. Hul onbevoegdgeid laat baie polisiebeamptes rooi onder die kraag. Ooglopende sake word dikwels teruggetrek of vervolging so lank vertraag, dat klaers opgee.

As jou dossier nie by een van die bekwames uitkom nie, het jy moeilikheid. Hul tree soms meer op in die velang van die oortreder as in dié van die slagoffer.

Danie ·

Op die end van die dag het ons mos geleer hoe meer jy vir hulle doen eindig jy met al die werk op.So good luck

Swerwer ·

Ongelukkig is alles in hierdie land op ‘n prioriteit van velkleur gebaseer.

christo ·

Die georganiseerde burgerlike samelewing organisasies neem baie van die staat se pligte oor d.m.v. parallelle strukture soos Afriforum se
privaatvervolgingseenheid (howe), buurtwagte ( polisiëring), privaat ambulansdienste en die herstel van paaie infrastruktuur. Dit pas die ANC regering uitstekend want dan hoef hulle nie dié dienste te lewer nie en die staatsgeld wat begroot is daarvoor ongesiens verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.