Pa probeer kleuter glo vermoor

(Foto: SA Polisie)

’n Voorval van huishoudelike geweld het Sondag byna die lewe van ’n driejarige seuntjie geëis nadat sy pa (29) glo sy keel in ʼn woede-uitbarsting probeer afsny het. Die voorval het in Msholozi in KwaMhlanga, Mpumalanga, plaasgevind.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die seuntjie se ouers – wat nie meer in ’n verhouding is nie – het in ’n stryery betrokke geraak waartydens die pa glo die kind uit sy ma se arms gegryp het.

Hy het toe met dié seuntjie na ’n sinkhuis gehardloop en na bewering sy keel gesny.

Volgens Mdhluli het die ma, wat voorheen ʼn beskermingsbevel teen die man verkry het, die polisie dadelik ontbied en ingelig dat die man die kind “met geweld” gevat het.

Die polisie het die man in die sinkhuis opgespoor, maar hy het gevlug toe hy die polisie gewaar en die kind agtergelaat.

“By nadere ondersoek het die polisie gesien dat die kind ʼn besering aan sy nek het. Hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het.

“Intussen het die polisie hulle soektog verskerp en die man eindelik in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Donderdag in die KwaMhlanga-landdroshof op aanklagte van poging tot moord verskyn.”

Mdhluli sê nog klagtes kan moontlik teen die man aanhangig gemaak word, insluitend die oortreding van ’n beskermingsbevel.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die gewelddadige gedrag teenoor die kind ten sterkste veroordeel.

“Dit is ’n skande dat ’n pa na bewering so iets teenoor sy eie vlees en bloed kon doen. Ons is bekommerd oor die voorbeeld wat daar vir ons kinders gestel word. Ouers mag nooit hul kinders mishandel deur hulle as ʼn skild of wapen tydens huishoudelike voorvalle te gebruik nie. Ons hoop die hof sal na behore optree teen oortreders wat geweld teenoor kwesbare groepe pleeg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

TRP ·

Hoe ver weg van die werklikheid moet jy wees om so iets aan ‘n kind te doen, laat staan nog jou eie vlees en bloed. Sterkte vir die kleintjie, om met daardie merk te loop vir die res van jou lewe, jou herhinner, ons kan net bid.

Christine ·

En hoe ver van menslikheid moet mens wees om dit aan ‘n kind te doen. As dít is wat mense aan hul eie kinders doen, kan jy dink wat voel hulle vir hul medemens in die algemeen? Net mooi niks.

QueenB ·

Ons het regtig nodig dat ons moet bid sonder ophou ons het Jesus nodig in die land

Oujongvrou ·

Psigopate wat tussen ons woon. Sielsdooie skepsels uit die hel. Maar ons moet net glo ons God gaan ons verlos van hierdie hel om ons. Vasstaan en bid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.