Ongeluk op N4 eis lewe van ses mense

(Foto: Facebook/Mbonani news hub)

ʼn Botsing waarby twee sedan-voertuie, ʼn Mercedes-Benz en ʼn VW Polo, op die N4-tolpad betrokke was, het vroeg Maandagoggend die lewe van ses mense geëis. Die ongeluk het by Vosman in Emalahleni plaasgevind.

“Vier van die oorledenes was insittendes van die een voertuig, terwyl twee in die ander voertuig dood is,” sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga.

“Nog twee mense het ernstige beserings opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem.”

Volgens Mmusi het een van die slagoffers onherkenbaar verbrand.

“Die ondersoek om die oorsaak van die ongeluk te bepaal is reeds aan die gang, en roekelose en nalatige bestuur kan nie uitgesluit word nie.”

Intussen het Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, weer ʼn beroep op motoriste gedoen om behoorlike omsigtigheid aan die dag te lê wanneer hulle bestuur sodat dodelike ongelukke vermy kan word.

“Motoriste moet altyd hul veiligheid en dié van ander padgebruikers prioritiseer. Diegene wat lang afstande ry, moet gereeld pouses neem omdat baie van die noodlottige ongelukke deur moegheid veroorsaak word,” sê Shongwe.

R59 tussen Sasolburg en Parys gesluit

Die R59 tussen Sasolburg en Parys is tans gesluit nadat ʼn vragmotor wat 39 000 ℓ diesel vervoer het, omstreeks 06:30 omgeslaan en brandstof op die pad gemors het.

Motoriste word aangeraai om die Barrage-pad te gebruik om hul bestemmings te bereik.

Die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miena ·

Ek sien daagliks vroeg smorens wanneer ek werk toe ry hoe die mense onverskillig ry op die N4 (veral rigting na en van Witbank). En daar is mobiele spoedgrenskameras op strategiese plekke – maar dit word nogsteeds verontagsaam. En dan kry mens nog in die donkerte voetgangers wat ook oor die pad hardloop (sonder n refleksie merk). Die ongeluk van vanoggend was baie groot en nie n gesig om te aanskou nie. Jammer aan die 6 verskeie families wat deur die beproewing moet gaan nou. Sterkte vir almal betrokke.

Goldy ·

Op die einste stuk pad het ek al gesien hoe mense herhaaldelik oor dieselfde slagoffer van n vroee ongeluk ry, ten spyte daarvan dat die toneel beveilig was. Mense jaag net sonder om te dink.

bolletjie blom ·

Moet nie dronk bestuur uitsluit nie. Ek sit eendag in my kar en kyk hoe die bestuurder van ‘n polo (nogal nê) ‘n koelboks vol ys maak en drank daarin pak. Hy maak toe ‘n glas vol ys en klim met ‘n drankie agter die stuur van sy voertuig in en ry daar weg. So ja wie en wat gaan hom keer?

Miena ·

Nee Amelia daar is nie slaggate op enige gedeelte van die N4 vanaf Bronkies tot Witbank tot by Middelburg nie.

Sue ·

Daar is geen respek in SA Nie. Almal is belangrik en entitled. So Ek ry maar my 100 km in die stadige baan en maak plek Vir die ouens wat haastig is.

Wielspore ·

Hier sit ek dronk, agter my Polo se stuurwiel, hy is al ‘n skedonk want ek kan nie bestuur. Ek doen wat ek wil, almal bly stil, want dit is ook hulle wil. My tyd is om, want die wette is stom, ek lê nou in ‘n gat, heeltemal plat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.