Onvoltooide Bloem-pad ’n kopseer

Vereeniging-rylaan

(Foto: Verskaf)

’n Beswaarskrif met 661 handtekeninge is in Augustus by Enoch Godongwana, minister van finansies, ingedien oor die halfgeboude Vereeniging-rylaan in die suide van Bloemfontein, wat reeds Maart vanjaar voltooi moes gewees het.

Die pad kan glo nie voltooi word nie, omdat die kontrakteurs nog vir hul geld wag. Inwoners kla die onvoltooide pad kos hulle tyd én geld, aangesien hulle nou al maande lank met ’n ompad van sowat 30 km werk toe moet reis.

Die beswaarskrif, wat ook aan die waarnemende bestuurder en speaker van die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit gerig is, versoek die munisipaliteit om die pad teen einde Augustus oop te stel, maar tot op hede is daar niks aan die saak gedoen nie.

Volgens David McKay, DA-raadslid van die metro, het die munisipaliteit nie die subkontrakteur betaal nie en sodoende het die werk tot stilstand gekom. Die subkontrakteurs het aan McKay bevestig dat die munisipaliteit hulle na raming R12 miljoen skuld.

“Dit is onverstaanbaar hoe die geld steeds nie aan die subkontrakteur betaal is nie, aangesien die geld vir dié projek van ’n nasionale toelae afkomstig is. Dit beteken die geld moes geredelik beskikbaar gewees het,” sê McKay.

Vereeniging-rylaan

(Foto: Verskaf)

“Die kontrakteurs sê sodra die munisipaliteit hulle betaal, sal dit hulle net sowat ’n maand neem om die pad te voltooi, aangesien die pad reeds 80% voltooi is. Daarna sal die pad op ’n stop-en-ry-grondslag vir motoriste toeganklik wees, terwyl hulle die fynere besonderhede afhandel.”

Die pad bestaan uit drie gedeeltes, die brug en twee verlengings, verduidelik McKay. Die een verlenging is tussen Memoriam- en Oliver Tambo-weg en die ander verlenging strek na die suidelike vullisstortingsterrein in die Rosestad.

Die brug is reeds in Februarie vanjaar voltooi, met die verwagting dat die verlengings teen einde Maart vir lede van die publiek oopgestel sou word.

Die sperdatum het egter gekom en gegaan en die pad staan ná sowat sewe maande steeds onvoltooid.

Die kontrakteur het al met regstappe gedreig en McKay het ook al talle briewe aan die munisipaliteit gerig om uitsluitsel oor die saak te verkry.

“Daar het egter dadels van gekom.”

Volgens McKay is die rylaan een van die hoofare na die Hamilton-nywerheidsgebied van Bloemfontein en word deur talle vragmotors en diegene wat daar werk, gebruik.

“Die ompad jaag hierdie mense meer geld uit die sak omdat hulle meer brandstof uitry. Boonop eis dit in die huidige ekonomie ’n groot tol op pendelaars ook.”

Die padsluiting veroorsaak ook onwettige storting van vullis, wat volgens McKay ’n groot gesondheidsrisiko en veiligheidskwessie is.

Daar is boonop mense wat van die pad en brug gebruik maak, ongeag of dit oop is of nie.

“Ek verstaan mense se frustrasie, maar dit is nie veilig nie en dit sal meer vertragings veroorsaak aangesien die infrastruktuur beskadig word voordat dit voltooi is.”

Maroela Media het reeds ’n week gelede ’n navraag aan die munisipaliteit gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Roek ·

Ek glo nie MM gaan enige komentaar ontvang nie, die hele stelsel is ‘n sirkus, niemand weet wat aangaan nie , almal oes die fooie en dan staan hul met hul koppe in die sand , waar is die oorsig komitee, die inspekteurs en waarom so lank alvorens daar publikasie is oor dit ?

Jaco ·

En wanneer die pad eendag oop is word die naam weer verander, omdat die woord Vereeniging in die taal van die onderdrukker is.

Andre ·

Hierdie tipe sirkus speel hom af op verskeie plekke in die land.Hierdie een is maar een wat uitgelig is en die media weet nou.Verskeie paaie en verbouings staan stil omdat die tenders die geld gevat het en weg is.Daar is nie geld om die werk klaar te maak nie.Geen toesig of bestuur.

Jacobus ·

Die pad sal verseker net voor 2024 se verkiesing klaar gemaak word met n boodskap wat sal uitgebasuin word, KYK WAT DOEN DIE ANC IN SUIDAFRIKA VIR SY INWONERS. STEM MAAR VIR DIE ANC.

Barry ·

Dankie David vir alles wat jy ir ons in die omgewing doen. En ja, die vullis stortings is n groot probleem. Fit lyk soos n varkhok waar ons bly.

Danie ·

In die ou dae het ons van kwaliteit diens gepraat met rande en sente.Deesdae is dit nie snaaks om van mijarde verliese en uitgawes te hoor met onvoltooide werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.