Operasangeres se lewe na kwarteeu nie altyd ʼn lied

Lynelle Kenned (Foto: Verskaf)

Op haar groot aand toe sy vir die eerste keer die gesogte rol van Maria in die musiekblyspel West Side Story vertolk het, het sy eers ʼn paar minute geneem om ʼn bos blomme op die heel voorste leë sitplek neer te sit. Blomme vir haar oorlede ma wat so trots was dat sy die rol gekry het maar dit nooit op die openingsaand kon beleef nie.

Ja, die lewe was beslis nie altyd ʼn lied vir die sangeres Lynelle Kenned (35) wat al meer as 25 jaar voor gehore optree nie.

Jy moet liewer vir jou werk as vir die applous wees, is haar leuse.

“Oornagsukses is ʼn mite wat deur gewilde musiekprogramme geskep word. Dit duur inderwaarheid jare agter die skerms voor jy suksesvol is,” sê sy.

Boonop gaan die vertoning altyd voort, al is jou hart weens tragedies in stukke gebreek.

Lynelle het met klassieke musiek in haar ore groot geword en het as kind en jong volwassene klavier-, tjello-, blokfluit- en vioollesse geneem.

“My ouers het vroeg reeds besef dat ek sangtalent het en ek het reeds in die laerskool sanglesse begin neem. In die skoolkoor het ek solo’s gesing.

“Toe ek 9 jaar oud was, was dit die eerste keer wat ek volwaardig op ʼn verhoog met ʼn orkes en al aan die destydse KWV Paarl-kompetisie deelgeneem het waar ek as ʼn finalis aangewys was. Die daaropvolgende jaar, toe ek tien jaar oud was, het ek in die junior kategorie met die liedjie Joy to the World gewen.

“My ma het nog die kostuum gemaak en die blinkers aan my klere vasgewerk. Sy het vir my ʼn swart fluweeltop met chiffon-arms gemaak. My hare was lank en in lokke gestileer,” onthou sy.

Sy het ook in die destydse Fidentia Jeugkoor gesing wat die koorlede baie aan die bedryf blootgestel het.

“Terwyl ek in die kosskool by die Hoërskool Stellenberg was, het die koshuisouers ons een dag na die vertoning Showboat toe geneem waar die Kaapse Filharmoniese Orkes opgetree het.

“Ek was behoorlik omgeboul toe ek sien hoe die musiek saam met storievertel in hierdie grootskaalse klassieke musiekproduksie gekombineer word. Hoewel ek aanvanklik medies wou gaan swot het, was die koeël wat musiek betref daarna deur die kerk.

“Ek het opera aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer omdat ek verhoogervaring wou opdoen en het sangonderrig by prof. Virginia Davids ontvang. Dit was ʼn wonderlike en uitdagende slypskool. Die kursus strek oor ʼn wye netwerk van vaardighede.

“Benewens musiekgeskiedenis en gehoor is ons ook in al die praktiese elemente van die verhoog, voordrag en beweging onderrig.

(Foto: Verskaf)

Veelsydigheid

Lynelle wat haarself as “menslik, spontaan, veelsydig, aanpasbaar, taai, nuuskierig en dankbaar” beskryf, was ook al ʼn TV-aanbieder en aktrise.

Sy het by die program Top Billing beland nadat hulle in 2012 ʼn aanbiedersoektog op tou gesit het.

“Ek het aansoek gedoen om my ma se neulery daaroor stop te sit,” lag sy.

“Ek is daarna Pasella toe geskuif. Hulle wou weet of ek Afrikaans vlot kan praat – en dit terwyl ek ʼn Paarliet is en almal in die Paarl Afrikaans praat.

Oor die TV-program Uit die slaapkamer, waaraan sy verlede jaar deelgeneem het, sê sy: “Dit was leersaam, pret en helend.”

Musiekblyspele

In 2015 het sy die hoofrol van Maria in West Side Story gekry toe sy met ʼn volle filharmoniese orkes in die operahuis van die Kunstekaap opgetree het.

“My ma het nog op Facebook geskryf hoe trots sy op my was dat ek die rol gekry het.

“Ongelukkig is sy op 5 Mei, ʼn maand voor die repetisies begin het, aan kanker oorlede. Ek kry sommer ʼn knop in my keel.

“Dit was ʼn moeilike tyd. Ek het nooit tyd gehad om my verlies te verwerk nie want ek was te besig met Pasella.

“Die dag na my ma se begrafnis was dit Moedersdag en die dag daarna was ek terug op die stel. Dit sou loopbaanselfdood wees om kop uit te trek. Ek het alles onderdruk en toegesluit waar dit nie nodig was om dit te konfronteer nie en ek het myself hart en siel in die werk gegooi.

“Op die openingsaand het ek ʼn bos blomme vir my ma op ʼn leë sitplek in die voorste ry geplaas en net ʼn oomblik geneem om dankie te sê vir al die opofferings wat sy vir my loopbaan gemaak het.”

Lynelle kon haar werklik identifiseer met Maria se verliese – veral in die tonele waar sy haar emosioneel kon uitleef waar Tony reeds geskiet was en in Maria se arms was.

