PA-president bedank as burgemeester ‘soos belowe’

Gayton McKenzie, president van die Patriotiese Alliansie (PA) (Foto: Gayton McKenzie/Facebook)

Gayton McKenzie, president van die Patriotiese Alliansie (PA), het onderneem om ná een jaar te bedank as burgemeester van die Sentrale-Karoo-distrik.

Dit is vandag een jaar sedert hy as burgemeester ingehuldig is en hy het sy bedanking ingedien soos belowe sodat hy op die verkiesing vir 2024 kan fokus.

“Die belangrikste dink wat enige politikus aan die einde van hul ampstermyn moet beantwoord, is of die mense beter daaraan toe is as wat ek hulle gekry het. Ek glo my antwoord is ʼn klinkende ja,” het McKenzie tydens sy bedankingsrede in die stadsraad gesê. “Ek het mense gekry wat al dekades lank emmertoilette moet gebruik. Vandag gebruik niemand meer emmertoilette nie. Mense het die veld gebruik, en vandag gebruik hulle spoeltoilette.

“Ek het ses gebreekte swembaddens gekry wat in ʼn haglike toestand was. Onder my leierskap is vyf van dié swembaddens nou weer in ʼn werkende toestand en die kinders kon swem en hulle sal vanjaar weer kan swem.

“Ek het inwoners in Leeu-Gamka gekry wat vuil water uit asbestenks gedrink het wat deur gevrekte diere besmet is. Dit was al dekades lank die geval, maar vandag het hulle skoon drinkwater uit ʼn moderne tenk met krane wat op elke erf geïnstalleer is,” het McKenzie gesê.

Hy het ook sy dankbaarheid uitgespreek vir die geleenthede wat hy kon raaksien waar ander net verval en misbruik gesien het.

“Die verlate Transnet-geboue word vandag gebruik om die ekonomie aan te help en werk te skep deur die vervaardiging van klere, asfalt, aluminium-infrastruktuur, ʼn bakkery, herwinning van gebruikte olie, paneelkloppery, ingenieurswerke en meer.”

Hy het gesê hy is trots op die bydrae wat hy kon lewe om mense te help om hulself en hul gemeenskap te kan help.

McKenzie sê hy is ook trots op die ferm greep wat toegepas is op administrateurs wat nie die munisipaliteit eerste gestel het nie. “Daar is vandag geld in die bank en ons betaal maandeliks R10 miljoen vir ons Eskom-skuld. Die skuldinsamelingskoers het verbeter van tussen 40% en 50% tot meer as 70% en dit verbeter steeds. Daar is nog baie wat gedoen moet word, maar daar is nou ʼn goeie basis om op te werk.”

McKenzie het aangedui dat hy nie al sy doelwitte bereik het wat hy graag wou nie, en sal as ʼn gewone vrywilliger steeds voortgaan om seker te maak alles word gedoen wat hy die inwoners belowe het.

“Ek wil graag die personeel, ons koalisievennote, die ANC en Karoo Democratic Force (KDF), en die party waaraan ek behoort, die Patriotiese Alliansie, bedank. Ek sê ook dankie dat die opposisie ons deurgaans op ons tone gehou het.”

Volgens McKenzie het hy nie enige salaris getrek of enige voordele gebruik nie. “Ek het vir my eie lyfwagte, reis en akkommodasie betaal. Ek het my salaris aan die gemeenskap geskenk. Al die oplossings vir emmertoilette, swembaddens, watertoevoer en meer is gedoen met privaat geld wat ons deur fondsinsamelings bekom het. Dit is ʼn bewys dat dit moontlik is om wonderlike te doen sonder die tipe begrotings waarvoor beamptes skaamteloos vra. Mens moet net doeltreffend werk en nie geld verloor weens korrupsie nie.

“Ek het hierheen gekom om die Karoo ʼn beter plek te maak, maar in die proses, kan ek nederig erken, is dit die Karoo wat my ʼn beter mens gemaak het.”

Ander partye is egter nie so seker oor McKenzie, ʼn veroordeelde oud-bankrower, se triomfantelike verklarings nie. Die DA, Good en die SAKP het reeds versoek dat McKenzie se termyn ondersoek word. Volgens Good het McKenzie talle projekte nooit klaargemaak nie en het ook versoek dat die fondsinsamelingsprojekte ondersoek moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Louise ·

Gayton McKenzie het ‘n opgeblaasde ego. Van al sogenaamde projekte wat hy geïnisieer het het daar dadels van gekom. Die Spoornet geboue wat kamtig aangewend is vir die doodgebore projekte word weekliks gestroop van inhoud want dit staan toe. Die klerevervaardigings fabriek staan toe. Die personeel het 1 dag opleiding gehad en wag nog vir betaling.
Hy het heelwat besighede die harnas ingejaag toe hy links en regs sommer krag gesny en deure “toegemaak” het “onwettige” buitelanders se besighede. In dieselfde asem het hy gedreig om buitelanders te verdryf. Sy grootste prestasie is seker die swmbaddens wat almal toe was tydens die somer en dan gebruik word vir PA partytjies terwyl die dorpskinders in die dam buite die dorp speel. Totaal uit voeling met realiteit.

Cherokee ·

Indien jy meer weet as Louise, sou jy verduidelik het waarom jy verskil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Inteendeel, klink of sy weet waarvan sy praat.

Althes ·

Die PA het wittes uitgesluit op sy embleem. Net nog ñ ANC lite

Louise ·

@ Jac , Gayton McKenzie is bedrywig in ons gemeenskap. Dinge het weinig verander , en as ek praat van verandering meen ek dinge het nie verander vir die mense wat dit WERKLIK nodig het en verandering wat saakmaak. En die inligting is bekend , dit is gepubliseer in ons plaaslike koerant en McKenzie moes woorde sluk en onwettige aksies ongedaan maak.
Hy is niks meer besonders as enige van die ander “smoke en mirror” politici nie. Talk is cheap, money buys the whiskey.

Lillian ·

Dankie, jyt bewys dat dinge in ons land kan verbeter onder die regte beheer en nie vir eie gewin nie. Dié wat so kla, is seker maar jaloers op jou suksesse.

Harley Davidson ·

Die man sê en doen die dinge wat gedoen moet word om die land reg te ruk en n beter plek te maak ,maar ondervinding het bewys dat meeste politieke leiers hulle eie agenda najaag so tyd sal leer .Hy het definitief ‘n goeie begin gehad.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Regte Afrika “war lord” waarom alles draai.

Hennie ·

Gayton is n uitsondering… Krimineel wat n politikus geword het. Gewoonlik is dit mos anders om, nê ANC!

Jacobus ·

Nee jy is verkeerd 80% persent van die kabinet was n klomp terroriste wat op Robbeneiland aangehou was vir terrorisme en deur FW de Klerk vrygelaat is om SA te regeer. Die ANC is niks minder as n korrupte skelm misdaad bende nie wat vergeet het van SA se inwoners en net vir hul eie sakke sorg.

Papsak ·

Ja dinge kan verbeter onder regte bestuur ek stem maar op die oomblik nee kan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.