Ooreenkoms bereik om suikerrietboere te betaal

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Victoria Priessnitz / Unsplash)

Lede van die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SA Canegrowers) het ’n ooreenkoms met Tongaat Hulett gesluit om uitstaande geld aan suikerrietboere en diensverskaffers in dié bedryf te betaal. Dít sluit betalings in wat teen einde November verskuldig is vir suikerriet wat in Oktober afgelewer is.

Andrew Russel, voorsitter van die SA Suikerrietvereniging, sê die ooreenkoms is ʼn “deurslaggewende stap om die lewensbestaan van duisende boere en werkers aan KwaZulu-Natal se noordkus te beskerm”.

“Ingevolge die ooreenkoms moet uitstaande Oktober-betalings aan kommersiële boere wat suikerriet in September afgelewer het, teen Vrydag betaal word,” het Russel Woensdag in ʼn verklaring gesê.

“Betalings wat einde November aan kleinskaalboere verskuldig is vir suikerriet wat in Oktober gelewer is, sal ten volle betaal word. Dít terwyl daar op geskikte voorwaardes ooreengekom is om kommersiële boere in paaiemente te betaal.”

Volgens Russel het die meeste kommersiële suikerrietboere hul Oktober-betalings van Tongaat Hulett ontvang.

Die SA Suikerrietvereniging benadruk ook die noodsaaklikheid om diensverskaffers soos kontrakteurs, toevoerverskaffers en vervoermaatskappye te betaal, waarsonder boere nie kan werk nie.

“[Tongaat Hulett se] sakereddingspraktisyns het ook bevestig dat uitstaande betalings aan diensverskaffers hierdie week vereffen sal word, saam met die betalings aan kommersiële boere.”

Russel sê kommersiële boere het intussen ook hul eise op rente vir die laatbetalings laat vaar aangesien hulle bewus is van die moeilike posisie waarin Tongaat Hulett hom bevind, asook in die belang van ander geraakte aandeelhouers.

Suikerrietboere versoek wel betaling voordat hulle met enige verskaffing aan Tongaat Hulett voortgaan. Sodra die uitstaande betalings vir Oktober gedoen is, sal aflewerings aan die meule in Felixton, Maidstone en Amatikulu hervat word. Dit sal Tongaat Hulett in staat stel om bedrywighede by sy meule en raffinaderye voort te sit en weer kontantvloei te genereer.

Dit beteken egter nie dat die krisis wat die bedryf in die gesig staar iets van die verlede is nie.

Tongaat Hulett sal nou inkomste moet genereer sodat sy meule volgende seisoen kan werk. Daar is ook ʼn risiko dat Tongaat Hulett nie uit sakeredding sal kom nie, wat die bedryf weer in ʼn krisis sal dompel.

“Dit bly daarom uiters belangrik dat kernaandeelhouers, ook die regering en uitleners, saamwerk om te verseker dat die sakereddingsproses suksesvol is.”

Russel meen die ondergang van Tongaat Hulett sal jare se werk in die suikerrietbedryf ongedaan maak – onder meer pogings om Suid-Afrika teen goedkoop suikerinvoere te beskerm. Dit sal ook tot duisende werksverliese lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is waar gaan die geld heen? Alles wat suiker bevat se prys skiet die hoogte in!

Andre ·

“onder meer pogings om Suid-Afrika teen goedkoop suikerinvoere te beskerm. ” Goed verduidelik.

Jerry ·

Die raad van “Direkteure” sal weet waar die geld is. Greedy

Delia ·

Gaan google bietjie korrupsie Tongaat. Sedert 2018/2019. En jy sal verbaas staan oor die naamlys.

Yvonne ·

En raai wie betaal eintlik die gelag…..kamtig om mens se gewig te beheer…..lieg en bedrieg…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.