Onthul: Só lyk ʼn transitorower; die fyn beplanning agter dié rooftogte

ʼn Omvattende studie oor kontant-in-transitorooftogte (KIT) het bevind dat die polisie nie oor die intelligensievermoë beskik om dié soort misdaad suksesvol te voorkom of te ondersoek nie. Agente en beriggewers word gereeld uitgerook en die misdadigers wat hierdie rooftogte uitvoer, is altyd ʼn stappie voor die manne in blou.

Boonop is politici ook betrokke, maar as kriminele en nie as ʼn politieke verteenwoordiger nie. Bekendes wat nog vryloop sluit ook in prokureurs, landdroste en aanklaers, maar die groot skuldiges is polisiebeamptes en veral dié wat misdaadintelligensie insamel en uitdeel.

Geen rooftog sal ook uitgevoer word sonder inligting uit die binnekringe nie en werknemers van kliënte en banke gee inligting aan die rowers wat hulle opvolg, toets en verskeie kere inoefen voor die roof uitgevoer word.

Dit is van die vele skokkende onthullings in die boek Transito: The truth behind the big-money robberies, wat pas verskyn het uit die pen van die dr. Hennie Lochner, ʼn voormalige lektor by Unisa se departement polisiepraktyk. Die navorsing vir sy se doktorale proefskrif het in 2011 begin en die boek wat nou op die winkelrakke is, is verlede jaar voltooi.

Tydens sy vroeëre polisieloopbaan van 30 jaar was Lochner onder meer die bevelvoerder van die eenheid vir ernstige geweldsmisdaad in Limpopo. Hy was later op hoofkantoor verantwoordelik vir die koverte insameling van inligting oor KIT-rooftogte in Gauteng.

Hy het aan Maroela Media gesê sy navorsing het nogtans sy eie onkunde oor KIT-rowe vir hom uitgewys en ook hoe hierdie ondersoeke eintlik benader moet word. “Ek sal nou ʼn KIT-roof met ʼn ander benadering en strategie ondersoek en weet hoe om bewyse van die modus operandi wat op tonele agtergelaat word te identifiseer en te gebruik.”

Uit die onderhoude wat Lochner oor 186 uur met 21 gevonnisde misdadigers in tronke gevoer het, blyk dit dat alle KIT-rowers in hul misdaadloopbane gegroei het en langer as ʼn derde van hul lewens by misdaad betrokke was. So ʼn misdaadloopbaan het gewoonlik begin met die steel van ʼn trapfiets en daarna het ander oortredings ʼn voorspelbare patroon gevolg: diefstal, huisbraak, huisroof, ander roof, gewapende roof, bankroof en dan transitoroof.

Lochner sê dis ʼn eksklusiewe groep rowers wat KIT-rooftogte uitvoer en hulle is maar sowat 1% van alle rowers. Hul eerste kennismaking met die gereg was op die ouderdom van 15 jaar en hulle word gemiddeld op 36 jaar vir die eerste keer vir KIT-roof in hegtenis geneem.

Hul motivering is altyd gierigheid, terwyl die beskikbaarheid van baie geld wat op een slag geroof word en die weelderige leefwyse waaraan hulle gewoond geraak het ʼn verdere rol speel. “En hulle sien hulself ook nie as kriminele nie, maar as persone wat die hoogste aansien onder die misdaadbevolking en in die misdaad-milieu beklee,” vertel Lochner.

Die een eienskap wat veral uitstaan, is dat ʼn KIT-rower onverskrokke moet wees en onverskrokke beteken hier dat die rower sy plig wat hom opgelê is, nougeset moet uitvoer. Uitpraat is taboe en om nie onder druk op die toneel en tydens ondervraging te swig nie, is nog ʼn voorwaarde.

Die groep wissel altyd, dit gaan oor die inligting wat ingesamel word en nadat ’n rooftog uitgevoer is en die geld gedeel is, sal elke rower op sy eie weer na ʼn teiken soek. “Die rower wat eerste ʼn geskikte teiken identifiseer, sit die bal aan die rol en dan word inligting gesuiwer en geskikte kandidate vir die rooftog geïdentifiseer en beoordeel.

Hennie Lochner.

Lochner sê as al die betrokke rowers nie na ʼn rooftog in hegtenis geneem word en in aanhouding gehou word nie, is daar dus probleme. “Dis soos ’n kankersel – as jy nie alles uitsny nie, versprei dit.”

Het hy die mens agter die misdaad leer ken?

“Ja, ek het en dit het my tot die besef laat kom dat hulle die mees gevaarlike misdadigers in Suid-Afrika is. Gewetenlose misdadigers met geen respek vir enige lewe nie en wat hulle nog meer gevaarlik maak, is dat hulle soos enige persoon op straat lyk en hulle ook so gedra,” sê hy. “Maar in die beplanning en uitvoering van die KIT-roof is hulle gewetenloos.”

Hy vertel dat twee van die rowers in die tronk se lyftaal hom tydens die onderhoude bang gemaak het en dat dit veral die genot was waarmee party die uitvoering van die misdaad beskryf het wat hom laat besef dat hulle uiters gevaarlik is.

Oor of tronkstraf werklik ʼn afskrikmiddel is, het Lochner ʼn voorwaarde: “Dit moet lewenslank wees, nie 25 jaar nie. Lewenslank word misverstaan in ons land en beteken vir die res van die misdadiger se lewe, hoewel korrektiewe dienste later ʼn ondersoek na parool kan doen.”

Hy sê die rowers het ook self die antwoorde verskaf oor hoe die vlaag van transitorooftogte gestop kan word. “Kry polisiebeamptes, aanklaers en werknemers wat nie korrup is nie en kry die polisie en ander intelligensiedienste om ʼn daadwerklike poging aan te wend om eers inligting oor die misdade en die rowers te bekom en dit te verwerk tot intelligensie wat as getuienis in die howe aangebied kan word.”

Die boek is by Unisa Pers en Graffiti-boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cornelius ·

Ons is vinnig op pad om soos die res van Afrika te lyk. Wat ek nie verstaan nie is dat blanks nog kinders maak terwyl daar geen toekoms vir hulle is nie.

4ntj13 ·

Korrupte polisie, aanklaers én werknemers? Jô! Nou hoe op aarde stel mens dít reg sonder verantwoordeliker politici?

Realis Thailand ·

Wat die Dr Lochner se is geheel en al waar en dit sal nie verander voor daar n nuwe regering is wie ontslae raak van sulke polisie, aanklaers ens en dit sal nie in julle leeftyd gebeur nie
Dus het julle die keuse in die land of leef daarmee voort as deel van julle lewenswyse of emigreer na n ander land.
Afrika verander nie ,jy moet die verandering in jou lewe maak en ek het n leeftyd van ondersoek agter die rug waarvan 17 jaar as n speurder en later offisier in die speurders.

lollapot ·

Baie leersame inligting. . . EN, politici is betrokke. Hoekom skok niks my meer nie? Dankie Hennie Lochner, ek skaf beslis jou boek aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.