Op 96 jaar jonk praktiseer dié dokter nog

(Foto: Verskaf)

Sy handdruk is ferm, sy stem helder en sy postuur regop.

Dr. John Callaghan (96), Afrikaanssprekende oor- neus en keelspesialis van Pretoria, is sover bekend die oudste praktiserende dokter in die land. Maar sy optrede is die van iemand wat goed ʼn halfeeu jonger is. Dit lyk asof Vader Tyd fluks verby hom gedraf het.

Voor sy spreekkamer ontmoet ek ʼn man wat al 55 jaar lank ʼn pasiënt van die geliefde geneesheer is. Hy vertel my die dokter het die eerste keer op hom geopereer toe hy tien jaar oud was en hy is nou 65 en kom spreek hom steeds. Ja, dis hoe dit is. Hy opereer al op ou pasiënte se kinders en kleinkinders.

Met soveel kennis en ervaring in pag, verwys ander medici dikwels problematiese gevalle na hom toe.

Al wink sy eerste eeu al vir hom, gebruik dr. Callaghan nie ʼn hysbak nie. Hy stap sommer flink die vier verdiepings se trappe na sy spreekkamer toe op, bestuur nog motor en bly op sy eie.

Is hy amptelik die oudste dokter in die land?

“Sjoe”, lag hy. “Dit klink verskriklik. Mense kan nie glo dat ek nog aktief is nie.”

Dalk is dit tyd vir ʼn bietjie afskaal? Net daar draai hy alle mites en vooroordele oor ouderdom nek om.

“Afskaal? Ja, ek het ʼn bietjie afgeskaal. Ek werk nou van sesuur soggens, wat ʼn goeie tyd is om te begin werk, tot so 14:30 of 15:00 die middag. Dan kyk ek na admin, briewe en leeswerk.

“Dit gee die dames (Sania du Plessis en Mariana White wat in sy praktyk werk) ook die geleentheid om by die huis te kom.

“Ek is wel aan die einde van die week ʼn bietjie moeg, maar nouja, as jy ophou werk wat gaan jy doen? Die lewe is interessant en dis wat jy daarvan maak. Ek dink jy moet leef terwyl jy lewe! Jy moet elke oggend met ʼn doel opstaan en geniet wat jy doen. Jou werk moet vir jou ʼn plesier wees.”

Hy kyk ver terug as hy vertel van sy jare as jong distriksgeneesheer in die laat veertiger- en vroeë vyftigerjare in die Groot Marico.

“Dit was ʼn wonderlike tyd, maar stresvol en jy het hard gewerk. Ek was die enigste dokter in die hele Marico, wat ʼn groot gebied is. Ek was vir ʼn jaar lank 24 uur per dag aan diens. Daar was nie ander dokters of selfs apteke nie. Ek moes alles doen. En dit was gedurende die era van huisbesoeke. In ʼn stadium was ek so moeg dat my vrou amper drie dae lank gesukkel het om my wakker te kry. Ek weet nou nog nie hoe ons op die Suidkus gekom het vir ʼn wegbreekvakansie nie.”

Hy vertel hoe hy tot 20 keer per dag uitgeroep is en wyd en syd moes reis om pasiënte te besoek. Maklik 200 tot 300 myl op ʼn slag. Soms stuur hulle ʼn boodskap en dan moes hy Pelle-stad toe ry.

“Ek het die kaptein daar goed geken. Dit was tradisie om hom altyd te erken en hom eers te gaan groet.

“Ons het ʼn kliniek so 120 myl van ons af in die distrik gehad. As ek daar in die distrik kom, sit daar 80 pasiënte onder die bome en dan begin jy so van tweeuur die middag tot negeuur vanaand te werk. Van daardie mense was so siek en het soveel aandag geverg dat ek hulle Marico toe geneem het. Dan klim ek in die motor en neem die pasiënt hospitaal toe in Pretoria. Daar was nie ambulanse nie. Niks. Dan kom jy by die huis en hoor dat jy na ander pasiënte toe moet uitry.

“Jy weet, dis wonderlik wat jy kan doen as jy jonk is. Dis ʼn tydperk in jou lewe. En dis wat jy doen.

“As jy medisyne studeer, dis ʼn ander rigting. Jy is daar, want jy is lief vir mense en jou doel in die lewe is om die pyn en ongemak van pasiënte te verlig. Dis waarvoor jy daar is.”

Hy vertel van die bevallings wat hy by vroue se huise moes hanteer het. As destydse algemene praktisyn moes hy moeilike prosedures uitvoer. Daar was nie ʼn narkotiseur, verpleegster of telefoon nie en dikwels geen krag nie. Lampe is vir lig gebruik.

