Ongeluk eis gesoute Kaapse vlieënier

Mark Sampson. (Foto: Facebook / Mark Sampson)

Die lugvaartgemeenskap is geruk deur die dood van Mark (Sammy) Sampson (54), ʼn ervare Kaapse kunsvliegvlieënier, wat Dinsdag in ʼn vliegongeluk in Harare in Zimbabwe dood is.

Sampson, een van die stigterslede van Marksmen, die private akrobatiese vertoonspan, het die afgelope naweek saam met dié span aan ʼn lugskou van die Keniaanse weermagmuseum in Nairobi deelgeneem.

Sampson is dood toe sy vliegtuig tydens ʼn vliegtoertjie by die Prince Charles-vliegveld buite Harare neergestort het. Die voorval het tydens die span se terugtog na Suid-Afrika plaasgevind.

ʼn Video van die ongeluk is sedertdien wyd op sosiale media gedeel.

Marksmen het Sampson se dood in ʼn verklaring bevestig en gesê dat hulle die dood van ʼn uitmuntende vlieënier, geëerde spanlid, vertroueling en vriend betreur.

“Die Marksmen- aërobatiese span is verpletter en ons werk tans saam met Zimbabwiese owerhede.”

Mark Sampson. (Foto: Facebook / Mark Sampson)

Luidens Marksmen se webwerf het Sampson in Kaapstad grootgeword en sy vliegloopbaan op die ouderdom van 22 met ʼn burgerlike vlieglisensie afgeskop. Hy het in 1993 by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit waar hy op die Harvard T6 opgelei is. Sampson het later ook helikopters vir 22 Eskader in Kaapstad gevlieg. Van daar het sy vliegloopbaan van krag tot krag gegaan.

Hy het oor die jare verskeie toekennings verower, insluitend ʼn 11de plek in die internasionale aërobatiese kampioenskap in Pole in 2010.

Sampson was voorheen aan die Cathay Pacific-lugdiens verbonde waar hy onder meer ʼn kaptein op Boeing 747-stralers was. Hy het in 2014 by die Team Xtreme-formasievlugspan aangesluit. Nadat Sampson sy eie XtremeAir XA41-vliegtuig gekoop het, het die tweemanspan na vier uitgebrei en gereeld aan lugskoue deelgeneem.

Luidens die webwerf was Sampson ook lief vir motorsport, bergfiets- en vlieërbranderplankry.

Die Marksmen het dié plasing twee dae gelede op hul Instagram-profiel gedeel.

Verskeie sosialemediagebruikers het Woensdag hulde aan Sampson gebring.

Kgatlhi Nkhabelane skryf by ’n foto van hom en Sampson op Facebook dat dié vlieënier sy “rolmodel” en “held” is.

“Die lugvaartbedryf het ʼn legende verloor. Rus in vrede Sammy.”

Matthew Brooks beskryf Sampson as ʼn “inspirerende vlieënier en man”.

“My gedagtes en gebede gaan uit na sy familie en geliefdes.”

Brian Emmenis sê die nuus oor Sampson se dood het hom “platgeslaan”.

“Ons harte is gebreek, my liewe vriend. Mark Sampson, jy sal onthou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

philippus ·

Elke sport het sy beserings. En hoë risiko sport se beserings in gewoonlik fatal.

miche ·

Dis absoluut tragies. RIP.
Vliegongelukke het drasties toegeneem, veral in SA.
Ondersoeke na die oorsaak daarvan neem darem baie lank.
Dalk is dis tyd dat die brandstof behoorlik ontleed word?
As ek reg verstaan, kry Zim hoofsaaklik sy brandstof van SA af.

Kobus ·

Spesiale brandstof waarmee hulle vlieg. Nie die gewone brandstof wat by vulstasies gekoop word nie

Lillian ·

Dis verskriklik om iemand te sien sterf en jy kan niks doen om te help nie…

Sterkte aan sy familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.