OB wil skorsing betwis

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Adv. Busisiwe Mkhwebane wil haar skorsing as openbare beskermer (OB) in die hof betwis.

Die presidensie het Donderdag aangekondig dat pres. Cyril Ramaphosa die OB geskors het. Luidens dié verklaring het Ramaphosa die besluit ingevolge art. 194 (3)(a) van die Grondwet geneem.

Mkhwebane het Vrydag in ʼn verklaring die wettigheid van haar skorsing bevraagteken en gesê sy sal dié “verdagte besluit” uitdaag.

Sy meen dit kom neer op minagting van die hof, omdat Ramaphosa se besluit, volgens haar, die hooggeregshof se uitspraak vooruitgeloop het.

Maroela Media het vroeër berig die Wes-Kaapse hooggeregshof het Mkhwebane se aansoek – om die speaker te verhoed om voort te gaan met die proses – van die hand gewys.

Mkwebane het die “ontelbare Suid-Afrikaners uit alle agtergronde” bedank wat haar in die verband steun en vir haar bid.

“Ek sal ook die besluit uitdaag omdat dit ʼn verbreking is van die ondernemings wat die president via sy prokureurs aan my gegee het, deur ʼn president wat nou selfs meer van ʼn belangebotsing het gegewe die onlangse Glencore- en Phala Phala-klagte/ondersoeke.”

Sy meen die hofuitspraak fokus op tegniese aspekte en vereistes vir die tussentydse hofbevel, in plaas van op meriete daarvan of die president ʼn persoon wettig mag skors wat hom ondersoek vir ernstige oortredings wat tot ʼn staat van beskuldiging kan lei.

“Aanspreeklikheid, die oppergesag van die reg, regverdigheid en gelykheid voor die reg is die kern van die kwessies wat in hierdie saak geopper word. Ek bly hoopvol en optimisties dat geregtigheid eendag sal geskied en die waarheid sal seëvier daar waar aanspreeklikheid die nodigste is deur almal wat vertrou word met ernstige grondwetlike magte, insluitend die president, die speaker, die regbank en die openbare beskermer.”

Getuies mag geroep word

Intussen het die komitee vir die artikel 194-ondersoek na die OB se geskiktheid om in haar amp aan te bly, Vrydag bepaal dat die voorsitter van die komitee die magtiging het om getuies te roep om die komitee in sy taak by te staan.

Die voorsitter, Qubudile Dyantyi, mag persone ontbied om bewyse in te samel deur óf voor die komitee te verskyn of deur geskrewe beëdigde verklarings in te dien óf deur dokumente te bekom waar die teenwoordigheid van die persoon nodig is om die mosie te assesseer.

Die komitee het reeds 24 geskrewe reaksies ontvang teen die sluitingsdatum vir die publiek om bewyse by die komitee in te dien. “Die inhoud word hersien om te bepaal of daar enige insette was wat direk met die mosie verband hou en waar dit nodig sal wees om die betrokke persone te ontbied om verdere getuienis te lewer.”

Dyantyi het ʼn beroep op alle lede van die komitee gedoen om onpartydig op te tree en te waak teen enige uitsprake in die publiek wat ʼn negatiewe impak kan hê op die proses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.