Onderwysdepartement se ‘onvermoë skep krisis’

(Argieffoto)

Die burgerregtegroep AfriForum sê die enigste krisis in die onderwyssektor is die departement van basiese onderwys se onvermoë om die skuldiges vas te trek wat die eksamenvraestelle in die 2020-eindeksamen laat uitlek het.

Regter Norman Davis het Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria beslis die oorskryf van die twee uitgelekte matriekeindeksamenvraestelle is ongrondwetlik en matrieks hoef nie hierdie vraestelle oor te skryf nie.

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel sou ingevolge die besluit op onderskeidelik 15 Desember en 17 Desember oorgeskryf moes word.

AfriForum, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) en ’n groep individuele leerders van Ermelo in Mpumalanga het verlede week in drie verskillende dringende aansoeke die hof versoek om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se besluit – naamlik dat die eksamenvraestelle oorgeskryf moet word – te hersien en ongeldig te verklaar.

Die departement het Saterdag in ’n verklaring bevestig hoewel hy nie gelukkig is met die uitspraak nie, hy dit sal aanvaar.

Die departement meen dat die uitspraak nie die kern van die saak aangeraak het nie, naamlik wat die uitwerking sou wees as die departement se ondersoek later bevind dat die geloofwaardigheid en integriteit van die eksamen weens die uitgelekte vraestelle in twyfel getrek word.

Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum, sê die uitsprake van die departement is vergesog.

“Eerder as om die hofuitspraak te blameer, moet die departement daarop konsentreer om ’n behoorlike ondersoek te doen om die skuldiges vas te trek. Die departement moet ook vasstel hoe die vraestelle in die eerste plek uitgelek het om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom,” sê Venter.

Volgens Venter sou die departement se aanvanklike besluit – dat die vraestelle wel oorgeskryf moet word – en uitsprake dat hy nie die omvang van die lekkasie kan vasstel nie, ’n baie gevaarlike presedent skep indien vraestelle in die toekoms weer sou uitlek.

“Kommunikasie- en sosialemediaplatforms soos WhatsApp gaan deel bly van ons lewens. Gaan die departement elke keer wanneer ’n vraestel uitlek, vereis dat alle leerlinge gestraf word deur die eksamen oor te skryf omdat die departement kwansuis nie kan bepaal wie almal die vraestelle onder oë gehad het nie?”

AfriForum het ook aangedui dat hy graag wil sien teen watter aspekte van regter Norman Davis se uitspraak die departement gaan appelleer.

“Ons sal ook nie skroom om verdere regsaksies te voer indien enige eerlike matrikulant onregverdig benadeel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Onvermoë of word iemand beskerm

Begin by die toekennjng vzn die Tender en of genoeg
Skuriteit maatreëls in plek was.

JM ·

Alweer die rede by iemand anders soek vir hul eie onvermoë! “They always pass the buck.” Geen wonder dat Suid-Afrika van die swakste onderwysstelsels ter wêreld het nie.

Johan ·

Dis hoe Afrika werk…dis net verkeerd om uitgevang te word. Die straf is altyd nie vir wat jy gedoen het nie maar omdat jy uitgevang is. Nog niemand is uitgevang nie, so wat is jul storie, geen straf nodig nie, en daarby is hul nog verhoed om dit “reg” te maak ook. Dis hoe die goed (instellings) dink.

Anel ·

Hou kan hulle nie weet wie die vraestelle gekry het nie? Waar het hulle daar aan gekom dat 195 kinders die vraestelle gekry het?

Hennie J ·

Nou begin die gelieg want hulle is te treurig/onbevoeg/lui/om die saak behoorlik te ondersoek.Pass the buck.

christo ·

Die hof se uitspraak was korrek. Die skuldige leerders sou skotvry daarvan afgekom het indien die vraestelle oorgeskryf sou word. Uitlek van vraestelle kan direk voor die minister se deur gelê word. Indien daar nie daadwerklik opgetree gaan word teen die skuldiges nie, beteken dit dat net nóg onbevoegde staatsamptenare nie gestraf gaan word nie. In ‘n land soos die VK of Nieu-Seeland sou die minister van onderwys lankal self bedank het of afgedank geword agv so ‘n skandaal.

Janine ·

Nie in SA nie. Almal ry die soustrein. Intussen betaal ons kinders die prys vir die klomp onbevoegde, ongeleerde en onnosele sotte in beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.