‘Ons vier nie meer Kersfees nie’

Deon se ouers, Deon sr. en Susan.

Kersfees is om die draai. ʼn Feestelike tyd van samesyn en vreugde vir families. Vir die De Bruyn-gesin is dit egter een van die moeilikste dae van die jaar.

Susan en Deon de Bruyn sr. en hul twee volwasse kinders het opgehou om Kersfees saam te vier nadat hul seun en broer, Deon de Bruyn (25), op 17 Junie 2018 op ʼn plaas naby Komatipoort, Mpumalanga, doodgeskiet is.

“Van daardie dag af het die verhoudings tussen lede van die gesin stadig maar seker begin verbrokkel,” vertel Susan.

Behalwe dat die gesin die dood van ʼn geliefde moes verwerk, moes hulle die bykomende emosionele trauma van ʼn sloerende hofsaak verduur, wat meer as vier jaar geduur het. Die saak is keer op keer om verskeie redes uitgestel en die Covid-19-pandemie het die hofsaak verder vertraag.

Deon de Bruyn

Sewe mans is eindelik verlede Vrydag in die hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, gevonnis vir die moord op Deon en poging tot moord op Estelle Jansen.

Hulle is ook skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die rig van ʼn vuurwapen.

Sifiso Happy Madonsela, Solomon Msimango, Raul Mhlanga, Derrick Makamo, Oscar Johannes Chauke en Andy Hendry Mahonga is elkeen tot 15 jaar tronkstraf gevonnis en Fannie Mandla Mkhabela tot lewenslange tronkstraf.

Deon het saam met Estelle Jansen op die plaas met suikerriet, mango’s en groente geboer. Deon is tydens die aanval net bo die hart geskiet en Estelle is drie keer geskiet. Deon is op die toneel dood.

Verligting

Deon de Bruyn [Foto: Verskaf]

Susan sê hoewel die gesin aan die een kant tevrede is met die vonnis en dat die mans agter tralies is, voel sy die twee “meesterbreine” agter die moord – Mhlanga en Makamo – kon ook lewenslange tronkstraf gekry het.

“Die twee het die hele storie begin en moes ook lewenslange tronkstraf gekry het. As dit nie vir hulle was nie, was die een wat vir Deon geskiet het ook nie daar nie.”

Die gesin is wel verlig dat die hofsaak verby is.

“Ons gaan die nuwe jaar binne sonder ʼn swaard wat oor ons koppe hang. Die hofsaak het sy tol geëis.”

Ondanks die verligting sê Susan “haar hele wese is doodmoeg” en haar houding teenoor die skuldiges het ook nie verander nie.

“Ek kan steeds nie vergewe en vergeet nie. Al is hul vryheid nou van hulle weggeneem, lewe hulle steeds en hul familie kan hulle steeds sien en bel. Ons het niks meer nie. Ek voel ons is gestraf vir die res van ons lewens vir iets waaraan ons geen deel gehad het nie.”

Deon sou Maandag 30 jaar oud geword het en volgens Susan vier hulle nog elke jaar sy verjaarsdag.

“Elke jaar koop ek nog vir hom koek en gaan sit kersies op vir sy verjaarsdag. Dan los ons die koek by sy graf vir die voëltjies om te eet. Ons kry ook gewoonlik luglanterns of ballonne en maak sy gunstelingkos om sy verjaarsdag te vier.”

Uitwerking op die familie

Die kruis vir Deon

Susan vertel haar kleinkind (Deon se susterskind) mis haar oom Deon nog elke dag en koop klere met trekkers daarop omdat dit “haar aan oom Deon se trekker laat dink”.

Sy was maar twee jaar oud toe Deon vermoor is.

“Sy sê oom Deon kom kuier ook gereeld nog vir haar en sien om na haar.”

Susan vertel toe haar ander seun getrou het, het sy begin huil – nie uit blydskap nie, maar omdat sy weet dat Deon nooit die voorreg gaan hê om te trou nie.

Susan het in die slagofferimpakverslag wat sy by die hof ingedien het, gesê hul gesin leef verby mekaar.

“Dit is omdat ek en Deon sr. probeer om die seer te verwerk sonder om ons ander kinders te betrek. Die kinders wil ook nie oor die verlies praat nie omdat hulle bang is hulle maak ons verder seer,” lui die verslag.

“Die gevolg is dat elkeen sy eie pad gaan en probeer om die volgende een van seerkry te spaar. Ek dink ook dit is baie moeilik vir kinders om te sien hoe hul ouers hierdeur gaan en hulle kan niks doen om dit beter te maak nie.

“Jy sal dink om ʼn kind te verloor sal ʼn gesin bymekaarbring, maar dít gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.