Parlement mag voortgaan met mosie teen OB

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die speaker van die parlement kan nou voortgaan met ʼn mosie om adv. Busisiwe Mkhwebane uit haar pos as Openbare Beskermer te verwyder.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Mkhwebane se aansoek – om die speaker te verhoed om voort te gaan met die proses – van die hand gewys. Volgens die hof se uitspraak kan die parlement nou voortgaan met ’n mosie om Mkhwebane uit haar pos te laat verwyder.

Dit volg nadat Mkhwebane Donderdagaand met onmiddellike inwerkingtreding geskors is, hangende die uitkoms van dié einste mosie.

Pres. Cyril Ramaphosa het haar ingevolge artikel 194 (3)(a) van die Grondwet geskors, wat bepaal dat die president ʼn OB, ouditeur-generaal of ʼn lid van ʼn kommissie wat ingevolge hoofstuk 9 van die Grondwet ingestel is, enige tyd ná die aanvang van sy of haar amp kan skors.

Dié besluit volg ondanks ʼn brief deur Mkhwebane waarin sy redes aan Ramaphosa moes verskaf oor waarom hy haar nie ingevolge artikel 194(3)(a) van die Grondwet moet skors nie.

Mkhwebane het verlede jaar reeds ʼn aansoek teen die parlement se mosie gebring, maar dit is in Februarie deur die Konstitusionele Hof van die hand gewys.

Sy het toe ’n herroepingsaansoek by die hooggeregshof ingedien, wat ook nie suksesvol was nie. Dit het haar aangespoor het om ’n tweede herroepingsaansoek in te dien om die besluit te probeer omkeer.

Regter Nathan Erasmus het Vrydag met sy uitspraak in wese bevind dat die sake ter sprake reeds deur ander howe hanteer is. Hy het ook bevind Mkhwebane se aansoek “skiet tekort” aan die vereistes vir ’n interdik teen die mosie.

Die VF Plus het Mkhwebane se skorsing en die hof se uitspraak verwelkom en hou vol dat sy nie werklik bevoeg is vir die pos van openbare beskermer nie.

“Sy is juis in dié pos geplaas om oorsig te hou oor belastinggeld en om dit te beskerm teen onder meer wanbesteding en diefstal,” sê die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald.

“Die party sal tydens die parlementêre proses ook vra dat sy verwyder word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Die vrou het geen skaamte nie! Hoeveel keer is sy noual verkeerd bewys. Waar het sy haar sertifikate gekoop? Dom, dommer, domste! Ken nie die wette nie.

SjN ·

Bewys van 30% slaagsyfer is ook hier ter sprake. Die soustrein het gestop en nou gryp sy na die laaste grashalm.

Jr ·

Eish sissiewe, case no 10675 lost now. Not very good at your job are you. Net net voor Dhali mpoofi met 1 saak meer verlore as hy. Try racism, that is sure to help you win ma ‘damn

Samuel ·

Moet die madam Speaker haar ook nie uit haar eie pos verwyder nie? Mmm. Die saak gaan nog lank sloer.

annie ·

Dis hoe ‘n inploffing lyk in stadige aksie. En hoekom ons nog maskers dra… Vir die baie stof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.