‘Ons moet nou vir hulle ʼn stem wees’

Clinton Strauss by sy tweelingboetie, Quentin en sy jonger sussie. Suzette. Foto: Verskaf

Clinton Strauss by sy tweelingboetie, Quentin en sy jonger sussie. Suzette. Foto: Verskaf

Malegapuru Makgoba, die gesondheidsombudsman, het vroeër vandeesmaand onthul dat minstens 94 psigiatriese pasiënte het tussen Maart en Desember 2016 gesterf nadat hulle uit die Life Esidimeni-sentrum na verskillende nie-regeringsorganisasies (NRO’s) in die provinsie geskuif is. Die dodetal word intussen baie hoër geskat.

Een van die sentrums wat in Makgoba se verslag genoem word, is die Cullinan Sorg- en Rehabilitasiesentrum (CCRC), waar 25 van hierdie pasiënte dood is.

Esmé Strauss is bewus van die verdoemende bevindings teen die CCRC en ander die NRO’s en daarom desperaat op soek na ʼn ander heenkome vir haar seun, Clinton, wat tans in die CCRC behandel word.

Clinton (26) is in Junie verlede jaar na die CCRC oorgeplaas nadat die Gautengse departement van gesondheid hul kontrak met Life Esidimeni beëindig het. “Ons het net ʼn SMS van Life Esidimeni gekry om te sê hulle sluit en die pasiënte word geskuif. Ek het nie eens geweet waarheen Clinton geskuif sou word nie,” het Esmé gesê.

Sy vertel Clinton sou eers na ʼn sentrum in Atteridgeville geskuif word, maar sy het gevra dat hy na ʼn sentrum nader aan haar, in Brakpan, geskuif word. Hy is toe na die CCRC oorgeplaas.

“Die Sondag nadat hy opgeneem is, het ek hom by die sentrum besoek. Ek het seker ʼn uur en ʼn half lank na hom gesoek. Daar was niemand by ontvangs om te help om pasiënte te vind nie, dus moes ek gangetjie op en gangetjie af loop en aan elke deur klop totdat ek hom in ʼn saal opgespoor het.”

Esmé het in September verlede jaar die eerste keer agtergekom iets is nie pluis by die sentrum nie. Sy vertel Clinton het dikwels wonde of bytmerke gehad, omdat hy glo met ʼn ander pasiënt baklei het. Die wonde was dikwels ook nie behoorlik versorg nie en soms het versorgers glo net ʼn sneesdoekie teen die wond gedruk om die bloeding te stop.

Clinton Strauss is met sellulitis gediagnoseer. Foto: Verskaf

Clinton Strauss is met sellulitis gediagnoseer. Foto: Verskaf

“Clinton is serebraal gestremd en nie mobiel aan sy regterkant nie. Hy kan dus nie loop nie en is in ʼn rolstoel. Hy kan egter goed kommunikeer en niks is fout met sy geheue nie. Hy verstaan ook die verskil tussen reg en verkeerd,” sê Esmé.

“Wanneer ek vir Clinton gevra wat gebeur het, het hy gesê [ʼn ander pasiënt] het hom geslaan. My vraag aan hulle was dus hoe beland Clinton in ʼn bakleiery as hy nie kan loop nie? Hoekom laat hulle ander pasiënte toe om hom af te knou? Die personeel het dit net weggepraat en my nooit regtig ʼn antwoord gegee nie.”

Esmé vertel Clinton het ook gesê pasiënte wat baklei is in ʼn soort strafkamer geplaas. “Clinton het dit die hok genoem.”

ʼn Gevaarlig het ook vir Esmé geflikker omdat familielede nie toegelaat is om in die sentrum rond te beweeg nie. ʼn Veiligheidswag het hulle altyd vergesel en hulle kon hul familielede slegs in die besoekerskamer sien. Indien die besoekerskamers reeds beset was, moes hulle buite in die gang, binne hoorafstand van die sentrumpersoneel, sit en gesels. Esmé is na bewering ook nie toegelaat om enige foto’s van die sentrum te neem nie.

Die keerpunt het gekom toe sy Clinton weer op 5 Februarie besoek het. “Toe Clinton my sien, het hy dadelik begin huil. Ek het gesien sy been is stukkend en erg geswel. ʼn Vuil verband is net om sy been gedraai en dit het nie gelyk asof die wond skoongemaak is nie,” het Esmé gesê. By navraag het die personeel verduidelik Clinton het homself “gestamp”. Esmé meen dit is onmoontlik vir Clinton om homself te stamp, aangesien hy nie kan loop nie.