“Die karakter lê my baie na aan die hart.”

Nog ʼn hoogtepunt in haar sangloopbaan was toe sy jare gelede saam met die beroemde Katharine Jenkins van Wallis opgetree het toe sy in die land was.

“Ek het ʼn duet saam met haar gesing – ek sopraan en sy Mezzo. Sy het my toe aan die gehoor by Grand West voorgestel.”

Reis

Terwyl ons gesels het, was Lynelle op pad Florence toe vir optredes en om vir twee weke daarna te reis.

“Ek geniet dit om plaaslik sowel as internasionaal te reis. Veral om ʼn road trip aan te pak en saam met my geliefde, John Ashmore te kampeer. Van glamping tot in ʼn tent bly. Ons is gek oor die natuur.

“Ons is al 18 maande lank in ʼn lieflike verhouding. Hy het ʼn doktorsgraad in Gesondheidsekonomie. Ons het mekaar op Tinder ontmoet waar ek geskryf het dat ek tussen pajamas en balrokke pendel.

“As ek nie reis nie voel ek ingeperk, so asof ek aan engtevrees ly.

“Soms reis jy na ʼn plek waar niemand jou ken nie. Dan hoef jy nie op te tree of grimering te dra nie en kan net by ʼn normale lewe inpas.”

Al het sy al wêreldwyd gereis, is niks vir haar so lekker as om vir haar eie mense in haar eie taal, Afrikaans, te sing nie.

Lynelle Kenned (Foto: Verskaf)

Mentors

Onder haar gunstelinge in die bedryf is dr. Erik Dippenaar, leier van die Kaapse barokorkes.

“Hy is ʼn lopende ensiklopedie van kennis en kreatiwiteit.

“Ek ervaar ook soveel liefde, respek en dankbaarheid teenoor Amanda Strydom as mens en kunstenaar. In haar kuns kan sy tot op die been sny.

“Sy is so openhartig en deursigtig oor haar eie reis met geestesgesondheid en bipolêre gemoedsversteuring. Ek moes ook al diep donkertes in myself konfronteer. Miss Mandy het haar hart oopgemaak en myne vasgehou.”

Doodsdoula

Lynelle het ʼn paar jaar gelede ʼn kursus oor doodsbegeleiding deur die American School of Thanatology, asook ʼn Hospice-kursus, voltooi.

Die doodsdoula help die sterwende met pligte soos laaste wense, nalatenskap, voorafsorgriglyne en dan natuurlik emosionele ondersteuning.

“Die kursus het my oor die fisieke aspekte van dood, die siklusse van rou, en die skaduwees van verlies geleer.

“Dis belangrik om ons verhouding met die dood te ondersoek. Ek wil ook nog ʼn versorgingskursus doen en uitvind hoe ʼn mens die liggaam na die dood versorg.

“So wil ek vir my familie en vriende van diens wees.

“Ek het gedurende die pandemie aan kompleks (PTSV) posttraumatiese stresversteuring gely en moes leer hoe om my eie angs en depressie te bestuur.

“Weens ontwikkelingstrauma het ek byna geen geheue van my kinderjare nie.

“Dit het ook verband gehou met die omstandighede rondom my ma se dood. Daar is nie behoorlik oor die dood gepraat nie en daar was geen afsluiting nie. Ek het gevoel dat ek van eerlikheid en ʼn veilige ruimte ontneem is.”

(Foto: Günther Schubert / Verskaf)

Raad

Watter raad sal sy aan jong sangers gee? Is dit so glansryk as wat dit lyk? En hoe sorg ʼn mens dat jy nie uitbrand of oormoeg word nie?

Lynelle: Ek wonder altyd wat ek in daardie stadium sou wou weet. Dit lyk van buite af glansryk, maar dit verg baie hulp, tyd en moeite om die illusie van glans te skep. Daar is nie altyd hulp met hare, grimering en klere nie. Dis ʼn Hollywood-mite.

“Jy moet jou tyd en energie bestuur en goed met beplanning en administrasie wees sodat jy ruskansies kan inwerk.

“ʼn Mens moet kan kophou tussen rustige en bedrywige tye. En daarvan bewus wees dat jy ongewone ure in die vermaakbedryf werk waar repetisies selfs Saterdae en Sondae plaasvind en jy soms op vakansiedae en gedurende feestydperke moet werk.

“ʼn Mens loop dikwels tye met vriende en familie met mylpale, troues, verjaardae en begrafnisse mis. Jy kan nie sommer net ʼn dag se verlof insit nie. Om te kanselleer is glad nie ʼn opsie nie.

“Dit kan eensaam en uitdagend wees. Jou geestesgesondheid is die belangrikste in dié beroep. Ek gaan weekliks vir terapie. ʼn Mens moet na jouself omsien. Jy moet jouself ook nie met ander vergelyk nie”, sê sy.

“En waak teen die groenoogmonster.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Ek ken jou nie, Lynelle, maar jy klink na ‘n pragtige, goed gebalanseerde mens. Baie sterkte vorentoe met jou sangloopbaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.