Pa gevonnis oor moord op dogter

(Argieffoto: Kent Williamson)

Fezile Ndube (26) is Woensdag in ʼn hof in die Vrystaat skuldig bevind en gevonnis vir die moord op sy sesjarige dogter en poging tot moord op sy tweejarige seun.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê Ndube is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy dogter en 12 jaar vir die poging tot moord op sy seun. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

“Ndube het op 9 Julie 2019 om 07:45 met sy meisie, die ma van sy kinders, baklei. Die vrou is toe na haar ouerhuis. Ndube het ook na die vrou se ouerhuis toe gegaan en geëis dat hulle hul probleme moet oplos, maar die vrou het aangevoer sy is reeds laat vir werk,” het Makhele gesê.

Ndube het toe die ouma voorgekeer wat reeds met die kinders op pad was kleuterskool toe. Hy het gesê die ouma moet die kinders vir hom gee en hy sal hulle self kleuterskool toe vat. “Weens haar moederlike instink en die manier hoe die beskuldigde daar weg is, was sy agterdogtig en het besluit om hom te agtervolg. In plaas daarvan om kleuterskool toe te gaan, is Ndube na die plakkershuis in Namibia Square, Bloemfontein, waar die gesin gewoon het. Hy het homself en die kinders in die huis toegesluit. Die ouma het gesê sy kon hoor hoe die kinders huil en het die beskuldigde se tannie ontbied wat die deur van die plakkershuis oopgebreek het,” het Makhele verduidelik.

Die ouma het intussen reeds die polisie ontbied.

“ʼn Polisiebeampte, wat in dieselfde straat woon, het bystand verleen, maar een van die kinders, Kgauhelo Mathe (6), het reeds aan haar beserings beswyk ná haar pa haar keel met ʼn slagtersmes afgesny het. Die tweejarige Ayanda Mathe se nek was ook gesny, maar hy het nog geleef.”

Ndube wou sy eie lewe neem en het homself met ʼn skoenveter opgehang, maar die polisie het betyds opgedaag en hom in hegtenis geneem.

“Hy is op 9 Julie 2019 in hegtenis geneem en het tereg gestaan op aanklag van moord en poging tot moord. Hy is sedert sy skuldigbevinding en vonnisoplegging in aanhouding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.