Organisasies verklaar oorlog teen Bela-wet

Die Bela-wetswysiging beoog om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van die staat te sentraliseer, maar dit word uit verskeie oorde gekap as ʼn poging om die land se skole – en spesifiek Afrikaanse skole – te kaap. (Argieffoto: Elaine Krige)

In ʼn kwalik bedekte waarskuwing het ʼn groep van 20 uiteenlopende organisasies die regering trompop geloop oor die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette, algemeen bekend as die Bela-konsepwet. Die groep organisasies beywer hulle almal vir Afrikaanse onderrig in openbare skole.

Die openbare verklaring wat die meeste van die betrokke organisasies onderteken het, word beskou as ʼn onomwonde boodskap dat indien die Bela-wysigingswetsontwerp deurgevoer word, die vertrouensverhouding waarop ʼn nuwe bedeling ná 1994 gegrond is, onherstelbaar verbrokkel het en daar bande gebreek word met die bestaande orde.

Dit word as ʼn permanente ineenstorting van hierdie vertrouensverhouding bestempel en daar word gekommunikeer dat organisasies nie meer daarna in goeie trou met die regering sal kan saamwerk nie.

Die verklaring aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga – as politieke hoof van die departement en onderskrywer van die wetswysiging – is nie onder ʼn enkele organisasie se vaandel gestuur nie. Die organisasies daarby betrokke werk breedweg in dieselfde rigting, om ʼn volhoubare Afrikaanse ruimte te skep, hoewel almal verskillende benaderings daarvoor volg. Die gesamentlike verklaring dui egter daarop dat gemeenskappe meer as woedend oor die wysigingswetsontwerp is en dit as verraad van ʼn vroeëre ooreenkoms beskou.

Dit is die naweek aan Motshekga gegee.

Die Bela-wetswysiging beoog om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van die staat te sentraliseer, maar dit word uit verskeie oorde gekap as ʼn poging om die land se skole – en spesifiek Afrikaanse skole – te kaap.

Die organisasies bestempel die wetswysiging as ʼn “berekende aanval” op Afrikaanse onderwys en Afrikaanssprekendes as taalgemeenskap in ʼn land waar meer as 7 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaanse moedertaalsprekers is. Die groepe waarsku die wetgewing gaan “huidige Afrikaanssprekendes deur burokratiese en ideologiese besluite van hulle grondwetlike reg op die onderrigtaal van hulle keuse ontneem. Dit sal ook ʼn onherstelbare en permanente verbreking van die grondwetlike skikking deur die regering in 1994 daarstel”.

Hulle sê voorts daar is ʼn valse voorstelling dat Afrikaanse onderwys ʼn versperring vir toegang tot onderwys in die land is.

“Volgens die ANC is breër toegang tot onderwys slegs moontlik wanneer Afrikaanse onderwys deur wetgewing onmoontlik gemaak word,” lui die verklaring.

Die regering sleep die wysigingswet al van 2017 saam en daar is sedertdien herhaaldelik kommentaar gelewer daarteen, veral op die kwessies wat spesifiek op Afrikaanse skole gemik is.

Daar is nou weer tot 15 Junie ʼn geleentheid om kommentaar daarop te lewer.

Skole gemeenskappe s’n

Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK-Netwerk en een van die ondertekenaars, sê die wysigingswetsontwerp wil skole se beheerliggame ontneem van die mag om self oor die taal van onderrig en toelatingsvereistes by ʼn skool te besluit. DAK-Netwerk beywer hom vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.

“ʼn Skoolbeheerliggaam is ʼn instelling wat die gemeenskap van ʼn betrokke dorp of skool verteenwoordig. Ouers word verkies – in een van die grootste verkiesings in die land – deur ʼn demokratiese proses om daarin te dien,” sê Van Wyk.

Hy sê indien die departement dit regkry om beheerliggame van hierdie mag te stroop, kan Afrikaanse skole later selfs heeltemal in die slag bly.

“Dit is ʼn duidelike aanslag teen Afrikaans as onderrigmedium in skole,” waarsku Van Wyk.

