Organisasie slaggereed om akteurstantième in te samel

Die akteur Jack Devnarain is Saga- én nou ook Saspro-voorsitter. (Foto: Saga)

Deur Christiaan Boonzaier

Die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga) het ʼn nuwe organisasie – die eerste van sy soort in die land – op die been gebring wat hom namens akteurs uitsluitlik op die invordering van tantième gaan toespits.

Dié organisasie, sonder winsbejag, bekend as die Suid-Afrikaanse Film- en Televisieakteursregteorganisasie, oftewel Saspro, is  4 November in Dunkeld-wes, Johannesburg, bekend gestel.

Die akteur Jack Devnarain, Saga- én nou ook Saspro-voorsitter, sê aan Maroela Media hulle het doelbewus die organisasie gestig terwyl die omstrede Wet op die Beskerming van Voordraers 11 van 1967 nog van krag is.

Dié wet verhoed Suid-Afrikaanse akteurs reeds meer as vyf dekades lank om op tantième aan te dring elke keer wanneer ʼn rolprent of ʼn TV-reeks waarin hulle verskyn het, heruitgesaai of aan ʼn stromingsdiens of buitelandse uitsaaier verkoop word.

“Ons wil onsself via Saspro voorberei op die dag wat die nuwe wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers bekragtig word, wat akteurs uiteindelik die groen lig sal gee om op ʼn passiewe inkomste – herhalingsfooie en ander tantième – aan te dring,” sê Devnarain.

“Ons wil nie eers die bal aan die rol sit wanneer die wysigingswetsontwerp deurgevoer word nie – ons wil teen dan klaar op wiele wees – so ons span daarom solank die wa voor die perde.”

Die wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers is in 2016 gepubliseer en het in 2019 in die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) die duim na bo gekry. President Cyril Ramaphosa het dit egter 15 maande later – saam met die omstrede wysigingswetsontwerp op Outeursreg – na die NV terugverwys omdat hy bekommerd was oor albei wetsontwerpe se grondwetlikheid.

Dit blyk egter of dié gesloer binnekort iets van die verlede kan wees, meen Devnarain.

“Ons sien ʼn paar positiewe verwikkelinge: Die NV het die wetsontwerpe vir ʼn tweede keer goedgekeur, en dit draai nou by die NRVP, wat met die departement van handel en nywerheid in ʼn gesprek gewikkel is om die wetsontwerpe beter te begryp – dit is ʼn goeie plek om te wees.

“Ons hoop met ʼn skeut optimisme dat die NRVP voor die einde van die parlementêre jaar (in Desember) hul aanbevelings sal maak, en hulle dit dan vir president Ramaphosa sal stuur, wat dit op sy beurt hopelik volgende jaar of ten minste voor die volgende verkiesing (in 2024) sal onderteken.”

Volgens Devnarain het die Saga-bestuur besluit om Saspro as ʼn aparte organisasie te registreer omdat hul bedrywighede ietwat verskil: Saga verteenwoordig, byvoorbeeld, alle akteurs, ongeag medium, terwyl Saspro slegs op rolprent- en TV-akteurs en die insameling van hul tantième gaan fokus.

Benewens plaaslike kenners, soos die senior dosent en belastingkenner Thabiso Madiba en advokaat David du Plessis, voormalige hoof en bedryfshoof van onderskeidelik die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte (Sampra) en die Opnamebedryf van Suid-Afrika (Risa), gaan Saspro ook bygestaan word deur susterorganisasies in 70 lande wat reeds bemoeid is met die proses om tantième namens akteurs in te samel; Saspro het deur Saga en die Internasionale Federasie van Akteurs (FIA) in België met dié organisasies in verbinding getree.

“Ons het baie om by hulle te leer – en hulle is alte gretig om ons touwys te maak,” sê Devnarain.

“Organisasies in die buiteland vra gereeld vir ons (Saga): Hoe is julle georganiseer? Hoe werk julle? Hulle is dan gewoonlik baie verbaas as ons vir hulle sê dat niemand tantième namens akteurs in Suid-Afrika invorder nie, wat hulle as ʼn ongerymdheid beskou.

