Oud-Eskom-werker van bedrog, korrupsie by Tutuka verdink

Die Tutuka-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

ʼn Voormalige korttermyn-kontrakwerker by Eskom se Tutuka-kragstasie is Woensdag in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en korrupsie.

Zandile Rosemary Ngcobo, wat as ʼn aanskaffingsbeampte gewerk het, het dieselfde dag in die Standerton-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R5 000.

Eskom het in ʼn verklaring gesê Ngcobo het na bewering met twee Eskom-werknemers en ʼn verskaffer saamgespan om ʼn vraghouer teen ʼn verhoogde prys van R939 550 aan te skaf. Die vraghouer is op die perseel afgelaai, maar het nie aan die nodige vereistes voldoen nie. Die waarde was boonop slegs ongeveer R20 000. Eskom het dus ʼn verlies van R919 550 gely.

Ngcobo het Donderdag weer in die hof verskyn, dié keer saam met medebeskuldigde Jessie Phindile Kubeka (aandeelhouer van ʼn Eskom-verskaffingsmaatskappy genaamd Mnandi (Pty) Ltd), Eskom-werknemers Sarah Nomsa Sibiya (senior tegnikus) en Bhekizizwe Solomon Twala (senior stoorwerker). Hulle het in die Middelburg-handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie.

Die saak is tot 8 Junie 2023 uitgestel.

“Eskom sal voortgaan om die vereiste ondersteuning te bied aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag om seker te maak die verdagtes word suksesvol vervolg en dat ʼn swaar straf opgelê word om ander voornemende misdadigers af te skrik.”

Die kragvoorsiener sê dié inhegtenisnemings dui op Eskom se strewe om seker te maak dat alle oortreders vervolg word met ʼn zero-toleransie vir misdaad.

Die publiek word versoek om enige inligting oor die diefstal van steenkool, brandstofolie, diesel, infrastruktuur en enige ander bedrog by Eskom aan te meld by 0800 112 722.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Hierdie is die klein vissies, gaan haal die groottes uit waarvan André de Ruyter gepraat het!

Yvonne ·

Asof die een swaeltjie die somer gaan maak…..te bang vir die mafia wat wat heerlik funksioneer

Di ·

En al die R939 550 maak op die einde BILJOENE! Daar is HORDES in ESKOM wat korrupsie pleeg daarom is sit ons met hierdie krag dilemma waaronder ons almal moet ly. Wie moet on bedank? ANC skelms

Benn ·

En die grootkoppe in die kabinet…wanneer word hulle gearresteer????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.