Oud-burgemeester, vrou in hof vir bedrog

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Marius Louw, voormalige burgemeester van die ZF Mcgawu-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap, en sy vrou, Gertrude, het Maandag in die streekshof in Upington verskyn op aanklag van bedrog.

Die Louws is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat en sal weer op 30 Augustus in die hof verskyn.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het die hof egter in kennis gestel dat hulle vertoë aan die direkteur van openbare vervolging wil rig.

Die egpaar staan tereg op twee aanklagte van bedrog wat voortspruit uit die aankoop van twee voertuie wat glo op ʼn bedrieglike bewyse deur fiktiewe dokumentasie bekom is.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê die verdagtes het na bewering Wesbank genader met valse dokumente met die bedoeling om twee motors aan te skaf.

“Hul aansoek is goedgekeur en hulle het daarin geslaag om ʼn Volkswagen Golf VII en ʼn Ford Ranger met ʼn gesamentlike waarde van meer as R1,5 miljoen te koop,” sê Senokoatsane.

“Dit het eers later aan die lig gekom dat die beskuldigdes valse dokumente gebruik het om goedkeuring vir die aankoop van die motors te kry.”

ʼn Saak is deur die polisie geopen en die gespesialiseerde eenheid het kort daarna die twee vasgetrek, waarna Wesbank die voertuie teruggeneem het.

Louw het enkele dae ná sy inhegtenisneming in ʼn skrywe aan Deshi Nxanga, die ANC se Noord-Kaapse sekretaris, gesê dat hy uittree as burgemeester van die distriksmunisipaliteit en as adjunk-voorsitter van die streek.

Nxanga het Louw se “proaktiewe houding” in die nakoming van die ANC se beleid verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

melaney ·

Om elke hoek en draai lees ons van korrupsie. Wonder hoeveel eerlike mense bly daar oor in ons land.

Witbaard ·

Kyk hoe gou gaan hulle tronk toe, maar die groot stelers loop vry rond.

Elize ·

1.5 miljoen is kleingeld teen hierdie ander stelers. Hulle hou ons aandag weg van die groot visse terwyl die klein vissies bygekom word. Siek

Swerwer ·

Hoe op aarde daal ons landsburgers nou al tot op die Kader vlak.

Miena ·

Ek kan iets nie kleinkry nie – kan iemand asb vir my verduidelik: R5000-00 borg vir bedrog (in hierdie saak) , maar R1000-00 borg vir verkragting / moord in ander sake??? Hoe de maer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.