“Saspro sal nou dié rol kan vul, ook wanneer ʼn Suid-Afrikaner, byvoorbeeld, Duitsland toe gaan, daar in ʼn fliek of TV-reeks verskyn, en tantième daar geskuld word.”

Hoeveel presies akteurs kan verdien, bly nog ʼn ope vraag, sê hy. Dit sal onder meer afhang van wat presies in die wysigingswetsontwerp bekragtig word, wat presies uitsaaiers met akteurs in ʼn kontrak ooreenkom, en of die akteur ʼn hoof- of byspeler in die rolprent of TV-program is. As ʼn organisasie sonder winsbejag steek Saspro net ʼn klein administrasiefooi in sy sak om sy bedrywighede aan die gang te hou – die res word aan die akteur oorbetaal.

Nog ʼn tameletjie wat uitgestryk moet word en wat volgens Devnarain deels bydra tot die vertraging in die bekragtiging van die wysigingswetsontwerp, is of akteurs tantième sal kan eis vir rolprente en TV-programme wat vóór die bekragtiging van die wysigingswetsontwerp opgeneem is, ook dié wat dekades gelede vir die eerste keer uitgesaai is.

“In dié geval gaan die akteur se oorspronklike kontrak waarskynlik dikteer of dit moontlik is of nie. Ons voer aan – en die parlement begryp nog nie ons argument nie – as daar ná die bekragtiging van die wetsontwerp opnuut geld uit ʼn rolprent of TV-reeks verdien word, ongeag hoe oud dit is, moet akteurs tantième daarvoor kan eis. As die oorspronklike Shaka Zulu-reeks (wat in 1986 gedebuteer het) aan ʼn stromingsdiens verkoop word en ons het wetgewing in plek wat akteurs bemagtig en hulle die reg tot tantième gee, kom tantième uit daai kopie hulle toe.”

(Grafika verskaf)

En die insameling van dié tantième is “so ʼn noodsaaklike onderdeel van ʼn professionele vermaakbedryf”, sê hy.

“As die wetgewing eers bekragtig is, sal nie net akteurs se regte nagekom word nie, maar Suid-Afrika sal ʼn stappie nader beweeg aan dít wat wêreldwyd die beste praktyk is.”

Devnarain sê Saspro sal deur sy aktiwiteite ook elke akteur in Suid-Afrika huldig wat reeds dood is en nooit die tantième gekry het wat hulle eintlik verdien het nie.

“Shaleen Surtie-Richards, Joe Mafela, Elize Cawood, Henry Cele – noem hulle maar op, is almal brandarm dood. Shaka Zulu, waarin Cele die titelrol vertolk het, het miljarde wêreldwyd verdien, maar hy het niks daarvan gesien nie. Dit is werklik ʼn skande om te dink hy’s armoedig in ʼn staatshospitaal dood.

“Ons (Saspro) weet ons sal nie sommer dié tipe ellende kan uitwis nie, en ons weet ons sal vir sommige akteurs dalk net kleingeld kan invorder, maar ons het die organisasie met baie geduld en liefde geskep, en vir nou wil ons net vanuit dié geduld en liefde groei.”

Hoewel die wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers nog nie bekragtig is nie, kan rolprent- en TV-akteurs reeds by Saspro aansluit – dit is gratis. Stuur ʼn e-pos na [email protected] en/of [email protected]. Meer inligting sal ook mettertyd op www.saspro.org.za beskikbaar wees.

Devnarain sê hulle is bewus van uitsaaiers soos die SAUK en e.tv wat reeds kontrakte sluit waarin hulle herhalingsfooie of ander tantième aan akteurs beloof. In dié gevalle sal Saspro reeds dié gelde namens akteurs kan invorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Bitter goeie idee. Hoop regtig julle kan dit regkry. Eintlik net regverdig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.