Pa gevonnis vir dogter se verkragting

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn 50-jarige man is swaar gestraf nadat hy skuldig bevind is aan verskeie aanklagte van verkragting, wat die seksuele aanranding van sy biologiese dogter insluit.

Die man het Woensdag in die Brandvlei-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn waar hy altesaam 40 jaar tronkstraf opgelê is.

Dié vonnis volg nadat die beskuldigde reeds in 2013 ʼn verhouding met ʼn 14-jarige meisie aangeknoop het.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê die jong meisie het tydens hul verhouding ingestem om met die man omgang te hê. Hy het egter vinnig besitlik geword en toe sy later geweier het om saam met hom te slaap, het hy haar verkrag.

Die statutêre verkragting is by die polisie aangemeld, hy is in hegtenis geneem en sy aansoek om borgtog is destyds suksesvol afgekeur.

“Die slagoffer het egter in 2015 die Brandvlei-omgewing verlaat sonder om in verbinding te bly met die ondersoekbeampte in die saak,” sê Senokoatsane.

“Die saak is daarna teruggetrek en die beskuldigde is vrygelaat.”

Die man het kort ná sy vrylating daardie selfde jaar sy biologiese dogter, wat in daardie stadium maar net agt jaar oud was, verkrag. Die verkragting het geredelik tussen 2015 en 2021 plaasgevind.

Die kind se ma het van die verkragting bewus geraak en haar man by die polisie aangegee. Dít nadat die kind genoem het dat sy by verskeie geleenthede deur haar pa verkrag is.

Hoewel hy haar gedreig het om niemand oor die verkragting te vertel nie, is ʼn saak aanhangig gemaak en hy is in hegtenis geneem.

Nadat hy vir die tweede keer vir verkragting in hegtenis geneem is, het die slagoffer van die eerste saak in 2013 die staatsaanklaer genader en haar oorspronklike saak is heropen.

Die staatsaanklaer, Solly John Sass, het by die hof gepleit om die maksimum vonnis aan die beskuldigde op te lê.

Die landdros het hom gevolglik tien jaar tronkstraf opgelê vir statutêre verkragting en 40 jaar elk vir die vier klagte van verkragting.

Die vonnisse sal egter gelyklopend uitgedien word, dus sal hy altesaam 40 jaar uitdien.

“Die staat is tevrede met die vonnisse wat deur die hof opgelê is. Ons hoop dat hierdie vonnisse die regte boodskap aan die gemeenskap sal stuur dat misdade teen vroue en kinders nie geduld sal word nie,” het Sass gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miskruier ·

Die bybel beveel die doodstraf aan vir die sielsiek daad.

Nico ·

Hy gaan net vir ‘n paar jaar sit, kom hy uit dan gaan hy dit weer doen. Dit is swak en pateties hoe die howe te werk gaan. Daar is gans te min behoorlike landdroste en regters, baie keer word daar vuilspel gespeel.

KatjieDeKat ·

En ek hoop hy sit in die tronk vir elke Minuut van daardie 40 jaar.

madels ·

Hoe erg dat die vuilgoed vrygelaat was net om weer so n gruwelike daar teen sy eie kind te pleeg!!! Ons regstelsel moet ook boet vir hierdie kriminele daad. Hoe verskriklik om te dink jou eie pa wat jou moet liefhê en koester doen so n verskriklike ding! Daai kind is geskaad vir altyd. So bly hy gaan laaaaank sit !

melaney ·

Sy straf klink bevredigend. Wat van die 22 jaar straf wat onlangs aan die twee mans gegee is vir die koelbloedige moord op die twee vrouens? Maak glad nie sin nie.

Kokerboom ·

Dis tyd dat Me Sisulu se voorstel ge-implementeer word!

Swerwer ·

En hul laat hom waaragtig weer uit die tronk na hy ‘n minderjarige verkrag het? Waar in jou lewe kan ‘n 14jarige in ‘n verhouding wees met ‘n man soveel ouer as sy.. Waar is die ouers van daardie kind? Die ouers van daardie minderjarige kind behoort ook gestraf te word. Hoor niks dat sy naam in die sogenaamde register aangesteken is nie.

Maritza ·

Die ma het geweet hy was aangekla oor die verkragting van ‘n 14 jarige maar nog steeds hom saam sy eie dogter toe gelaat???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.