Opgeskorte vonnis ná ma eie seun ernstig aanrand

hof, selle, misdaad, polisie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

ʼn 40-jarige ma is Donderdag tot ses jaar gevangenisstraf in die Carnarvon-streekhof vir die wrede aanranding op haar 12-jarige seun gevonnis.

Volgens lt.kol. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het sy in September verlede jaar omstreeks 21:00 haar seun daarvan beskuldig dat hy geld by sy stiefpa gesteel het, waarna sy hom ernstig aangerand het.

“Die seun het wonde aan sy gesig en liggaam opgedoen en het weens die aanranding inmekaargesak. Die ma het eers opgehou toe sy tannie uiteindelik ingryp.

“Die 12-jarige moes in die hospitaal opgeneem word en sy ma is oomblikke later in hegtenis geneem. Die seun is ook later uit sy ma se sorg verwyder en deur maatskaplike werkers onder die pleegsorg van sy tannie geplaas,” sê Kock.

Die ma is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is egter vir vyf jaar opgeskort.

Die skuldige se naam is ook in die Nasionale Register vir Kinderbeskerming aangeteken en sy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Die polisie het hul dank aan adjunk-adjudantoffisier Floris Fritz, van die Carnarvon-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, vir sy noukeurige ondersoek van die saak betuig.

Adjunk-adjudantoffisier Floris Fritz (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.