ʼn Voormalige skoolhoof van ʼn private skool in Limpopo wat in hegtenis geneem is vir die beweerde verkragting van ʼn 15-jarige meisie, het Dinsdag in die hof verskyn.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die 59-jarige verdagte, ʼn voormalige skoolhoof van ʼn private skool in Nkowankowa, het in die Lenyenye-landdroshof verskyn. “Verrigtinge is tot Woensdag uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog gaan aansoek doen,” het Ngoepe gesê. Die man bly in aanhouding.
Maroela Media het vroeër berig die beweerde verkragting het glo Woensdag by die Lorraine-nedersetting in die Sekororo-gebied, suidwes van Tzaneen, plaasgevind.
“Daar word beweer dat die verdagte die meisie na die skoolterrein ontbied het en gesê het hy het vir haar ʼn boodskap. Hy het haar daarna na sy huis geneem en glo verkrag toe hulle daar aangekom het,” het Ngoepe gesê.
Die slagoffer het ʼn saak van verkragting by die polisie aanhangig gemaak en die verdagte het homself daarna aan die polisie oorgegee.
Die man het Maandagmiddag vir die eerste keer in die hof verskyn. Sy naam mag nie genoem word alvorens hy gepleit het nie.
Dit is die drek van die samelewing waarna Regter Jansen verwys het en haar werk verloor het. Los sulke misdadigers agter tralies indien die Staat ‘n sterk saak het, selfs terwyl hulle verhoorafwagtend is en gee hom ‘n paar ou Huisgenote sodat hy homself dood kan verveel.
Adam jy vat nou die woorde so uit my mond uit. Gee die hoof asb borg sodat die gemeenskap hom gou kan uitsorteer.