Motshekga het nog onlangs opnuut beloof dat haar departement voortgaan met planne om moedertaalonderrig in skole te bevorder en het benadruk dat dit ʼn grondwetlike verpligting is.

Dit blyk dat hierdie planne allermins die reg op Afrikaanse onderrig insluit en die Bela-wysigingswet druis lynreg in teen die bevordering van meertaligheid.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê Bela se voorgestelde wysigings oor taal en toelating is gemik op Afrikaans en Afrikaanse skole, hoewel die Skolewet juis die ruimte geskep het vir gemeenskappe om tot op grondvlak demokratiese inspraak te hê. Dié organisasie het ook die dokument onderteken.

“Daar word ʼn streep getrek deur meertaligheid en die multikulturele aard van ons land, wat ons uniekheid is,” sê Buys.

Sy sê die konsepwet is “uit ʼn politieke oogmerk geskryf”.

“Dit gaan oor taal en toelating. Dit wat in die wysigingswetsontwerp geskryf is, is net op Afrikaanse skole van toepassing. Jy kan sê dis ʼn wysigingswet vir almal, maar dit is gemik op Afrikaans,” sê Buys.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die verklaring is ʼn “simptoom van die ongelooflike kommer en frustrasie en amperse verraad” wat nou teen die Afrikaanse gemeenskap gepleeg word. Die kommer strek egter veel wyer as net onder Afrikaanses.

Klopper sê daar was destyds ʼn onderneming dat skole nooit weer ʼn verlengstuk van die staat sou wees nie, maar demokratiese instellings wat gemeenskappe se waardes, sienings en norme weerspieël. “Nou sien ons die teenoorgestelde in die wysigingswetsontwerp,” sê hy.

Hy sê Motshekga se “bona fides” as minister word aanvaar, maar daar is ook ʼn besef dat sy onder groot druk in die ANC-koukus verkeer – en dit is waar sy moet oorleef. “Ons hoop en vertrou dat sy sterk genoeg is en sal verstaan dat ons nie ten doel het om elitisme of ʼn rassebeleid te wil instel nie.

“As ʼn skool sê hy wil Afrikaans wees, beteken dit nie hy wil rassesegregasie toepas nie.”

Voorstelle beveg

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê ook as die staat kinders wil kaap deur hul taal te kaap, sal dit tot ʼn algehele vertrouensbreuk lei.

“Ons beskou dit as ernstig. Ons kan baie dinge verduur, maar ʼn aanval op ons kinders kan ons nie verduur nie. Ons kinders kan nie wapens wees in die staat se ideologiese stryd nie.

“Ons skole mag nie staatskole word en kinders staatsobjekte nie. Die erns word ook gesien in die wye verskeidenheid van Afrikaanssprekendes wat nee sê.”

Hermann sê hulle sal deelneem aan die parlementêre prosesse, hof toe gaan as die regering nie luister nie, en strate toe as dit moet.

“Los ons kinders uit!” sê hy.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê een van die “ergste dade van aggressie wat ʼn regering teen ʼn taal- en kultuurgemeenskap kan pleeg, is om hulle kinders se skole te teiken”.

“AfriForum sal daarom die regering se aanslag op Afrikaanse skole en Afrikaanse kinders beveg met alles wat ons het,” sê Kriel.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, sê die organisasie beywer hom vir kinders, veral dié in bruin gemeenskappe op die platteland, se reg om in hul moedertaal onderrig te ontvang.

“Gemeenskappe moet self besluit en nie politici wat agter blinkgepoleerde lessenaars sit en met moedswillige besluite vorendag kom nie.”

Die Kaapse Forum bedien die Wes-Kaap waar Afrikaans die algemeenste taal is. Wyngaard stem met ander kenners saam dat gemeenskappe die reg moet hê om te besluit oor taal by skole, eerder as dat besluite op hulle afgedwing word.

Hy meen die prestasies van tradisioneel Afrikaanssprekende skole het ʼn negatiewe refleksie op die vermoë van die ANC-regering om onderwys in die algemeen beter te bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.