Esmé is met Clinton na haar huisdokter, wat bevestig het hy het sellulitis, inflammasie van die bindweefsel, wat dikwels deur bakteriële infeksie veroorsaak word. Clinton is in die hospitaal opgeneem, waar hy ʼn week lank behandel is.

Nadat Clinton uit die hospitaal ontslaan is, moes Esmé hom noodgedwonge terugneem na die CCRC aangesien sy geen ander heenkome vir hom het nie. Sy sê sy is in die proses om hom na ʼn versorgingsoord in Brakpan te laat oorplaas.

Dit was te laat vir hom

Jaco Stols was jare lank 'n pasiënt by die Cullinan Care and Rehab Centre. Foto: Verskaf

Jaco Stols was jare lank ‘n pasiënt by die Cullinan Care and Rehab Centre. Foto: Verskaf

Sandra de Villiers, wie se broer, Jaco Stols, jare lank by die CCRC versorg is, se ervaring stem baie ooreen met Esmé s’n. Haar verhaal het egter ʼn tragieser nadraai. Jaco is in Oktober verlede jaar in die CCRC se sorg dood.

“Ek wil so graag gaan kyk hoe dit met die ander pasiënte gaan wat nog by die CCRC versorg word, maar ek het nog nie die moed gehad om terug te gaan nie. Ek kan nog my boetie met sy beertjie in die hand in die gang afgehardloop sien kom. ‘My sussie is hier vandag!’ het hy altyd opgewonde gesê.”

Die bitter hartseer in De Villiers se stem is byna tasbaar wanneer sy oor Jaco (51) praat. “Hy het seergekry met geboorte en was daarom verstandelik gestrem. Hy het die verstand van ʼn tienjarige kind gehad, maar hy het ʼn baie goeie geheue gehad en kon heeltemal voldoende kommunikeer,” sê sy.

Sy vertel Jaco was jare lank in die CCRC versorg, maar hy het begin agteruit gaan in dieselfde tyd wat die Gautengse departement van gesondheid hul kontrak met Life Esidimeni beëindig het.

“Daar was maar dinge wat ons bekommer het. Hy het een keer ‘n blou oog gehad nadat hy ʼn hou op sy oog gekry het. Die sentrum het gesê hulle ondersoek die saak, maar daar het nooit iets daarvan gekom nie. Die klere en beddegoed wat ek vir hom gevat het, het altyd weggeraak. Soms het ek gesien hoe van die pasiënte op kaal matrasse sonder enige beddegoed lê,” sê Sandra.

Sy vertel sy is later nie meer toegelaat om vrylik in die sentrum rond te beweeg nie en kon Jaco net in die besoekkamer sien. “ʼn Veiligheidswag het jou oral begelei. Dit het meer gevoel asof ek vir my broer in die gevangenis gaan kuier as in ʼn sorgsentrum,” sê sy.

Teen middel verlede jaar het sy oor Jaco se welstand begin bekommerd raak. “Jaco het vir my begin siek lyk en het baie maer geword. As ek vir hom kos gevat het, het hy dit altyd so vinnig as moontlik verslind en veral die koeldrank op die plek leeg gedrink. Laat September het ek hom weer besoek en toe hulle hom besoekkamer toe bring, het hy hartstogtelik gehuil en gesê hy voel nie lekker nie. Hy het ook dadelik weer al die koeldrank wat ek gebring het, opgedrink.”

Jaco Stols die dag toe hy in die Mamelodi-hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

Jaco Stols die dag toe hy in die Mamelodi-hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

ʼn Besoek aan hul huisdokter het getoon Jaco se suikervlakke was abnormaal hoog, wat verduidelik waarom hy altyd so dors was. Jaco het ʼn skrale 39kg geweeg en was volgens die dokter ondervoed. Daar was ook beserings aan sy lyf, waarvan die dokter foto’s geneem en ʼn verslag oor geskryf het.

Jaco is terug na die CCRC met medisyne en streng opdrag van die dokter dat hy dit daagliks moet drink. ʼn Paar dae later het Sandra hom weer besoek en is hy in ʼn rolstoel na die besoekkamer gebring. “Ek het gevra hoe dit moontlik is dat hy nou so verswak het dat hy in ʼn rolstoel is. Ek het gevra of hulle sy medisyne vir hom gee. Die verpleër wat hom gebring het, het gesê hy weet nie van die medisyne nie, want hy het daardie dag eers aan diens gekom,” vertel Sandra.

