Opod-ondersoek ná man glo vir ontvoerder aangesien is

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) is besig met ʼn ondersoek nadat ʼn man glo verkeerdelik aangesien is as ʼn ontvoerder.

Kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.

Die saak volg nadat Jacob Mokete glo kort ná die ontvoering van die neef en niggie Zahraa Mohammed (19) en Bataviya Mohammed (19) in hegtenis geneem. Hy is volgens inligting glo verkeerdelik as die twee se ontvoerders aangesien.

Mokete was Donderdag nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Volgens Myburgh is ʼn saak op 26 Maart by die Klipgat-polisiekantoor in Noordwes aanhangig gemaak om die omstandighede rondom Mokete se inhegtenisneming te ondersoek.

Dit is rondom dieselfde tyd wat Zahraa en Bataviya opgespoor is by ʼn huis in Klipgat, naby Winterveld noord van Pretoria.

Die twee was op 6 Maart van Brits na die Hartbeespoortdam op pad toe hul voertuig tot stilstand gedwing en hulle glo ontvoer is.

ʼn Maroen Audi A3 het van voor teen hulle Mercedes-Benz vasgery. Twee gewapende mans het uit die Audi gespring en die twee beveel om in ʼn wit Volkswagen Polo, wat glo agter die Audi gery het, te klim.

Kort nadat die Mohammeds opgespoor is, is verskeie verdagtes in hegtenis geneem.

Die agste verdagte is die Dinsdag in hegtenis geneem en sal op 16 April saam met sy sewe medebeskuldigdes weer in die landdroshof op Brits verskyn.

Een van die verdagtes is ʼn polisiesersant, verbonde aan die Lethabile-speurtak op Brits.

Opod kon nie dadelik bereik word nie en kommentaar sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amelia ·

Dis seker hoekom reaksie tyd so lank is gaan eers seker maak makers is veilig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.