Oscar Pistorius doen aansoek om vroeër vrylating

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die voormalige sportheld Oscar Pistorius, wat tronkstraf uitdien vir die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp, het hom tot die Pretoriase hooggeregshof gewend om die verwarring oor sy parool op te klaar.

Volgens sy prokureur, Julian Knight, het Pistorius ’n aansoek in die hof gebring om die paroolraad te beveel om ’n paroolverhoor te hou.

“Dit is ’n aansoek om die paroolraad te verplig om ’n verhoor te belê vir oorweging van sy parool,” het Knight gesê.

“Dit beteken nie hy moet op parool geplaas word nie, maar dat hy oorweeg moet word.”

Geen verhoordatum is nog vasgestel nie.

Pistorius voer aan dat hy reeds genoeg tyd in die tronk uitgedien het om vir parool in aanmerking te kom, en daarom moet owerhede kyk of hy vroeër vrygelaat kan word.

Aanvanklik is gesê dat Pistorius eers in 2023 vir parool in aanmerking sou kom, maar daar was oënskynlik ʼn berekeningsfout aan die kant van die departement van korrektiewe dienste nadat die aanvanklike 500 dae wat hy agter tralies deurgebring het, nie in berekening gebring is nie.

Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf vir Reeva se moord uit nadat hy haar op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet het. Hy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Pistorius het in Junie ʼn mediasiegesprek met Steenkamp se ouers gehad.

June en Barry Steenkamp, Reeva se ouers, is in November reeds ingelig dat daar begin is met die proses om die Pistorius op parool vry te laat. Die nuus het as ʼn skok vir die Steenkamp-egpaar gekom.

Die Steenkamps het in Desember in ’n onderhoud met die Britse geselsprogram Good Morning Britain gesê hulle glo nie dat Pistorius al oop kaarte gespeel het oor wat presies daardie aand in Februarie 2013 gebeur het toe hy hul enigste dogter doodgeskiet het nie.

Die Steenkamps het gesê hulle het Pistorius vergewe, maar glo egter nié dat die tronkdeure vir hom moet oopswaai nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.