Op 3 Oktober het Sandra die sentrum gebel om te hoor hoe dit met Jaco gaan. ʼn Personeellid het gesê hy voel aansienlik beter en eet en loop weer self. Twee ure later het die sentrum Sandra gebel en haar ingelig hulle is met Jaco op pad na die Mamelodi-hospitaal.

Sandra het dadelik hospitaal toe gery om vas te stel wat aangaan. “Toe ek daar aankom, het hy by die opname-gedeelte saam met ʼn verpleegster van die sentrum gesit. Jy kon ooglopend sien hy is siek. Hy was glad nie die Jaco wat hy altyd was nie. Hy het net in so bondeltjie in sy rolstoel gesit met sy armpies gevou. Dit was hartverskeurend. As ek weggestap het om ʼn dokter te soek, het hy heeltyd my naam geroep.”

Jaco is in die hospitaal opgeneem en is tien dae lank in die hospitaal behandel. Die aand van 14 Oktober 2016 het ʼn hospitaalpersoneellid gebel om te sê hy is oorlede. “Hy is glo aan ontwatering dood, maar ek weet nie regtig nie. Ons wag nou nog vir die uitslae van die nadoodse ondersoek.”

Sandra vertel ʼn dokter het op die dag wat Jaco opgeneem is, gesê hy is so erg ontwater dat dit klaar amper te laat is. Hy is egter nooit in die waakeenheid opgeneem nie, weens ʼn tekort aan beddens. “Hulle het vir my gesê hulle skuif eerder pasiënte na die waakeenheid wie se hele lewe nog voorlê en wat nog voluit kan lewe,” het Sandra hartseer gesê.

Sy sê sy wou Jaco graag uit die CCRC na ʼn ander versorgingsentrum skuif, maar beskikbare plek is oral ʼn probleem. Dit was ook nie moontlik om hom tuis te versorg nie, omdat sy bedags werk en Jaco te alle tye toesig en versorging nodig het. Sy het ook by ʼn private sentrum aansoek gedoen en Jaco is op die waglys geplaas, maar ʼn plek was nooit beskikbaar nie.

“Ek voel geregtigheid moet nou geskied, nie net vir Jaco nie, maar vir almal wat nog agterbly. Die mense in hierdie sentrums is so weerloos. Ek glo die Here het hulle ook vir ʼn rede op hierdie aarde geplaas. Dalk is dit om vir ons te wys wat belangrik is, want al wat vir hulle belangrik is, is liefde en aanvaarding. Ons moet nou vir hulle ʼn stem wees.”

Die pad vorentoe

Sandra de Villiers sê van die pasiënte by CCRC het soms op kaal matrasse sonder enige beddegoed gelê. Foto: Verskaf

Sandra de Villiers sê van die pasiënte by CCRC het soms op kaal matrasse sonder enige beddegoed gelê. Foto: Verskaf

Maroela Media het die CCRC om kommentaar genader, die sekretaresse van die uitvoerende hoof van die sentrum het ons na die Gautengse departement van gesondheid verwys.

ʼn Woordvoerder van die departement van gesondheid het Maroela Media se verslaggewer na die Gauteng-premier se kantoor verwys. Die woordvoerder van die premier het egter gesê slegs die provinsiale departement van gesondheid kan oor die bewerings kommentaar lewer. ʼn Tweede poging om kommentaar van die departement van gesondheid te kry, was tot dusver tevergeefs. Maroela Media wag steeds op terugvoer.

De Villiers is intussen deel van ’n klasaksie teen die departement van gesondheid wat deur Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur gaan word. Maroela Media het vroeër berig Helpende Hand meen die pasiënte is in die sorg van nieregeringsorganisasies oorgeplaas sonder dat die departement van gesondheid genoeg voorbereiding getref het vir die oorplasings wat die departement gemagtig het.

'n Onbekende pasiënt by CCRC. Foto: Verskaf

‘n Onbekende pasiënt by CCRC. Foto: Verskaf

Die klasaksie word ingestel om geregtigheid vir die families te kry, aangesien Helpende Hand meen growwe nalatigheid van die departement is die oorsaak dat die naasbestaandes van die oorledenes onnodige pyn en lyding moes deurmaak.

Dr. Gwen Ramokgopa, die Gautengse LUR vir gesondheid, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die departement is tans besig om die gesondheidsombudsman se aanbevelings te implementeer.

“Ons het verlede week ʼn databasis en mediese rekords van Life Esidimeni Healtcare gekry van al die pasiënte wat uit hul geriewe ontslaan is. Ons het ook ʼn lys van pasiënte wat oorlede is, asook ʼn lys van onopgeëiste liggame en mense wat as onbekendes begrawe is,” het sy gesê.

