Ou Upington-hotel deels in puin ná brand

(Foto:Verskaf/Flip van der Steen)

ʼn Sakegebou op Upington wat voorheen bekend was as die Oranje-hotel, is deels in puin gelê ná ʼn brand vroeg Vrydagoggend.

Volgens Flip van der Steen, DA-raadslid op die dorp, het ʼn winkel in die gebou wat elektroniese ware verkoop glo aan die brand geraak waarna die gebou – wat byna ʼn hele blok in die sakesentrum van die dorp beslaan – later in vlamme gehul was.

“Dit was ʼn ou hotel wat later in ʼn sakegebou met ʼn klomp winkels en kantore omskep is. Die gebou het dus nog uit baie ou houtstrukture bestaan wat veroorsaak het dat die brand uiters vinnig versprei het.”

Van der Steen sê die Dawid Kruiper-munisipaliteit se brandweerdienste was op die toneel, maar kon die vlamme nie betyds onder beheer bring nie.

“Ondanks hul beste pogings om die vlamme in bedwang te bring het hulle doodeenvoudig nie die regte toerusting gehad om dit betyds te doen nie.

“Daar was nie voldoende pype om aan die toerusting wat wel beskikbaar was te koppel nie en die water moes met tenkwaens aangery word,” sê Van der Steen.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) se twee brandweerwaens het ongeveer vier uur later, omstreeks 06:00, by die toneel opgedaag om te help om die vlamme te blus.

“Omstreeks 06:45 kon die brandweerspanne eindelik daarin slaag om water direk van brandkrane te gebruik.

“Die waterdruk was nie voldoende nie, maar daar was darem water wat gebruik kon word. Die brandweerspanne kon egter eers later die oggend die vlamme onder beheer kry.”

Van der Steen sê die hele boonste struktuur van die gebou is in puin gelê.

“Drie van die winkels op die grondvloer het ook afgebrand en die res van die winkels het waterskade opgedoen.”

Die omvang van die skade in geldwaarde is nog nie bekend nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Ai ……… weer eens “incompetency” deur plaaslike regering ………. waarom is ek nie verbaas nie????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.