So moes hy as jong huisdokter ʼn baba wat sonder ʼn anus gebore is, “oopmaak” en vir hom ʼn anus maak. Daar was tangverlossings en moeilike geboortes. In een geval het die baba dwars gelê en sy armpie het al uitgehang.

“En jy luister en die babatjie lewe nog. En jy moet hom uithaal. Ek het net daar ʼn episiotomie gedoen, die armpie teruggesit, die babatjie in die rondte gedraai en uitgehaal. Daardie baba het ʼn fris sterk jong man geword en makeer niks!”

Hy sug.

“Deesdae hoor jy van babas wat in hospitale sterf.”

“Maar daardie tyd moes jy in die bos in gaan en dis net jy, jou stetoskoop, die pasiënt en dit wat jy geleer het.

“Ons het nie vandag se fênsie medisyne gehad nie. Ons het daardie ou medisyne gebruik wat al die eeue beskikbaar was. Dan wonder ʼn mens wat het van toe af tot vandag skeef geloop?

“Nasionale Gesondheid gaan ʼn totale katastrofe wees. Dit gaan ses maande duur om net ʼn afspraak by ʼn algemene praktisyn te kry.”

Wat is die grootste verskil tussen die dokters van die jare toet en vandag?

“Ek dink ons het meer aandag aan die pasiënt gegee. Tyd was nie ʼn faktor nie. Vandag nog kan ek tot twee ure aan een pasiënt bestee. Jy moet tyd neem om die pasiënt se geskiedenis te ontrafel en by die probleem uit te kom. Deesdae is baie dokters haastig. Geld vertolk maar ʼn rol. Ek het al gehoor dat ʼn dokter aan ʼn pasiënt sê sy tyd is verby en hy moet ʼn ander afspraak maak.

“Ek het agter gekom dat daar dikwels ʼn psigiese faktor is wat ʼn baie belangrike rol kan vertolk. Dikwels kom spreek ʼn pasiënt jou met iets wat buite jou veld is.”

Dr. Callaghan glo dat spanning ʼn groot rol in mense se gesondheidsprobleme vertolk.

“Stres is ʼn diep saak. Jy het dalk stres by die huis en gaan werk toe waar daar dalk nog stres bykom. Kan jy jou voorstel wat die kumulatiewe uitwerking van al hierdie stresfaktore is?

“Nie alle mense kan stres ewe goed hanteer nie. Party raak verdwaas en verwese en dit gee aanleiding tot baie probleme. ʼn Bietjie stres is nie sleg nie. Dit laat jou adrenalien werk, maar jy moet nie met stres gaan slaap nie.

Hy beskryf die mediese wetenskap as ʼn “wonderlike en heilige wetenskap wat ʼn mens moet respekteer.”

“Die universiteit verskaf die geriewe en dien slegs as voorbereiding vir jou toekoms, maar jy moet die geleentheid ten volle benut. Jou opleiding hou nooit op nie. Jy moet vir die res van jou lewe kursusse en kongresse bywoon. Jy moet nooit ophou lees nie. “

Ek vertel later vir ʼn vriendin van dr. Callaghan.

“Nee”, sê sy. “Dit kan nie wees nie. Hy kan nie nog werk nie. Daar is seker ‘fout’ met sy DNS.”

Maar kom ons vra vir hóm wat sy geheim vir ʼn lang en vervulde lewe is.

Dr Callaghan met Sania, (links) en Mariana (regs) wat vir hom werk. (Foto: Verskaf)

“Goeie genetika is ʼn goeie begin. Maar jy moet jou ook gedra en nie met gemors soos rook, alkohol, dwelms en verdowingsmiddels ophou nie.

“Vermy onnodige medikasie. Te veel mense gebruik te veel medikasie. Werk ʼn hoofpyn eerder in jou kop uit en gebruik net iets as die pyn ondraaglik is.

“Rook is ʼn bose ding wat elke orgaan, senuwee en bloedvat in jou liggaam aantas.

“Jou gesondheid is in jou eie hande. Matige oefening is goed, oefenverslawing waar jy die pyn op die gesigte sien, is nie.

“Eet eenvoudig – ek eet baie groente, vrugte, slaai en vis.

“Leef ʼn goeie lewe. Help ander en wees goed vir hulle.”

Vir ontspanning lees hy graag – van mediese joernale en speur- of spanningsverhale tot geskiedenis. Beslis nie “soppy” goed nie. Sondae is dit ʼn instelling om na kerk by die kinders te kuier en by hulle te eet.

Ek groet vir Sania en Mariana wat my met ʼn groot glimlag vertel dat dit so ʼn groot voorreg is om vir hom te werk. Hulle sien elke dag daarna uit om praktyk toe te kom.

Dan groet ek die ouwêreldse heer in die wit jas tot my volgende afspraak. Die dokter vir wie sy werk ʼn roeping is.

Lank mag hy lewe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.