“Ons werk tans saam met twee kenners van die statistikus-generaal se kantoor, die SAPD en binnelandse sake, om al die rekords te bevestig sodat ons verantwoording kan doen vir al die pasiënte.” Ramokgopa het gesê 789 pasiënte is nog in die sorg van die NRO’s en die proses om al hierdie pasiënte na ander instansies oor te plaas, sal volgende week begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

26 Kommentare

Eugene ·

Hierdie mense se optrede is opsetlik , nie eers grof nallatig nie.Alle verantwoordelike persone moet aangekla word van moord tot mishandeling.

Johann ·

Dit is voor die handligend dat hierdie mense baie min Indien enige idee het in watter toestand die pasiënte verkeer, dankie dat daar wel ‘n koerant soos Mandela is wie in diepte kennis van die toestande het, en bereid is om ‘n pad met. Ek hou styf duim vas dat hulle probleme baie gou iets van die verlede sal wees, sterkte vir julle almal

Regstelling ·

Miskien eerder ‘n koerant soos ‘Maroela’ en nie ‘Mandela’?

AL ·

Sterkte aan die families. Dis hartseer dat daar nie behoorlike sorg en toesig is by ccrc nie. Hulle is veronderstel om n naastediens te lewer. Indien dit nie jou roeping is nie, maar weens omstandighede is jy gedwing om die werk te vat – doen dit darem ten minste tot die beste van jou vermoe tot jy wag vir n ander werk.

Cherokee ·

Waar lees jy die Mandela koerant, Johann? Nkandla Uitgewers?

m ·

Hierdie is so hartseer mens weet nie wat om te se nie. Niemand verdien sulke behandeling nie. Niemand vra om gestrem te wees nie so hoekom moes hulle so behandel word asof hulle lewens niks werd is nie. ek hoop regtig hierdie families skop hel op oor die behandeling wat hierdie arme weerlose mense gekry het.

Johann ·

Maroela…Helpende Hand….wat DOEN ons om NOU te help? Dis afskuwelik om te moet toesien wat gebeur!!!!!!!!

Johann ·

Maroela…Helpende Hand….wat DOEN ons om NOU te help? Dis afskuwelik om te moet toesien wat gebeur!!!!!!!! Verstaan die klas aksie geding, maar intussen gaan die onbesonne onbekwame onsimpatieke gemors bloot aan?

So jammer ·

Nee my magtie dit is GRUWELIK. Al die besluitnemers moet aan die pen ry. Tweedens wil ek weet hoekom het die familielede van hierdie mense nie ALMAL BYMEKAAR gekom en gaan kla of ‘n brief vir die Minister geskryf of koerante toe gegaan nie. Ek verstaan indiwidue was bang vir wraak en intimidasie, maar genade, kyk hoe lê die mense op kaal matrasse!! In wie se boeke is dit reg? Gestremde mense wat geslaan word en blou oë het en oop wonde, waar is die toesig? NEE genade ons, ek blameer NIE die families nie, ek blameer eerstens die mense wat die besluite moes neem, maar ek vra net MOOI vir al die families van gestremdes of ouers in ouetehuise, HOU JULLE OE OOP. Roep al die ouers en familie van die mense saam en VERGADER en loods ‘n petisie, julle MOET veg vir hierdie mense wat nie vir hulleself kan veg nie. ASB vertrou niemand nie. JULLE moet die hoogste eise moontlik insit vir hierdie mense se dood, geld kan hulle nie vervang nie, maar verseker kan julle darem ‘n mate van closure daarmee kry dat ander nooit dieselfde hoef deur te maak nie.

Spook ·

Hoekom begin dit lyk of dit weer n manier was om van wit mense onslae te raak. Die fotos wat julle hier opgesit het wys dan net wit mense.Dit maak saak of jy wit of swart is nie niemand verdien dit nie veral nie die wie hulle nie self kan help nie. Bevraagteken maar net wat ek sien. En in ons huidige omstandeghede waar witmense verklaar is as onkruid wie neem my kwalik

Estelle ·

Absolute skande!!! Dankie Maroela dat ons kan sien wat in die wereld aangaan sodat ons n verskil kan maak in die arme mense se lewens. Ons moet opstaan vir ons medemens en help waar ons kan. Daar is al so baie lewensverliese en hierdie ongenaakbare optredes teenoor weerlose mense moet nou gestop word!!! Gebed alleen sal nie n oplossing wees nie daar moet aksies wees!!!

