Ondersoek ingestel oor drie vermoedelik ontvoerde kinders

Die 13-jarige seun wat ʼn vermeende ontvoering in Woodview, Phoenix, ontkom het, gesels met lede van die Reaction Unit SA (Foto verskaf/ANA)x

Beamptes van die Reaction Unit South Africa (Rusa), ʼn veiligheidsmaatskappy in Durban, is op soek na drie kinders wat Dinsdag vermoedelik in Phoenix ontvoer is.

Rusa het ná die vermeende ontvoering in Woodview, Phoenix, in ʼn verklaring gesê hulle is op soek na ʼn donkerblou Isuzu-bakkie met drie manlike insittendes.

“Die Rusa-bedryfsentrum in Phoenix het omstreeks 15:20 ʼn oproep om hulp ontvang van inwoners in Cilla Grove-singel. Hulle het dadelik bystand benodig nadat ʼn 13-jarige seun na hul huise gehardloop en verduidelik het dat drie van sy vriende ontvoer is. Beamptes het die kind op die toneel ondervra,” het Rusa gesê.

“Hy het gesê ʼn bakkie het by hulle stilgehou toe die seuns naby Woodview Park geloop het. Die insittendes het glo navraag gedoen oor waar hulle suikerriet kon koop. Toe die seuns die bakkie nader, het die drie insittendes probeer om die vier kinders te gryp. Die seun is die enigste een wat kon ontsnap.”

Volgens die seun is al die slagoffers van Amaoti en is skoliere by Amaoti Primary School en Brookdale Primary School.

“Weens ʼn gebrek aan bewyse is geen strafregtelike saak nog aanhangig gemaak nie. Die kind wat glo ontsnap het, is wel in die polisie se sorg oorgegee.”

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes het navraag gedoen by Phoenix-polisiestasie, maar daar is nie enige rekords van verwante voorvalle wat aangemeld is nie.

Rusa het gesê hulle is steeds op soek na die voertuig wat die kind beskryf het en ʼn ondersoek word gedoen om sy weergawe van die gebeure te bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.