Johanna Botha ·

Nie eers een van die 27 sentrums het n lesensie gehad nie …nie eers een nie ! Verder is die mense dood aan dehidrasie en wanvoeding ….hoe nalatig !! Verder is baie van die oorledenis begrawe SONDER dat die familie eers inkennis gestel was …regtig red nou n nasie met sulke mense aan die stuur van sake ….PATETIES !

Janee ·

Ek het self ‘n gestremde dogter vir wie ons sorg en weet hoe moeilik dit kan wees maar hierdie mense het ongelooflike baie aandag (en liefde) nodig wat nie maklik in sulke plekke gegun is nie. Moenie hulle in hierdie inrigtings wat deur die staat “bestuur” is los nie.

Peet Schabort ·

Ek skryf hier onder my regte naam.
Dit is onaanvaarbaar dat sulke wreedheid kan plaasvind in ‘n sogenaamde SA waar daar klem gelê word op “HUMAN RIGHTS”. Waar de duiwel kom julle vandaan om hierdie mense so wreedaardig te behandel? Dit skyn so al vir my te wees dat diegene wat met hierdie mense werk nie daar hoort. Moontlik ‘n sadistiese behae wat nou uitgeleef kan word? Ook lyk dit asof hulle (die versorgers) self nie familie of vriende het wat hierdie tipe van versorging nodig het.
Hier sal ek moet STOP want anders sal MM nie my kommentaar plaas.

w ·

Verpleeg personeel as jy harteloos is en ni vi gestremdes omgee en hul menslik behandel ni voertsek dan huistu. Gan vrek by huis vani honger en stel mense aan wie omgee

w ·

Skande. Mense in poste wie ni Omgee. Net da vi di salaris. Skande skande

Nooitweer ·

Ek was jare terug, kort na my opleiding as terapeut, op besoek aan die sorgsentrum. Hierdie is nie net onlangs nie, ek onthou van ‘n erg gestremde meisie wat op ‘n uitgepofde kussing in die gang gelê het. Reg in die son. Op navraag sê hulle, sy hou van die son, ons trek haar maar elke dag so al agter die son aan in die gang af. En dit was haar lewe, geen poging tot stimulasie. Ek was skoon geskok oor dit, en die algehele gebrek aan higiëne. Tot ek smalens toegesnou is ‘jy sal ook nog groot word.’ Maar ek het duidelik nie – daardie beelde spool vandag nog by my.

Willem ·

Ek is seker die werklike rede agter die verskuiwings was SEB.
Het iemand al opgevolg wie is die eienaars van die sogenaamde “sorg sentrums”?
Dis nog ‘n bewys dat ons nie op die staat kan vertrou nie. Ons moet eie skole, hospitale en universiteits hè.
Van wat ek hoor gaan dit nie veel beter in sommige staatshospitale nie.

Katjie ·

Ai dit maak mens so hartseer om te sien daar is nie eers genade vir die weerlose nie . Hoe kan jy mense so behandel en nog lekker slaap in die aand ? My hart gaan uit na julle , en vir die wat oorlede is glo ek sit nou rustig by die voete van die Here !

Ouman ·

Dit is tyd vir ‘n paar amptenare om bietjie die binnekant van die tronk te leer ken. Begin sommer by die mees senior van die spul. Dit was duidelik net weer ‘n geld maak storie. Die ondersoek moet sommer eerste gedoen word die eienaars van die plekke. Sal nie verbaas wees as sommige in die parleoment skuil nie

broos ·

dis dieselfde oral….my sussie is by ‘n plek in Garankuwa en dis so hartseer om te sien hoe ons witmense behandel word. daar is ‘n verskriklike tekort aan plek vir volwassenes en ons sukkel al 3 jaar lank om haar nader te skuif. privaat plekke is onbekostigbaar en staatsplekke is daar hopeloos te min van met hartelose mense wat na hulle moet kyk :-(

Esme Strauss ·

die wedloop is aan om nou vir Clinton dringend ‘n ander blyplekkie te kry……..

Verduidelik Asseblief ·

Hoe het ‘n ma geen ander heenkome vir haar kind nie? Vat hom huistoe as hy so sleg behandel word daar. Hy is nie fisies siek dat hy in ‘n hospitaal moet wees nie, hy is gestrem. En soos die ma verduidelik kan hy nie loop nie maar kan hy goed kommunikeer. So waarom moet die arme seun dan in so plek wees. Is ek die enigste persoon wat dit totaal en al belaglik vind dat daar nie self na hulle kinders gekyk kan word nie? Indien ek hier verkeerd is, lig my asseblief in maar ek ken baie mense wat self na hulle gestremde kinders kyk (van hulle is lankal nie eers meer kinders nie).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.